AFRIKAANS WORD ONDERWYSMEDIUM

Die onderwysordonnansies van Transvaal, Kaapland en die Vrystaat is in 1911 en 1912 verander om voorsiening vir moedertaalonderrig in albei amptelike tale in te voer. Daarvoor was die onderwys, veral in Kaapland, hoofsaaklik deur medium van Engels. In 1917 het net 14 640 van die 47 230 Afrikaanse kinders hul opleiding in Hollands gekry, 18 371 in Engels en 14 219 in albei tale. In beginsel het die huistaal in 1912 die verpligte medium geword. Maar dié huistaal was vir Afrikaners amptelik nog Hollands en dit is oral opgevat as Nederlands. Ook hieraan het daar verandering gekom deur die toedoen van onder andere dr. Tobie Muller en Langenhoven.

Muller was die briljante seun van die teologieprofessor CFJ Muller wat in die oorlog sterk Boergesind was. Tobie Muller was as student op Stellenbosch al ’n taalstryder en het ’n tak van die ATV daar gestig. Sy doktorsgraad het hy met lof aan die Rijksuniversiteit Utrecht behaal. In 1914 het hy die eerste preek in Afrikaans op Stellenbosch gelewer, maar die kerkraad het verontwaardig geëis dat hy net Nederlands moes gebruik. Hy het bedank, maar ’n kompromis is bereik dat hy net by sekere geleenthede vir studente in Afrikaans kan preek. In Die geloofsbelydenis van ’n Nasionalist het hy in 1913 die betekenis van die erkenning van Afrikaans as onderwysmedium vir die selfrespek van die Afrikaner beredeneer. Die kinders wat op skool met Nederlands of Engels begin, kan nie sonder foute skrywe nie. Afrikaans is vir hulle makliker. Deur Afrikaans as voertaal sal hulle die neerdrukkende en vernederende verwyt kwyt raak dat hulle nie eers die eenvoudigste brief foutloos kan opstel nie. “Die wins in nasionale selfrespek onder ’n groot deel van ons volk sal, by so ’n metode van onderwys, onskatbaar groot wees.”

Sy betoog het ingehou dat Afrikaans bevorder moes word met politieke middele, want die enigste liggame wat Afrikaans as onderwysmedium kon erken, was die provinsiale rade. Muller se Geloofsbelydenis het Langenhoven aangespoor om Afrikaans langs politieke weg te bevorder. Hy is onbestrede gekies tot lid van die Provinsiale Raad vir Oudtshoorn.

Toe hy vir sy eerste sitting in die Kaap aankom, het hy met die voormanne van die Afrikaanse beweging gepraat oor sy beoogde maatreël. Hulle het hom aangeraai om eers te wag totdat Afrikaans verder in die pers en letterkunde gevorder het. Hy het hul raad geïgnoreer en die politici bearbei. Eers het hy die lede van sy eie party, die Suid-Afrikaanse Party, oorgehaal, soms met behulp van Muller se werk. Toe het hy met die Administrateur, sir Frederic de Waal, en Superintendent-generaal van Onderwys, Thomas Muir, gepraat en ten slotte die koukus van die Britsgesinde opposisieparty, die Unioniste, toegespreek. Hy het sy voorstel (dat Afrikaans-Hollands as medium gebruik word waar Hollands volgens die wet die voertaal is) op 23 April 1914 gedoen en dit is ná ’n paar toesprake onbestrede aangeneem. Ons Land en die Cape Times het die mosie doodgeswyg. Die Vrystaat en Transvaal het op 15 Junie en 23 Junie 1914 dieselfde besluit. Die eerste keer het wetgewende liggame Afrikaans erken.

Die erkenning van Afrikaans as onderrigtaal in skole was ’n groot stap in die geskiedenis van Afrikaans. Dit het nuwe ontwikkelings genoodsaak. In die provinsiale rade is vrae gestel oor die voorsiening van Afrikaanse leermateriaal en die beheer oor die gehalte van taalgebruik in dié materiaal. Langenhoven het dit in 1914 op ’n sitting van die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst geopper en daar is toe ’n kommissie aangestel wat spelreëls en ’n woordelys moes opstel. Die Akademie (sedert 1942 Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) het in 1915 die spelreëls van sy taalkommissie goedgekeur en die eerste druk van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) het in 1917 verskyn. Hierdie eerste woordelys is saamgestel deur die lede van die “Woordelijs-Kommissie”, proff. TH le Roux, DF Malherbe en JJ Smith. Le Roux is as die “vader” van die spelreëls beskou. Op 3 Augustus 2017, met die herdenking van die eerste uitgawe van die AWS, is die elfde uitgawe daarvan bekend gestel.

Die eerste provinsie wat enkelmedium- Afrikaanse skole gekry het, was die Vrystaat in 1916. Transvaal het in 1920 gevolg, Kaapland in 1924. Die Afrikaanse Hoërskool van Pretoria – die eerste Afrikaanse hoërskool in Transvaal – het op 28 Januarie 1920 met 45 seuns en meisies in die huis van genl. Piet Joubert in Visagiestraat, begin. Daaruit het die Afrikaanse Hoër Seunskool en die Afrikaanse Hoër Meisieskool in 1930 tot stand gekom. Ook uit 1920 dateer die Voortrekker Hoërskool van Boksburg. Die Hoërskool Helpmekaar (1921) was die eerste in Johannesburg. Die laerskool, wat Jan van Riebeeck sou word, is 1921 in Kaapstad gestig en in 1926 het ook ’n hoërskool daaruit voortgekom. In Natal is die eerste Afrikaanse skool eers in 1923 in Pietermaritzburg gestig. In die Vrystaat was die Hoër Meisieskool Oranje (1907) en die Hoërskool Sentraal (1905) die voorlopers – aanvanklik met Hollands en daarna Afrikaans.