4 MEI
GEBEURE
1842 – Britte annekseer Natalia
Nadat die Trekkers Dingaan verslaan het, begin hulle ’n regering organiseer in Natal. Die Britte in die Kaap beskou hulle nog as Britse onderdane en as onderhewig aan die “Cape of Good Hope Punishment Act”. In Desember 1838 heet maj. Charters in Durban geland en probeer om vrede tussen Dingaan, die Volksraad en die Britte te bewerkstellig. Die pogings misluk en die Britte ontruim Natal in Desember 1839.
Die Volksraad van die Republiek Natalia, wat uit 24 verkose lede bestaan het, kry nou meer gesag. Die voorsitter of President is tydens elke sitting verkies. Die militêre mag staan onder leiding van die kommandant-generaal. Die uitvoerende gesag was ondoeltreffend, omdat daar nie genoeg kundiges tussen die Trekkers was nie. Wetstoepassing was die verantwoordelikheid van die landdroste en heemrade in die veldkornetskappe.
In 1840 is besluit om saam met die Potgietergroep in Wes-Transvaal ’n Verenigde Voortrekker-republiek tot stand te bring. Die Natalse Volksraad sou die gesagsliggaam wees en ’n adjunkraad van twaalf lede word in Potchefstroom onder leiding van Potgieter gevestig. Heelwat van die inheemse bevolking, wat erg ontwrig is deur die gebeure in Natal en die Oos-Kaap, stroom die Republiek van Natalia in die suide binne.
In 1841 word besluit om ‘n reservaat op die suidgrens van Natalia vir die inheemse bevolking daar te stel. Dit het verhoudinge met die Kaapse regering belemmer. Kapt. TC Smith word na Natal gestuur en op 4 Mei word Natal deur die Britte geannekseer. Die Slag van Congella vind plaas en op 15 Julie 1842 besluit die Volksraad om hulle aan die Britte te onderwerp, maar bestaan nog voort tot in Oktober 1845. In Desember 1845 stel die Britte ’n nuwe regering in Natal in.
1860 – Oranje-Vrystaat teken vredesverdrag
Die Oranje-Vrystaat teken ’n vredesverdrag na die eerste Basoeto-oorlog met Mosjesj in Wittebergen, naby Winburg.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Gevegte by Tabaksberg en Baviaansberg (Roelofsberg), OVS
1978 – Suid-Afrikaanse Grensoorlog: Die veldslag by Cassinga in Angola begin
Suid-Afrika se tweede militêre aanval op Swapo-kampe in Angola, Operasie Reindeer, het op 4 Mei 1978 op Cassinga begin. Dit was die eerste lugaanval in die Grensoorlog, met beskuldigings wat steeds gemaak word dat Cassinga ’n vlugtelingkamp was, eerder as ’n militêre opleidingskamp. Volgens die Angolese regering se amptelike verslag was daar slegs 12 soldate onder die 159 mans, 167 vroue en 298 kinders wat omgekom het. Buitelandse korrespondente het later gesê dat die slagoffers in twee massagrafte begrawe is. Die Waarheids-en-Versoeningskommissie het op sy beurt bevind dat die getalle nie geloofbaar is nie en dat die 12 soldate waarskynlik dui op regeringsoldate. Aanvalle is tydens Reindeer ook op Chetequera (bekend as Vietnam) gedoen waar meer as 300 mense dood en tussen 200 en 300 gevange geneem is. Volgens die WVK het sowat 1200 Angolese, Namibiërs, Kubane en Suid-Afrikaners daardie dag by Cassinga en Chetequera omgekom en is meer as 600 gewond. Die WVK het ook bevind dat die SAW volgens foto’s en ander dokumente nie anders kon, as om te glo dat Cassinga ’n PLAN-opleidingskamp en dus ’n militêre teiken was nie. Die kommissie het wel bevind dat Operasie Reindeer ’n skending was van Angola se soewereiniteit wat gelei het tot menseregteskendings op die inwoners van Cassinga. Cassingadag is ’n openbare vakansiedag in Namibië.
GEBOORTES
1903 – Hendrik Susan, Boeremusiek-baanbreker, orkesleier en violis († 26 April 1963)
Violis en leier van sy eie Boere-orkes. Die instelling van ’n Afrikaanse radiodiens en die opstuwing van volksgevoel wat die Voortrekkereeufeesvierings veroorsaak het, het die behoefte aan ’n eiesoortige musiek skerp laat toeneem. Die musiek wat op die plase en dorpe gemaak is, met ’n sterk eie kleur en ’n algemene styl en klankpatroon, was die vanselfsprekende bron. Hendrik Susan was daardie tyd in sy fleur; hy was ’n vaardige musikant en ’n leierpersoonlikheid wat deurdrenk was met die idioom van hierdie musiek. Hy het die standaard van die spel opgehef, ou melodieë opgediep, jong komponiste aangemoedig om nuwe melodieë te maak en die aanbiedingstyl verbeter. Met sy vaderlike goedhartigheid het hy jong musikante in sy orkes opgelei en hulle sonder afguns of argwaan vry gelaat om hulle eie orkeste te stig. So het hy vader gestaan vir ’n hele beweging wat ’n grondslag vir ’n ontwikkelende ligte musiek met ’n eie kleur daargestel het. Sy invloed duur voort. Hy is op 26 April 1963 oorlede.
1903 – Louise Behrens, vroue-joernalis en skryfster († 18 Januarie 1994)
Louise Behrens, ’n Vrystater van geboorte, is een van die eerste Afrikaanse vroue-joernaliste. Sy het verskeie redaksionele betrekkings by Die Volkstem, Die Vaderland en The Pretoria News beklee. Sy is ook die skryfster van verskeie romans, o.m. Die verwaaide vlam en Die verminkte jare.
1914 – Hilgard Muller, ’n Suid-Afrikaanse politikus van die Nasionale Party, burgemeester van Pretoria, verkose lid van die parlement in 1958 en minister van buitelandse sake († 10 Julie 1985)
Hilgard Muller was ’n politikus van die Nasionale Party, burgemeester van Pretoria (1953-1955), verkose lid van die parlement in 1958 en aangestelde minister van buitelandse sake na die aftrede van Eric Louw in 1964. Hy het afstand gedoen van beide poste in 1977.
1925 – Peter Emil Julius (Peter) Blum, omstrede digter († 5 Desember 1990)
Peter Blum was ’n omstrede digter. Hy is weens sy teenkanting teen die destydse beleid van apartheid twee keer Suid-Afrikaanse burgerskap geweier.
STERFTES
1868 – Willem Hendrik Jacobsz, landdros, volksraadlid en mede-ondertekenaar van die Sandrivierkonvensie (* 27 Januarie 1804)
Willem Hendrik Jacobsz, wat op George gebore is en op 4 Mei 1868 op Middelburg, Transvaal, oorlede is, was ’n vurige republikein, onversetlike demokraat en Voortrekker uit Graaff-Reinet. Hy het as landdros van Weenen (1842–1843) en van Winburg (1847–1848), Volksraadslid in Oorvaal (1848–1853) en ondertekenaar van die Sandrivier-konvensie ’n belangrike rol in die eenheids- en vryheidstrewe van die Voortrekkers op die Hoëveld gespeel.
1949 – Hendrik Adolph Mulder (Willem Hessels), digter, dosent en literêre kritikus (* 19 Julie 1906)
Hendrik Adolph Mulder is in Zaamlag, Holland, gebore. Sy pa was ’n predikant. Hy het in Amsterdam gestudeer en het in 1934 om gesondheidsredes na Suid-Afrika geëmigreer. Hy het in 1938 die graad MA in die letterkunde aan die Universiteit van Pretoria behaal. Nadat hy ’n tyd lank joernalis en vertaler was, het hy in 1941 dosent in Nederlandse kultuurgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria geword. Hy was van 1946 tot sy dood op 3 Mei 1949 dosent in Nederlands aan Rhodes-Universiteit. Hy is veral bekend as die eerste werklike literêre kritikus in Suid-Afrika, hoewel hy ook enkele digbundels die lig laat sien het. Mulder het veral in die jare dertig en veertig ’n bydrae tot die uitbou van die Afrikaanse letterkunde gelewer. Hy was medestigter van die literêre tydskrif Standpunte.
1998 – Worsie Visser, Afrikaanse sanger (* 3 September 1963)
2022 – Fred Mouton, spotprenttekenaar (* 27 Augustus 1947)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
https://af.wikipedia.org/wiki/
Frikkie Wallis Facebook