
BETOGINGS TEEN AFRIKAANS EN VIR ENGELS AS ENIGSTE HOËRSKOOLTAAL
“Afrikaners and Blacks have done considerably more to promote and maintain English in the common life of South Africa than the English speakers themselves”. Dit skryf ’n bekende Engelssprekende taalkundige, LW Lanham in 1978 in ’n vakkundige boek.
In die 19de eeu het Afrikaanse ouers partykeer geëis: “Leer die kinders Engels – Hollands kom vanself.” Engels was nodig vir goeie werk en dit was die prestigetaal. In die 20ste eeu het taaltrots en taalgetrouheid ’n deel van Afrikaneridentiteit geword en het Afrikaans ekonomiese waarde gekry. Gevolglik het minder Afrikaners aangedring op onderwys deur medium van Engels. Maar die ander Afrikatale het selde ekonomiese waarde gehad en swart ouers en leerlinge het bly aandring op Engels – nie alleen as vak nie, maar ook as voertaal.
Toe die sentrale regering in die 1950’s swart onderwys oorgeneem het, is besluit dat swart mense se eie tale die voertaal aan laerskole sou wees. Dit het die ontwikkeling van die tale baie aangehelp. Maar in die hoërskole is dié tale nie gebruik nie, onder meer weens ’n gebrek aan handboeke daarin, maar veral weens die teenstand teen moedertaalonderrig. In hoërskole moes Afrikaans en Engels sover moontlik gelyk behandel word as voertaal. Gewoonlik het skole verlof gekry om slegs Engels te gebruik. Maar soms het amptenare verlof geweier. Hul houding was dat wit belastingbetalers die onderwys van swart kinders betaal en dat wittes dus moet besluit wat gedoen moet word. Die houding van amptenare het die verset teen Afrikaans as een van die voertale in hoërskole laat toeneem.
Op 16 Junie 1976 het leerlinge in Soweto van skool tot skool geloop met anti-Afrikaanse plakkate soos “Away with Afrikaans”. Leerlinge van sewe skole het teen negeuur aan die betoging deelgeneem. Volgens die minister was die enigste voertaal in ses van die sewe skole Engels; in die ander skool is net een vak in Afrikaans aangebied. Naby Orlando-Wes het sowat 10 000 betogers met die polisie gebots. Een leerling, Hector Petersen, is dood.
Die betoging het teen dié tyd al hoe leliker begin word. Hulle het geboue geplunder en afgebrand. Kinders het uitgeroep: “Kill the whites!” en “Black power!” en twee wit mense doodgeslaan. Blankes wat welsynwerk in Soweto gedoen het, het naelskraap aan die dood ontkom. ’n Swart man het vier maatskaplike werkers voorgekeer. Een van hulle het uitgeroep: “I’m English! I’m English!”, maar die aanvaller het die motor met ’n klip probeer raakgooi.
Die onluste het spoedig uitgebrei en die lewens van 494 swart, 75 bruin, vyf wit mense en een Indiër geëis. Meer as honderd geboue van die Wes-Randse Bantoe-administrasieraad is afgebrand of beskadig, asook 250 drankwinkels en biersale, 170 ander winkels, 25 klinieke, agt banke, ’n aantal biblioteke, poskantore, hotels, kerke, landdroshowe en vulstasies. In die Wes-Kaap is 191 bruin skole verwoes en beskadig. Die verwoeste geboue was vir die betogers simbole van die apartheidsisteem.
’n Paar weke nadat die onluste begin het, het die regering bekend gemaak dat elke swart skool self kon besluit wat sy voertaal is. Engels het die enigste voertaal geword – ook waar leerlinge Afrikaans beter geken het. Dit het soms op die platteland gebeur dat lesse in Engels gegee is en dat leerlinge aan die einde van die les ’n herhaling in Afrikaans gevra het. Anders as wat latere kommentators beweer, het die betogers nie moedertaalonderrig geëis nie. Die enigste voertaal moet Engels wees – dit was die oogmerk.