5 MEI

GEBEURE

1652 – VOC-beamptes vind die eerste inheemse Kaapse houtbos

Vanaf die begin van die Kaapse verversingspos was daar ’n groot behoefte aan allerlei alledaagse noodsaaklikhede, waarvan timmer- en brandhout die belangrikstes was. In ’n poging om geskikte timmerhout te vind, het vier amptenare op hierdie dag oor Kloofnek gestap en aan die berghange bokant Houtbaai vir die eerste keer ’n inheemse houtbos teengekom. Dit was die begin van die ontginning van Suid-Afrika se inheemse houtbronne. Geen moeite is ontsien om voldoende voorrade van die kosbare hout te bekom nie. Vervoer- en arbeidsprobleme was egter deurgaans ’n groot struikelblok. Mettertyd is die gebied vanaf die huidige Constantianek tot by Nuweland verken en ontgin. Die haas onbegaanbare pad oor die Hottentots-Hollandberge, het tot diep in die agtiende eeu verhinder dat die welige bosse van die suidkusstreek doeltreffend benut kon word. Reeds gedurende 1710 is in die Politieke Raad verslae oor hierdie Overbergse bosse ter tafel gelê. Tog is daar eers in die tweede helfte van die agtiende eeu begin om houtkappersposte in die omgewing van die huidige Riviersonderend, Swellendam en Heidelberg op te rig. Dit is deur Kompanjiesarbeiders self bewerk. Daarvandaan is maandeliks enkele wavragte timmerhout na die Kaap gestuur. Gedurende 1777 is ’n dergelike onderneming in Outeniekwaland langs die Swartrivier begin. Dit was veral die hoë vervoerkoste wat die Kaapse owerheid gedwing het om uiteindelik in Desember 1786 die eerste werklike ekonomiese groeipunt aan die suidkus te begin met die aanlê van die houtkapperspos in Plettenbergbaai. Johan Fredrik Meding is as opsigter aangestel, terwyl Jan Jacob Jerling ’n skuur vir die opberging van die hout naby die strand gebou het. Reeds in Augustus 1788 is die eerste vrag hout met die skip Meermin na die Kaap vervoer.

1820 – Eerste Britse digter

Suid-Afrika se eerste Britse digter, Thomas Pringle, stap as Britse Setlaar in Algoabaai aan wal.

1897 – Sir Alfred Milner kom as goewerneur in die Kaap aan

1900 – Anglo-Boereoorlog: Inname van Winburg

Winburg word sonder weerstand deur die Boere deur die Britse mag onder genl. Ian Hamilton ingeneem. Pres. Paul Kruger beveel dat burgers wat in Natal afgestaan kan word, hulp in die Vrystaat moet verleen.

1902 – Anglo-Boereoorlog

Veertig vooraanstaande persone vanuit die Witwatersrand-omgewing dring daarop aan dat slegs die onvoorwaardelike oorgawe van die Boerekommando’s goed genoeg sal wees, en niks anders nie.

Percy Fitzpatrick, skrywer van die bekende werk Jock of the Bushveld was een van die groep van veertig gewees.

1925 – Afrikaans word as amptelike taal aanvaar in Suid-Afrika

1957 – SAUK se proefuitsendings

Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie begin met televisie-proefuitsendings. Die plan was om met voltydse uitsendings in Januarie 1976 te begin.

1962 – Afgevaardigdes van VN besoek Pretoria

Twee afgevaardigdes van die Verenigde Nasies, dr. V Carpio en dr. Martinez de Alva kom in Pretoria aan. Die doel van die besoek was om die Suidwes-Afrika-kwessie met dr. HF Verwoerd te bespreek.

 

GEBOORTES

1831 – Gezina Susanna Kruger (neé du Plessis), eggenote van pres. Kruger († 20 Julie 1901)

Met Gezina Kruger se afsterwe op hierdie dag het sy pres Kruger diep bewoë en verslae in ballingskap agtergelaat. Meer as 55 jaar lank het sy hom as troue lewensmaat in voor- en teëspoed bygestaan. Gezina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis is gebore op 6 Mei 1831 en maak as kind die Groot Trek mee in die Potgietertrek. As jong seun het Paul Kruger haar, ‘n niggie van sy eerste vrou, geken en na die dood van sy eerste vrou is hy met Gezina in Januarie 1846 getroud. Uit hulle huwelik is sestien kinders gebore. Gezina het jare lank met swak gesondheid gesukkel en etlike kere by die dood omgedraai. Toe Kruger in 1877 na Europa moes vertrek om teen die anneksasie van Transvaal beswaar te maak moes hy haar siek op Boekenhoutfontein agterlaat. Weens sy toenemende politieke bedrywighede het Kruger in 1881 besluit om permanent in Pretoria te gaan woon. In 1883 word hy vir die eerste keer tot president verkies. Ten spyte hiervan het die Krugergesin hulle natuurlike en eenvoudige huislike lewe voortgesit. As boerevrou hou Gezina melkkoeie aan op hulle groot erf in Kerkstraat en kry hulle al hul lewensbenodigdhede van hulle plaas af. Aan haar man se toenemende openbare bedrywighede het sy nie deelgeneem nie. Sy verskyn op geen foto waar die President in die openbaar verskyn nie. As tipiese Afrikanervrou van die negentiende eeu het sy dit as haar eerste plig gevoel om vir haar man ‘n rustige en warme huislike lewe te skep en ‘n goeie moeder vir hulle groot gesin te wees. Sy was ‘n knap huisvrou en bekend vir haar pragtige fyn naaldwerk. Volgens getuienis van tydgenote was sy ‘n sagte mens, beskeie, vriendelik en altyd bereid tot opoffering. Vir die President was sy ‘n steunpilaar, en hy was afhanklik van haar toegewyde versorging. Op portrette waar sy in deftige boeredrag as Presidentsvrou verskyn is haar houding rustig en kalm, die blik in die helder oë onbevrees. Gezina Kruger was diep godsdienstig en gelowig. Saam met die President besoek sy gereeld die Gereformeerde Kerk in Kerkstraat waar hulle kerkstoele vandag nog bewaar word. Soos vir talle Afrikanervroue in hierdie jare help haar geloof haar deur moeilike tye en kry sy krag om beproewinge te verduur en te berus. Kort voor haar dood was haar laaste boodskap aan haar man dat hy sy vertroue in God moet stel. As Presidentsvrou het sy ook die smart en ontwrigting van die Engelse Oorlog beleef. Vol kommer het sy die verloop van die oorlog saam met die President gevolg. Vier van haar seuns, vyf skoonseuns en 33 kleinseuns was op kommando. Saam met duisende ander Afrikanervroue in hierdie jare, in konsentrasiekampe of vlugtend in die veld, het sy die smart beleef van mans en seuns wat gesneuwel het of gevange geneem is. Toe pres Kruger op 29 Mei 1900 in ballingskap vertrek kon sy hom weens swak gesondheid nie vergesel nie. Dit moes ‘n bitter afskeidsuur gewees het met die wete dat hulle mekaar waarskynlik nooit weer sou sien nie. Op 20 Julie 1901 het Gezina sag en berustend heengegaan. Sy was ‘n voorbeeld van die tipiese Afrikanervrou van daardie eeu, gevorm en gestaal deur die patriargale pionierslewe – vroue wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie, bekwaam en selfstandig. In haar loop ook soos ‘n goue draad dié dinge wat die Afrikanervrou van die negentiende eeu as kultuurdraer gekenmerk het: haar geloof en nasietrots wat sy as vanselfsprekend aanvaar en uitgeleef het.

 

STERFTES

1908 – Elizabeth Jane Dijkman, skrywer van die eerste Suid-Afrikaanse kookboek (* 25 Augustus 1840)

Elizabeth Jane Dijkman (gebore Eckley) is in Londen gebore, maar het aan die Kaap heeltemal verafrikaans na haar huwelik met die sendeling Hendrik Dijkman. Hulle het hulle in 1880 in die Paarl gevestig, waar Dijkman by die drukkers van Die Afrikaanse Patriot gewerk het. Elizabeth het jare lank reeds resepte en rate vir siektes versamel en het besluit om haar kennis van die kookkuns ook tot die beskikking van die Afrikaanse vrou te stel. Haar kookboek, Di Suid-Afrikaanse kook, koek- en resepteboek, wat in 1891 deur die drukkers van Die Afrikaanse Patriot gepubliseer is, was die eerste Suid-Afrikaanse kookboek. Dit het voorsien in ‘n groot behoefte, sodat die kookboek binne twee jaar drie uitgawes en uiteindelik altesame 18 uitgawes beleef het. Geskryf in die taal van Die Patriot en met die spelling van daardie tyd, is die boek van groot kultuurhistoriese betekenis. Dit is ook ’n voorbeeld van die vrou se bydrae in hierdie gedenkwaardige jare toe die Afrikaner van sy eie taal bewus geword het. Sy is op 5 Mei 1908 op Wepener oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/