6 DESEMBER

GEBEURE

1906 – Die Transvaalkolonie verkry verantwoordelike bestuur van die Britse regering

Die Anglo-Boereoorlog het die Afrikaners van die twee voormalige Boererepublieke polities oorweldig gelaat. Die aanvanklike politieke afsydigheid van die Transvaalse Afrikaners is na 1903 deur ’n politieke herlewing vervang. Die regstreekse oorsaak was lord Alfred Milner se invoer van Chinese arbeiders na die Transvaal-kolonie. Genl. Louis Botha het ’n groot protesvergadering in Julie 1903 op Heidelberg toegespreek. Daar is besluit dat die regering die verdere invoer van Chinese moet staak, dat die Hollandse taal gelyke reg met Engels moet kry, en dat selfbestuur aan die Transvaal-kolonie toegeken moet word. Milner en sy ondersteuners wou Transvaal tot elke prys Brits-georiënteerd hou, maar het deur hulle maatreëls die Afrikaners eerder vervreem. In Maart 1904 is ’n Volkskongres in Pretoria gehou waar ’n nuwe politieke party, bekend as Het Volk met Botha as leier, tot stand gekom het. Die plegtige begrafnis van pres. Paul Kruger in Desember 1904 in Pretoria, het die Afrikanerdom tot groter teenstand van Milnerisme besiel en gelei tot die aandrang op verantwoordelike bestuur. Die druk op Milner het meegebring dat ’n tussentydse vorm van verteenwoordigende bestuur, die sg. Lyttelton-grondwet, in Maart 1905 vir Transvaal aanvaar is. Dit is egter nooit in werking gestel nie, want die meerderheid Transvalers sou met niks minder nie as verantwoordelike bestuur tevrede wees. Nadat Milner in April 1905 Suid-Afrika verlaat het en die Campbell-Bannerman-regering in Brittanje ’n meer versoenende houding teenoor die voormalige Boererepublieke aangeneem het, is verantwoordelike bestuur amptelik op 6 Desember 1906 aan Transvaal verleen. Daardeur het Transvaal gelyke status met die Kaapkolonie en Natal gekry. ’n Wetgewende Raad van 15 lede is ingestel. In Februarie 1907 is ’n algemene verkiesing in Transvaal gehou, waarin Het Volk ’n besliste meerderheid teenoor die ander politieke partye behaal het. Genl. Louis Botha het Eerste Minister van Transvaal geword. In die Oranjerivierkolonie het ’n soortgelyke politiek ontwikkeling onder leiding van die Orangia-Unie plaasgevind en is verantwoordelike bestuur amptelik op 5 Junie 1907 ingestel.

 

GEBOORTES

1823 – Johannes Hendricus (Jan) Brand, vierde President van die Oranje-Vrystaat († 14 Julie 1888)

Johannes Hendricus Brand is op hierdie dag in Kaapstad gebore. Hy was advokaat, politikus en Staatspresident van die Oranje-Vrystaat, waartoe hy op 2 Februarie 1864 ingehuldig en vier keer herkies is. Hy is die vader van die slagspreuk: “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen.” As diplomaat het hy volhardend die goeie saak van die Vrystaat probeer bevorder, die ekonomie probeer versterk, sy burgers te velde in die Basoeto-oorloë bygestaan en bemoedig, die diamantkwessie versigtig en korrek gehanteer, konsuls in Europa en die VSA aangestel en voordelige traktate van handel en vriendskap met verskeie Europese state gesluit. Op sy standbeeld in Bloemfontein staan die woorde: “Vader des Volks”, wat die betekenis van sy lang presidentskap opsom. Hy was ’n fynbeskaafde leier, bedeeld met groot wysheid, ’n geliefde gesinsman, gasvry en van Christelike wandel. Hy is in die amp van die Staatspresident op 14 Julie 1888 in Bloemfontein oorlede. Brand het ’n geslag waardige Afrikaners verteenwoordig wat deur die jare heen die beste vir hulle eie mense vanuit ’n eie sterk posisie gelewer het.

1927 – Gerhard (Gé) Korsten, sanger († 29 September 1999)

Gé Korsten was ’n legendariese Suid-Afrikaanse sanger wat ’n groot stempel op die Afrikaanse kultuur afgedruk het. Vandag nog word sy lied “Liefling” by rugbywedstryde in Bloemfontein en Pretoria gespeel.

 

STERFTES

1963 – Henry Allen (HA) Fagan, skrywer, politikus, regter en joernalis (* 4 April 1889)

Henry Allan Fagan is op Tulbagh gebore. Na studie in die regte op Stellenbosch en in Londen was hy agtereenvolgens advokaat in Kaapstad, onder-redakteur van Die Burger, professor in Regsgeleerdheid aan die Universiteit van Stellenbosch, waarnemende regter in Kimberley en van 1938 tot 1939 Minister van Naturellesake, Onderwys en Volkswelsyn in die Kabinet van genl. JBM Hertzog. Van 1957 tot sy aftrede in 1959 was hy Hoofregter. Naas sy bydrae tot die openbare lewe, het hy ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse literatuur gelewer, waarvoor die Hertzogprys in drama van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1935 aan hom toegeken is. Veral as toneelskrywer het hy ’n ereplek in die Afrikaanse literatuur verower. Hy is die baanbreker vir die Afrikaanse drama oor die daaglikse en aktuele lewe. In die dertiger- en veertigerjare was sy toneelstukke besonder gewild op die Afrikaanse verhoë. Regter Fagan is op 9 Desember 1963 in Kaapstad oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/