
DIE ETIESE KRISIS: VOORTBESTAAN IN GEREGTIGHEID
Haat vir wit mense is soms veroorsaak deur die “onbehoorlike behandeling” van gekleurde mense deur amptenare, diskriminasie en die beledigende optrede van sommige wit mense. Dit het ’n kommissie onder voorsitterskap van regter PM Cillié oor die skoolonluste bevind. Die belangrikste gevolg van die onluste was dat die opvatting laat vaar is dat swart mense net tydelik in die stede is en geen regte in die “blanke deel” van Suid-Afrika het nie. Daar was ’n gedagterigting dat die verblyf in die stede nie te aangenaam gemaak moes word nie omdat dit swart mense traag sou maak om hulle in die tuislande te vestig. Die grootste deel van Soweto het gevolglik geen elektrisiteit gehad nie. Ná die onluste is elektrisiteit en ander dienste op groot skaal aan Soweto voorsien.
Min sake het die bewind soveel skade aangedoen, ook in die buiteland, as die dood van ’n jong swart leier, Steve Biko, in September 1977 terwyl die polisie hom aangehou het. Die storm wat daaroor losgebars het, het heftiger geword toe die minister van justisie, Jimmy Kruger, op ’n kongres van die Nasionale Party gesê het dat Biko se dood hom “koud laat”.
In Oktober 1977 het die regering agtien organisasies verbied, twee koerante (The World en Weekend World) gesluit en ’n aantal mense ingeperk. Onder hulle was dr. Beyers Naudé, direkteur van die Christelike Instituut.
Internasionale boikotte en sanksies het aanvanklik nie veel skade aan die ekonomie berokken nie, maar die akademici het veral in die jare tagtig swaar gely onder ’n akademiese boikot. Wat seergemaak het, is ’n kulturele boikot deur Nederland, waarmee soveel akademici noue bande gehad het. Verskeie professore het geweier om Afrikaanse kollegas te ontvang of besoeke aan Suid-Afrika te bring. Só is juis dié wit mense gestraf wat die meeste gekant was teen apartheid.
Vanaf 1977 het stedelike terrorisme begin voorkom. Die aktiviste was hoofsaaklik jongeres wat ná die Soweto-onluste gevlug en in lande soos Angola opgelei is. In Januarie 1980 het drie mans ’n bank in Silverton, Pretoria ingestorm en vyftien mense aangehou. Na ’n paar uur het die polisie ingestorm en al drie mans doodgeskiet. Twee mense wat in die bank was, het later aan hul wonde beswyk. Tienduisend mense het die begrafnis van een van die terroriste bygewoon. Baie in die swart gemeenskap het hulle as helde beskou.
Afrikaners het dikwels ’n waarskuwing van NP van Wyk Louw aangehaal: een van die krisisse waarin ’n klein volk kan beland, kom voor wanneer ’n groot deel van die volk kon meen dat blote voortbestaan verkieslik is bo voortbestaan in geregtigheid. Die meerderheid blankes moes dus volgens baie van die intelligentsia soos die skrywers, joernaliste, kerkmense, sakelui en ander daarvan oortuig word dat die Suid-Afrikaanse bedeling onregverdig is en ingrypend verander moes word. Tientalle boeke – fiksie en nie-fiksie – het teen apartheid verskyn.
Die Afrikaanse koerante het ’n belangrike bydrae tot die debat gelewer deur die standpunte wat hulle gestel en die rubrieke, artikels en briewe wat hulle geplaas het. Onder die bekendste “verligte” redakteurs en senior joernaliste was Piet Cillié en daarna Wiets Beukes van Die Burger, Schalk Pienaar van Die Beeld, Willem Wepener, Rykie van Reenen en later Willem de Klerk van Rapport, Johannes Grosskopf en Ton Vosloo van Beeld, Hennie van Deventer van Die Volksblad en Harald Pakendorf van Die Vaderland.
Hoe die houding en denke van intellektuele verander het, toon twee uitsprake van een van die invloedrykste Afrikanerdenkers van sy tyd, Piet Cillié, redakteur van Die Burger. Hy het in 1963 ’n beskrywing gegee van hoe hy die Afrikanergemeenskap sien. Dit was deel van ’n meningswisseling tussen sy koerant en die Nederlandse Protestantse dagblad Trouw wat sterk teen apartheid gekant was. Cillié het gevra: “Wat besiel hierdie geharde, unieke wit volk van Afrika uit die Nederlandse stam?” Dit is veral ’n magtige drang na vryheid, voortbestaan en handhawing van die eie identiteit. Hy sê voorts: “Soos hulle geweier het om verswelg te raak deur die Britse imperialisme, weier hulle nou om te wyk voor ’n wêreldwye aandrang dat hulle spoedig of geleidelik hulle sal onderwerp aan swart meerderheidsregering.” ’n Nasie wat sy selfbeskikkingsreg prysgee en hom onderwerp aan andersoortige oorheersing, pleeg volgens Cillié hoogverraad.
Minder as 20 jaar daarna, in 1982, moes hy in ’n toespraak by die bekendstelling van PS (Flip) Smit en JJ Booysen se werk Swart verstedeliking erken: “Ons het te lank bly hoop, téén die oorweldigende getuienis in, dat die tuislandbeleid méér sou regkry, beter daarin sou slaag om Suid-Afrika as ’n gemenebes van plousibele nasiestate te orden, met elke volk min of meer gelukkig en vry in sy eie beloofde land. Nou dwing die feite, die onweerlegbare feite wat ons vriende hier monster, ons tot ’n pynlike herwaardering, só diep- en verreikend dat ons wel kan bid dat die beker liewer moet verbygaan.”