WESTERSE EN SUID-AFRIKAANSE RASSISME
Apartheid het spanning geskep tussen Suid-Afrika en Brittanje, Suid-Afrika se vernaamste buitelandse belegger en handelsvennoot, skryf Hermann Giliomee in Die Afrikaners. Maar belangriker as die Westerse regerings se afkeuring van apartheid was hul begeerte dat die bande tussen Suid-Afrika en die Weste nie versteur word nie. Die Weste wou verhoed dat SA met sy minerale en strategiese ligging onder kommunistiese beheer kom.
Die Weste het ook aanvaar dat ’n nierassige demokrasie hier nog lank onmoontlik sal wees. “Apartheid was nie gebaseer op die mislukte rasse-ideologie van Nazi-Duitsland nie, maar op die rassisme wat die Weste in die algemeen teenoor swart en bruin mense aan die dag gelê het”, sê Giliomee. “Dit het gewissel van ’n voorkeur vir mense van eie kleur tot ’n patologiese afkeer van rassevermenging, gevoelens wat nog wydverspreid in sowel Europa as die VSA voorgekom het. In Europese kolonies, byvoorbeeld Frans-Algerië, is maar min inheemse mense polities en maatskaplik geïntegreer.”
In die VSA was daar min steun vir “desegregation” of integrasie. Volgens statistiese gegewens het 51% van die suidelike blankes in die VSA integrasie in openbare woongebiede goedgekeur, teenoor 64% van alle blankes daar.
Talle state van die VSA het nog teen 1948 seksuele verkeer tussen die rasse verbied. Toe dr. Eben Dönges in 1949 ’n wetsontwerp voorgelê het wat alle huwelike tussen wit en bruin onwettig gemaak het (tussen wit en swart was dit sedert 1928 verbode) het hy die wetgewing probeer regverdig deur daarop te wys dat so ’n verbod in die VSA die praktyk is. Dertig Amerikaanse state het sulke wette gehad en in vyftien was daar ’n amptenaar vir huweliksake wat hierdie wette moes toepas.
Gedurende die 1950’s was dit nie ongewoon dat Westerse leiers rassistiese uitsprake maak nie. In 1952 het Herbert Morrison, minister van buitelandse sake in die Britse Arbeidersregering, onafhanklikheid vir die Afrika-kolonies bestempel as soortgelyk aan “giving a child of ten a laych-key, a bank account and a shothun”. In 1957 het pres. Dwight Eisenhower van Amerika simpatiek gepraat oor die wittes van die suide se vrees vir “Mongrelization of the race”.
Giliomee (aan wie se werk Die Afrikaners die gegewens hieroor ontleen is) skryf dat Suid-Afrikaanse rasseverhoudinge eers teen die einde van die 1950’s skerp begin verskil het van dié in Europa en die Amerikaanse suide. Europa het vinnig van sy kolonies ontslae geraak en in die VSA het opvoedkundige en maatskaplike integrasie versnel.
Toe die NP in 1948 die mag verower, was daar ’n swart bevolking van 8,5 miljoen. Van hulle het omtrent 2 miljoen in dorpe en stede gewoon, teenoor 1,6 wit stedelinge. Swart verstedeliking het onbeplande en onbeheerd plaasgevind. Stede soos Johannesburg is omsoom met plakkerskampe en in elke belangrike stad was daar buurte waarin wit, bruin en swart mense saamgewoon het. Sporadiese uitbarstings van geweld het voorgekom. Die grootste en skokkendste was een in 1949 tussen swartes en Indiërs in Durban waarin 147 mense dood is, meer as 300 geboue verwoes en nog 1700 beskadig is. Vir NP-intelligentsia het die beleid nie oor ras as sodanig gegaan nie, maar die sekuriteit van die Afrikaners en die wit gemeenskap. Vrees vir ’n swart meerderheid het ten grondslag aan apartheid gelê.