WORSIE VISSER (1962-1998)
Dis moeilik om te glo dat ’n kunstenaar wie se musiek deur die SAUK verbied is, so ’n groot invloed op Afrikaanse musiek kon hê, maar dit is presies wat Worsie Visser reggekry het.
Hermias Cornelis (Worsie) Visser is op 3 September 1962 op Vredendal gebore. Sy pa was ’n skaap- en koringboer op ’n plaas naby Nuwerus, en Worsie het die tromme in ’n skoolorkes bespeel. In 1980 het hy gematrikuleer, waarna hy in die onderwys gestudeer het. Nadat hy ’n tyd lank skoolgehou het, het hy hom by die polisie aangesluit. Hy was verbonde aan die polisiekantoor op Nuwerus totdat hy in 1986 sy eie platemaatskappy gestig en begin sing het.
In 1987 het sy eerste langspeelplaat, getiteld Dis my kontrei, verskyn, en veral “Boesmanland” was ’n groot treffer. Ander snitte wat gewild geword het, was “Strandfontein”, “Vat my hand” en “My kontrei”. Sy volgende album, My hart is daar, is die volgende jaar uitgereik, en hy het die titelsnit aan die dorp Bitterfontein, waar hy jaarliks opgetree het, opgedra.
Worsie het nie omstredenheid vrygespring nie. In 1990 het Afrikaans Stereo (vandag Radio Sonder Grense) ’n algehele speelverbod op sy musiek ingestel, aangesien dit, volgens dié radiostasie, nie goed genoeg vir die radio was nie. Die mense van die Weskus, waar hy uiters gewild was, het teruggekap en gesê: “Worsie is die mees onderskatte sanger in Suid-Afrika.” Dit het verder beteken dat sy musiek al hoe gewilder geword het, want mense wou weet hoe sy musiek geklink het en daarom het hulle al hoe meer van sy plate en CD’s gekoop. Hulle het nie saamgestem met diegene wat gedink het Worsie kon nie sing nie, en hulle het geweier om hulle te laat voorskryf oor die musiek waarna hulle oor die radio kon luister.
Dit was juis die eenvoud van sy musiek wat mense so aangegryp het; hulle het sy musiek as komies beskou, en volgens hulle het hy meer as enigiemand anders gedoen om Afrikaanse musiek in die Namakwaland te bevorder. Só het hy die album Weskus makietie, op sy eie onkoste saamgestel en kunstenaars van daardie gebied die geleentheid gegee om gehoor te word. Hy het die Kilpwerf-Orkes, wat toe al jare lank bestaan het, ontdek en hul gewildheid het self al hoe meer toegeneem. Hy was self verantwoordelik vir die regie van al sy albums en hy het sy broer, Michiel, gehelp om twee kitaaralbums uit te reik. Michiel was ook die kitaarspeler in Worsie se Boesmanland-orkes.
Benewens musiek het Worsie belange in ’n duikonderneming, wat ’n diamantkontrak ingesluit het, gehad; hy het by geleentheid meer as 1 000 karaat op een slag uitgeduik. Daarby was hy lief vir jag en hengel. Hy het ’n vakansiehuis op Hentiesbaai in Namibië gehad en gereeld daar gaan hengel, terwyl hy gereeld kreef by Strandfontein gevang het. Op sy 35ste verjaardag, ook sy laaste, het hy sy vlieglisensie verwerf en sy seun, Marais, is gebore.
Worsie het aanvanklik veral sy eie komposisies gesing, met die uitsondering van “Lekker ou Jan”, seker sy grootste treffer naas “Boesmanland”, wat deur tant Grietjie van Garies geskryf is. Onder sy ander oorspronklike liedjies was “Wikkel daai boude”, die “Bitter van Bitterfontein”, wat sy meer ernstige kant gewys het en “Boesmanland blues”. Hy het verder bekende komiese liedjies soos “Rooi iere, Groen blare”, “Province” en “Brandewyn laat my staan” gesing, en groot treffers met “Gee die hond wind” en “Gee hom gas”, Afrikaanse weergawes van “Going back west” van Boney M en “Gimme hope Joanna” van Eddy Grant, gehad. Onder die minder komiese bekende liedjies waarmee hy treffers gehad het, was “Wiederschau” van Jurie Ferreira, “Was ek maar ’n digter” van Kupido en “Wil jy dans, Carina” van Elizabeth en Francois Fourie.
Worsie is op 4 Mei 1998 in ’n vliegongeluk naby Saldanha aan die Weskus dood. Hy het kort tevore sy laaste album, Die seun van Bitterfontein, opgeneem en na sy dood was dit ’n blitsverkoper. Daar het ook ’n paar trefferalbums van hom verskyn, onder meer Treffers van doerie tyd tot nou en ’n volledige dubbele versameling, Die Boesmanland-bundel. Die invloed wat Worsie op die Afrikaanse musiekbedryf gehad het, het duidelik geblyk uit die aantal kunstenaars wat hulde aan hom gebring het. Brian (Basjan) Nieuwoudt, Zak van Niekerk, wat self jonk dood is en Ricus Nel het almal huldeblykalbums uitgereik , terwyl hy ’n groot invloed op die loopbane van Wicus van der Merwe, Rooies en Andries Vermeulen gehad het.
Daantjie Badenhorst