5 SEPTEMBER

GEBEURE

1939 – Genl. Hertzog bedank as Premier

Sondag, 3 September, kondig Chamberlain, die Britse premier, in die laerhuis aan dat die Britse regering oorlog teen Duitsland verklaar het. Dieselfde Sondag het genl. JBM Hertzog, Premier van die Unie van Suid-Afrika, sy kabinet na Groote Schuur ontbied. Hy het die Kabinet reeds die vorige dag uitvoerig ingelig oor sy reeds bekende standpunt dat hy in die Parlement gaan voorstel dat die Unie neutraal bly in geval van ’n oorlog tussen Brittanje en Duitsland. Op die Sondagvergadering het dit duidelik geblyk dat genl. Smuts en ander van sy kabinetslede hierdie standpunt nie onderskryf nie. Die volgende dag, Maandag 4 September, dien genl. Hertzog by die Volksraad sy neutraliteitsmosie vir bekragtiging in. Dit word die aand na ’n lang debat met ’n meerderheid van dertien stemme, onder wie vier oud-Nasionaliste, verwerp. In plaas van ’n verkiesing uit te skryf soos baie gehoop het, het goew-genl. sir Patrick Duncan genl. Smuts gevra om ’n nuwe regering saam te stel. Genl. Hertzog het sy amp op die 5de neergelê, en op 6 September het ’n erg verdeelde Suid-Afrikaanse volk tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree, een van die mees ingrypendste verdelingsfaktore in ons geskiedenis. Nou het vir die Nasionale Afrikanerdom net een pad oopgelê, ’n lang, moeisame en moeilike pad. Slegs ’n onafhanklike republiek, wat met verenigde kragte tot stand gebring is, sou in die toekoms ’n blywende einde maak aan ’n vernederende herhaling van 5 September.

GEBOORTES

Geen

STERFTES

1900 – Danie Theron, kommandant, baasverkenner en krygsman in die Anglo-Boereoorlog (* 9 Mei 1872)

Danie Theron was ’n baasverkenner in die Anglo-Boereoorlog.

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/