
AFRIKANERS GENIET AFRIKAANSE EN HOLLANDSE BOEKE
Hollands was die leestaal van baie Afrikaners. Een van die gewildste skrywers was D’Arbez, skuilnaam van JF van Oordt (1856–1918). Hy was ’n seun van dr. JWG van Oordt, redakteur van Het Volksblad, en van 1878 tot 1894 van De Zuid-Afrikaan. JF se moeder, Susanna, was ’n dogter van ’n Suid-Afrikaanse Nederlandse opvoedkundige, dr. ANE Changuion. Die jong Van Oordt is bekend weens talle romans met ’n nasionale strekking wat hy as D’Arbez geskryf het. Sy boeke soos Mooi Annie, Liefde en plicht en David Malan was baie lank die gewildste leesstof van jong Afrikaners. Byna 100 000 eksemplare van sy Nederlandse boeke is in die 19de en 20ste eeu verkoop. Sy meesterwerk was Paul Kruger en de opkomst van de Zuid-Afrikaansche republiek (1898) waarvoor hy Kruger self ondervra het. ’n Letterkundige, Elizabeth Conradie, meen dat hy as tolk van die verlede ’n Hollands gebesig het wat hom so ver as moontlik by die volkstaal aangepas het. Daardeur het hy sy mede-Afrikaners leer lees soos niemand voor hom nie en weinige na hom.
Talle ander werke, veral geskiedkundig en godsdienstig, het in Nederlands verskyn. Een van die kosbaarste werke is Geslachtsregister der oude Kaapsche familiën (1893–4), deur CC de Villiers, vader van die Suid-Afrikaanse genealogie. De Villiers is op 38 jaar oorlede en die werk is voltooi deur G. McCall Theal en WJ Vlok. ’n Herdruk in 1966 is bygewerk deur C Pama.
D.F. du Toit & Co. het tot in 1895 eeu 93 650 boeke in Nederlands en 81 000 in Afrikaans gedruk, altesaam dus 174 650. Daarvan was omstreeks 1909 nog 22 550 in voorraad. Watter boeke het die beste verkoop? Volgens ’n lys van SJ du Toit kon dit Uw en mijn Cijferboekje van CP Hoogenhout gewees het: daarvan is 20 000 gedruk. Die oplaag van die Geskidenis fan di Afrikaanse Taalbeweging was 3000, en van Di eerste beginsels van di Afrikaanse taal van JW van der Rijst, ingrypend gewysig en uitgebrei deur SJ du Toit, 7000.
Een van D.F. du Toit & Co. se treffers was Di Suid Afrikaanse kook-, koek- en resepte boek byeenversameld en geskrywe deur mejufvr. E.J. Dijkman, Paarl. Die skrywer was Engelssprekend. Elizabeth June Dijkman (1840–1908) was ’n nooi Eckley en het geen Hollands geken toe sy die Nederlandse sendeling Jan Hendrik Dijkman in Worcester ontmoet nie. Hy het weer geen Engels geken nie. Maar die liefde oorwin immers alles en hulle is gou getroud. Hy het in 1880 ’n betrekking by D.F. du Toit & Co. aanvaar.
Op Worcester, Tulbagh en die Paarl het mev. Dijkman Afrikaans op uitmuntende wyse aangeleer en ook ’n verbasende kennis van veldplante, die kookkuns en volksgeneeskunde verwerf. Sy wou haar resepteboek in Engels skryf, maar “myn vrinde het my gevraag om dit liwers in Afrikaans te doen, dan kan onse Afrikaanse Onderveldse susters, di minder of gen Engels ken – oek nut daarvan hê.” Van die eerste ses drukke van haar kookboek is 9500 eksemplare verkoop. Die eerste uitgawe was in 1891 en die uitgawe van 1892 het ook ’n “anhangsel bevattend 614 recippe ver 120 siiktes” bevat. Daar was 17 drukke in die Patriot-spelling en ’n heruitgawe van Human & Rousseau in die ou spelling het verskeie drukke beleef.