4 MEI – DIE PATRIOT STEUN DIE TRANSVALERS

Dit was veral die Patriot wat die groot voorvegter vir die Transvaalse saak geword het. Die blad het al hoe gewilder geword. Volgens ds. SJ du Toit het die Afrikaners ’n “onbepaalde vertrouwe” in die Patriot gehad. Hulle het moeite gedoen om dit in die hande te kry en op vergaderings is “di Patriot voorgeleg en geraadpleeg en meesal gevolg”. Daarby het die Patriot heel knap die gevoelens oor die anneksasie gebruik om ook die saak van Afrikaans te bevorder.

So gee die Patriot op 23 Augustus 1878 aan sy lesers die waarskuwing: “Transvalers, pas op! en denk na!!”. Dit gaan oor ’n besoek wat die Kaapse goewerneur, sir Bartle Frere, aan Transvaal sou bring, vergesel deur ’n tolk, ds. Stegmann van die Kaap. Stegmann mag wel goed en vroom wees, skryf die Patriot, maar “dat hy ’n aanbidder is van al wat Engels is, is algemeen bekend.” Hy het alles in sy vermoë gedoen om sy gemeente Engels te maak “deur Engels te preek, Engelse Katgesasie, Nagmaal ens. te hou”. Geen wonder dat hy so gou klaar is om saam te gaan nie. “Hy kan die Engelse regering ’n grote diens doen as hy kan help om die Transvaal Engels te maak.” Die Patriot sê die Transvalers moet onthou dis onder protes dat hulle die Engelse bestuur in Transvaal verdra.

Op 30 Mei 1878 skryf die Patriot sarkasties oor wat Frere met sy besoek aan Transvaal te sê gehad het oor die vryhede in die Kolonie. “Onder die grote vryheid is seker begrepe, dat ons kinders vollens wet in Engels moet geleer worde; dat in ons Parlement ons eie taal nie mag gesproke worde; dat ons nie eens ’n telegram in ons eie taal kan afstuur nie.”

Hoe meer gespanne die politieke toestand geraak het, hoe meer lesers wou die Patriot se stem hoor. Die Patriot het die dinge geskryf wat die Afrikaners gedink en gevoel het maar ook raad gegee. “Transvalers pas op!”, waarsku die Patriot op 17 Jannewari 1879. “As julle eenmaal die pad van versoening ingeslaan het, sal julle op laas wel alles kwyt wees.” Op 14 Fewerwari 1879 het die Patriot die Transvalers nog aangeraai om nie te veg nie. “Met lydelik verset sal julle veeleer julle doel bereik.”

Nadat 6000 burgers op die Dingaansdagfees van 1879 te Wonderfontein naby Potchefstroom vergader en ’n reeks drastiese besluite geneem het, het die Patriot op 16 Januarie 1880 herhaal: “Moe nie skiet nie; blyf by lydelik verset.”

Maar toe dit blyk dat die Transvalers nie hul onafhanklikheid deur onderhandelinge gaan terugkry nie, het die Patriot op 8 Oktober 1880 nuwe raad gegee. “Ons het nog altoos geseg lydelik verset. Mar nou nie langer nie. Lydelik verset word nou ydelik verset.” Oorlog het hy altyd afgeraai, skryf die blad, en hy kan, wil en mag dit ook nie aanraai nie. “En tog vrees ons dat dit daartoe sal kom, al word die kwaje dag oek weer met ’n Deputatie verskuiwe.” Op bedekte wyse het die blad dus gewapende verset voorgestaan. So het die Transvalers dit ook begryp. Toe genl. Nicolaas Smit dit lees, vertel hy in 1883, het hy dadelik gesê: “Kinders, maak julle gewere gereed; nou is die tyd om te skiet!”