OORLOG BREEK UIT EN GENL. DE LA REY WORD DOODGESKIET
Die moord op die Oostenryks-Hongaarse kroonprins Frans Ferdinand, op 28 Junie 1914 in Sarajevo, het gelei tot ’n oorlog waarby Suid-Afrika ook betrokke geraak het: aanvanklik Serwië, Rusland, Frankryk en Brittanje teen Oostenryk-Hongarye en Duitsland. Brittanje het op 4 Augustus 1914 teen Duitsland oorlog verklaar, en Suid-Afrika op 7 Augustus gevra “to seize” Duits-Suidwes-Afrika, in die volksmond bekend as “Duitswes”. Genl. Botha en sy minister van verdediging, genl. Smuts, was oortuig dat dit die “eer en plig” van Suid-Afrika was om Brittanje by te staan.
Groot spanning het aanvanklik veral in Wes-Transvaal geheers waar die siener, Niklaas van Rensburg van die distrik Wolmaransstad, allerlei gesigte gesien het. Sy reputasie het daarop berus dat dinge wat hy in die Anglo-Boereoorlog “gesien” het, so gebeur het. Soms het hy glo kommando’s uit dreigende gevaar gered. In 1914 het hy dikwels gepraat van ’n wolk met ’n bloedkol en die getal 15 daarop. Die “siener” het ook die uitbreek van die oorlog reg voorspel, en De la Rey het waarde geheg aan sy uitleg van die bloedkol-droom. Dit was dat die vryheidstryd op die 15de van ’n onbekende maand sou begin en dat dit gelei sou word deur De la Rey met die geheime steun van Botha.
Dat Botha so ’n plan nie sou steun nie, het De la Rey op 13 Augustus agtergekom in ’n gesprek met hom en Smuts. Daarna het hy aan sy mense gesê dat Botha sy rug op hulle gekeer en Smuts hulle verraai het. De la Rey het met genl. Beyers, hoof van die jong Verdedigingsmag, gepraat, maar dié het besluiteloos gebly. ’n Vae afspraak is gemaak tussen mense soos genl. Jan Kemp en De la Rey, wat op sy beurt voeling gehou het met genl. De Wet in die Vrystaat. Dit lyk asof hulle ooreengekom het dat hulle in opstand sou kom as die regering voortgaan met ’n beplande aanval op Duits-Suidwes-Afrika. Op 9 September het die Volksraad dié aanval met 92 teenoor 12 stemme goedgekeur. Dié besluit het in die Vrystaat en Transvaal opskudding verwek; waarom ’n land aanval wat die Afrikaner nog nooit kwaad aangedoen het nie? En dit ter wille van Engeland, die aartsvyand van die Afrikaner?
De Wet was bitter verontwaardig oor wat hy beskou het as die “goddeloosheid” van die regering wat voornemens was om Duits-Suidwes aan te val. Dit is om ’n roof te pleeg op die grond van ’n volk wat aan die Afrikaners geen kwaad gedoen het nie. Hy het geweldig onder die indruk gekom van die Skrifwoord: “Vervloekt zij de man die zijns naasten landpalen verrukt!”. “En nou,” skryf JD Kestell in sy biografie van De Wet, “kan hy vir hom nie losmaak nie van die woord wat daar in sy oor klink: ‘vervloek’! Van nou af het die gedagte by toeneming ondraaglik vir hom geword dat Gods vloek op die volk sou kan rus. Hy het dit later ook meermale gesê dat hy nagte wakker gelê het as hy daaraan dink dat die Regering ’n vloek oor die volk sou kan bring deur die landpale te verruk van ’n nasie wat aan ons volk geen kwaad gedoen het nie.” Die Afrikaanse volk het hom nog nooit aan grondroof skuldig gemaak nie. Die Voortrekkers het dit nie gedoen nie. Van die swart mense het hulle grond geruil, of hulle het dienste bewys daarvoor, soos in die geval van Piet Retief en Dingaan. “En moet die nakomelinge nou van dié voorouers vir Engeland met geweld grond gaan neem van ’n nasie wat hulle geen kwaad gedoen het nie, maar, inteendeel, twaalf jaar gelede duisende ponde byeenversamel het tot hulp in die behoefte van vroue en kinders, sy armes en sy verminkte burgers?”
Te midde van spanning het die bloedkol-dag, 15 September, aangebreek. Beyers het as hoof van die Verdedigingsmag bedank en Smuts het sy pligte oorgeneem. Dieselfde aand is Beyers en De la Rey per motor van Johannesburg na Potchefstroom. Die polisie het in dié tyd hard probeer om ’n berugte bende onder ene Foster vas te trek. Hulle het alle motors voorgekeer en ondersoek. Die twee generaals was onbewus daarvan. In Langlaagte het ’n konstabel die voertuig probeer aanhou, maar toe dit verder ry, ’n skoot na die agterwiele gevuur. Die opslagkoeël het De la Rey in die rug getref, en hy was feitlik onmiddellik dood.
Die dood van een van die groot oorlogshelde het die land geskok. Baie Afrikaners het gemeen die regering het op dié wyse ontslae geraak van ’n magtige teenstander van sy oorlogsbeleid. Op die begrafnis in Lichtenburg was De la Rey se ou strydmakkers aanwesig, ook Botha en Smuts. Die mense was opstandig en die gevoel anti-regering. Die dag daarna (21 September) is op die dorp ’n eerste protesvergadering teen die deelname aan die oorlog gehou. Die vergadering het besluit dat die Regering strydig optree met onder meer “onze Christelike volkstradities”.