GEWILDE AFRIKAANSE BOEKE; DIE VOLKSKRYWER LANGENHOVEN STERF

“Die Rooidag van die Afrikanerdom” is die benaming van die kritikus PC Schoonees vir die jare twintig. Een van die skrywers wat hy eervol vermeld, en wie se werk gretig gelees is, was AA Pienaar. Sy klassieke Uit oerwoud en vlakte (1921) onder die skuilnaam Sangiro was een van die gewildste ouer boeke en het naby die 50 drukke beleef waarvan sowat 145 000 eksemplare tot in 1974 gedruk is.

Nog ’n gewilde skrywer was CJ Langenhoven. Onder sy talle vermeldenswaardige werke neem Sonde met die bure, Herrie op die óú tremspóór en Doppers en Filistyne ’n besondere plek in. In laasgenoemde werk spot hy met verengelste Afrikaners. In Die lig van verre dae het Langenhoven in die twee hooffigure, die nuusredakteur en die briljante verslaggewer, twee Burger-manne verewig: sy vriend Frederik Rompel en die verslaggewer Johann Buhr. Buhr se susterskind is die historikus Hermann Giliomee.

Langenhoven is (soos vermeld op 29 September) op 15 Julie 1932 oorlede. Die Burger het dit aangekondig onder die banier: “Suid-Afrika verloor Langenhoven”. Die Burger het ’n hoofartikel gehad: “Langenhoven het die Afrikanervolk leer lees.” In Die Vaderland het Gustav Preller in dieselfde trant geskryf: Langenhoven “het seker meer gedaan om ons publiek hul eie taal te leer lees en waardeer as enige ander”. Toe hy kort tevore die raad gegee is om in Engels te skryf, was Langenhoven se antwoord: “Daar is baie wat Engels skryf, en min in Afrikaans, en al kan mens daar ook geen geld uit maak nie, dan bly dit nog die plig van dies wat kan, om Afrikaans te skryf.”

Die Burger het op Maandag, 18 Julie 1932, kolomme 5 tot 8 op sy hoofartikelblad oopgelaat, met slegs die opskrif “Aan stille waters”. Die skrywer van die rubriek “Van alle kante” het verduidelik dat deur die kolomme “blank” te laat, Die Burger toon dat Langenhoven se plek in die koerant onvervangbaar is. ’n Leser het geskryf, dat die blank kolomme haar laat voel het asof sy by ’n leë graf staan. Die redaksie het besluit om net melding te maak van briewe van mense of liggame wat aan Langenhoven hulde bring, en nie die inhoud te plaas nie, omdat dit te veel plek in beslag sou neem.

Versoeke het na die Nasionale Pers gestroom om Langenhoven se boeke in ’n eenvormige band en formaat beskikbaar te stel. Binne drie maande, nadat ’n kennisgewing geplaas is dat so ’n reeks wel gaan verskyn as daar ten minste 1 000 intekenaars sou wees, was daar 3 000 op die lys. Die eerste stel van die Versamelde werke het in twaalf dele verskyn in ’n oplaag van 3 000, en in 1933 nog 2 500. Later is vier dele bygevoeg en die stel is ’n hele paar keer uitgegee. Volgens ’n berekening van Tafelberg Uitgewers is daar bykans ’n miljoen eksemplare van die Versamelde werke verkoop. Heel waarskynlik is Langenhoven die skrywer van wie die meeste Afrikaanse boeke verkoop is.

Die Versamelde werke van nog een taalstryder-skrywer is in die jare dertig uitgegee. Dit is dié van JHH de Waal, wat op 30 Oktober 1937 oorlede is. Hy was van 1915 tot sy dood Volksraadslid vir Piketberg, en ’n tyd lank speaker. Die Nasionale Pers het reeds voor sy dood besluit om sy versamelde werke in agt dele uit te gee.

In die jare twintig is belangrike prosa van DF Malherbe en Jochem van Bruggen gepubliseer. Van Malherbe was dit in 1926 Die meulenaar en in 1928 Hans-die-Skipper. In 1944 is berig dat 138 000 van sy boeke in 15 jaar verkoop is. In 1924 verskyn die eerste deel van Van Bruggen se Ampie-trilogie. Schoonees skryf dat dit as dokument kan gebruik word “vir ’n studie oor ons maatskaplike toestande”. En daarby prys hy die boek aan as “die eerste volledig lewende Afrikaanse mens in ons letterkunde”. Dis bietjie oordrewe, maar Ampie het daarin geslaag om die volksgewete wakker te skud oor die verarming van die Afrikaner.

Ampie was eerste op die lys toe Die Volksblad en Die Vaderland in 1935/36 lesers gevra het van watter boeke hulle die meeste hou. Die Burger-lesers het Uit oerwoud en vlakte eerste geplaas, dan Ampie en dan Hans-die-Skipper.

Drukoplae van ’n paar boeke tot 1936 gee ’n aanduiding van gewildheid: Uit oerwoud en vlakte 50 000; Sonde met die bure 45 000; Ons weg deur die wêreld 35 000; Die lig van verre dae 35 000; Mof en sy mense 30 000 (al vier Langenhoven); Die burgemeester van Slaplaagte (Jochem van Bruggen) 17 000; Die vlakte en ander gedigte 1600; Uit drie wêrelddele van Leipoldt 10 000 en Leipoldt se Stories vir die kinders en Langenhoven se Brolloks en Bittergal 15 000 elk. Die meeste hiervan is uitgegee deur die Nasionale Pers wat in 1915 boeke begin publiseer het. Boeke is verder uitgegee deur Van Schaik en ouer uitgewers soos JH de Bussy. Baie gewilde Van Schaik-boeke was onder meer twee gewilde jeugreekse, die Maasdorp-reeks vir meisies deur Stella Blakemore en die Keurboslaan-reeks vir seuns ook deur haar, maar onder die skrywersnaam Theunis Krogh.

Teen 1935 het die publiek begin protesteer teen Ampie en romans, kortverhale en sketse van dié aard. Baie mense het gevoel dat sulke boeke, veral as hulle voorgeskryf is op skool, die prestige van die Afrikaner verlaag. By opvoerings van die Ampie-toneelstuk het mense uitgestap omdat hulle gekrenk was in hul nasionale trots. Hulle het gevoel dat Ampie voorgestel is as die tipiese Afrikaner. Immers, ook Schoonees het geskryf dat Ampie “die simboliese verteenwoordiger van ’n volksgroep” is. In De Kerkbode is ’n polemiek gevoer oor Ampie as voorgeskrewe boek. Tydskriflesers het gesê hulle wil liewer lees van “knap kêrels en mooi nooiens”.

In hierdie tyd van depressie en armoede moes uitgewers en boekhandelaars planne maak om boeke te laat verkoop. So het boekklubs herleef. In 1931 het Die Volksblad saam met Die Volksblad-Boekhandel begin met “Die Volksblad-boekkring”. Die doel was om mense in die “swaar tye” aan te moedig om aan te hou boeke koop sodat die leeslus nie kwyn nie. Intekenaars kon teen ’n afslag boeke koop. Selfs in die 1940’s het Die Volksblad groot ruimte afgestaan aan boeke en skrywers, al was die koerante kleiner weens papierskaarste.