OP WEG NA APARTHEID
Voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die vernaamste Geallieerde nasies besluit om ’n wêreldorganisasie te stig wat internasionale geskille uit die weg moes ruim en die vrede moes help bewaar: die Verenigde Nasies. Genl. Smuts het ’n deurslaggewende rol gespeel in die formulering van die aanhef van die VN se Universele Verklaring van Menseregte.
Dit was ietwat ironies dat sy land in die eerste VN-sitting in 1946 kwaai gekritiseer is. Die Indiese regering het beweer dat die land teen Indiërs diskrimineer hoewel die regering beperkte verteenwoordiging van Indiërs in die Parlement en Natalse provinsiale raad toegestaan het. Vergeefs het Smuts betoog dat die VN-grondwet die liggaam belet om in die binnelandse sake van lidlande in te meng. Buitendien was die kastestelsel van Indië deels gegrond op stam en ras, maar ook godsdiens, taal, territoriale skeiding en aard van werk, of kombinasies daarvan; ingewikkelde verbodsbepalings het betrekking gehad op huwelike, maar ook op hoe voedsel voorberei en bedien is.
Die verhoudinge tussen wit en swart mense in SA het al hoe meer agteruitgegaan. Veral swart mense en Indiërs het gelyke regte met wit mense geëis. Smuts was teen algemene stemreg. Selfs in die suidelike state van die VSA het dit tot die 1960’s geduur voordat die stemreg na swart mense uitgebrei is. Swart mense het in die Tweede Wêreldoorlog na die stadsgebiede gestroom en die plakkerskampe het ’n bron van onrus geword. Smuts het segregasie verwerp omdat die stroom swart mense na die nywerhede nie gestuit kon word nie. Hy het ’n kommissie onder HA Fagan aangestel wat bevind het dat totale segregasie onuitvoerbaar is.
Ook die HNP het ’n kleurvraagstukke-kommissie aangestel onder voorsitterskap van die Kaapse politikus PO Sauer. Die siening van die Sauer-kommissie was dat daar net twee rigtings in Suid-Afrika is – dié van apartheid en gelykstelling. Laasgenoemde moet lei tot die vernietiging van die wit mense as selfstandige en selfregerende nasie. Gelykstelling sal op die duur vir die wittes nasionale selfmoord en vir die ander groepe vernietiging van hul eie identiteit meebring. Apartheid beskerm en beveilig elke ras se karakter en toekoms binne sy eie gebied en gun aan elke ras in sy eie tuiste volle geleentheid om te ontwikkel; apartheid verseker aan almal “die onvervreembare reg van selfhandhawing en selfbeskikking”.
Min mense het verwag dat die Nasionaliste op 26 Mei 1948 aan bewind sou kom. Die HNP het ’n verkiesingsooreenkoms met die Afrikanerparty onder NC Havenga gesluit; in 1950 het die twee partye geamalgameer onder die ou naam Nasionale Party. Baie kiesers was om ekonomiese redes teen Smuts. Oudsoldate was ontevrede oor nuwe werkkringe en lewensomstandighede. Daar was ontevredenheid oor woningtekorte. Die Natallers was ongelukkig oor die indringing van Indiërs. Afrikaners was gegrief oor die agterstelling van Afrikaans deur die oorwegend Engelse VP-regering. Die HNP en Afrikanerparty het 79 setels behaal en die ander partye saam 71. Smuts is in sy kiesafdeling Standerton verslaan deur WC du Plessis, een van die amptenare wat uit die staatsdiens moes bedank nadat Smuts teen die Broederbond opgetree het.