DIE HOLLANDSE TAALBEWEGING IN SUID-AFRIKA
Na die koersverandering van SJ du Toit het Afrikaans die koeranttaal geword waarin die republieke se saak veroordeel is, en wel deur die Patriot. Die Afrikanersaak is in Hollands gestel deur blaaie soos De Volksstem in Pretoria, De Express in Bloemfontein en Ons Land in Kaapstad. Laasgenoemde is in 1892 gestig en het die steun van JH “Onze Jan” Hofmeyr geniet. In 1894 het dit geamalgameer met die kwynende Zuid-Afrikaan. Die volledige titel was De Zuid-Afrikaan vereenigd met Ons Land, maar die algemene naam Ons Land. Sy redakteur was die jong FS (Frans) Malan. Kort nadat Malan in 1895 na sy studie in die regte in Engeland na die Kaapkolonie teruggekeer het, het SJ du Toit hom gevra om ’n tyd lank as redakteur van die Patriot op te tree. Skaars het hy dié werk begin doen, of Hofmeyr bied hom die redakteurskap van Ons Land aan. Hy was beïndruk deur Malan se boek oor die wynbedryf asook ’n reeks van twintig stukke in Afrikaans oor ’n besoek aan Chicago wat van 12 September 1893 af in die Patriot verskyn het.
Die republieke het ná die Jameson-inval maatreëls teen verengelsing verskerp. Pres. Steyn het offisiële korrespondensie van die Vrystaat met Natal en die Kaapkolonie in Nederlands pleks van Engels gevoer. Staatsdepartemente soos dié van telegrafie, poswese en spoorweë is noukeurig dopgehou, en by aanstellings is voorkeur gegee aan Afrikaners. Kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is ’n wetsontwerp aangeneem wat aan Hollands ’n groter plek in die Vrystaatse onderwys gegee het. CR de Wet, die latere generaal, het op 13 April 1897 gesê dat die verwaarlosing van ’n taal die onafhanklikheid van ’n nasie ondermyn. In Transvaal het die Jameson-inval die teenstanders van die agitasie vir meer Engels op skool gesterk.
In die Kaapkolonie het Hollands sedert 1882 ’n paar winste behaal weens die groter taalgevoel. Op 1 November 1890 is die Zuid-Afrikaansche Taalbond gestig, wat hom vir die “volkstaal” sou beywer. Met 47 teenoor 36 is besluit ten gunste van Hollands in plaas van Afrikaans. Die eerste voorsitter was prof. PJG de Vos en die eerste sekretaris prof. N Mansvelt, wat in 1891 Transvaal toe is as superintendent-generaal van onderwys. Van 1896 af het die Taalbond eksamens in Suid-Afrikaanse geskiedenis en Hollands afgeneem. As mondstukke van die Bond het gedien Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift, Jong Zuid-Afrika en Ons Tijdschrift. Ook Ons Land het baie publisiteit aan die Taalbond gegee. Die Hollandse beweging is veral gesteun deur die geleerdes soos predikante.
Die Hollandse beweging het ook ’n eie volkslied voorgestaan in die plek van die Britse “God save the King” of “Queen” wat deur die Afrikaanse en Hollandse deel van die Kaapkolonie beskou is as ’n vreemde simbool, wat op hulle afgedwing is. Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift het in 1878 ’n “Zuid Afrikaansche Volkslied” geplaas. Dit was ’n aanpassing van “Wien Neêrlands bloed in d’adren vloeit, van reemde smetten vrij” (wat sedert 1817 die volkslied van Nederland was). Hierdie lied het die “Wilhelmus” opgevolg wat ook in Suid-Afrika gewild was. (Die “Wilhelmus” het in 1932 weer die Nederlandse volkslied geword.)
In Nederland het baie mense prof. Jan te Winkel se houding teenoor Afrikaans as kultuurtaal in mindere of meerdere mate gedeel. Te Winkel het die “Patriottenpartij” gevra om nie ’n taal in te voer wat in niks anders sy krag kon soek nie, “as in die gemaksug van die mins ontwikkeldes onder die boere”. Waarop ’n ander bekende Nederlandse taalkundige, DC Hesseling, verontwaardig geantwoord het: “Hoe kan mens so iets sê van die waaragtige taal van ’n volk!”
Hesseling het in 1897 in De Gids, wat in Nederland uitgegee is, hom heel profeties oor Nederlands in Suid-Afrika uitgelaat. Hy het gesê dat hy dit nie as moontlik beskou dat ’n skryftaal wat van buite aangevoer is en deur ’n kloof van twee eeue van die spreektaal geskei is, ooit die voertuig kan word van ’n nasionale letterkunde nie – iets wat die enigste bolwerk is teen die mag van Engels wat al hoe meer veld win.