H.A. FAGAN (1889-1963)
Henry Allan Fagan was ’n bekroonde skrywer, digter, parlementslid en hoofregter van die Unie van Suid-Afrika.
H.A. Fagan is op 4 April 1889 op Tulbagh in die Wes-Kaap gebore en was die oudste van sewe kinders. Hy is vernoem na die Ierse stamvader wat van Cork in Ierland na Suid-Afrika gekom het. Hy het sy skoolopleiding op Tulbagh begin, maar toe hy omtrent tien jaar oud was, het sy ouers na die Strand in die Wes-Kaap en ’n paar jaar later na Somerset-Wes verhuis. Hier het hy gematrikuleer en verskeie pryse vir letterkunde en wiskunde verwerf. Dit was veral sy letterkundeonderwyser, mnr. Immelman, wat ’n belangstelling in Nederlandse letterkunde by hom gekweek het en hom geïnspireer het om self Nederlandse gedigte te skryf. Die twee komponiste Johannes Fagan en Gideon Fagan was sy broers.
Ná skool het hy van 1905 tot 1910 aan die Victoria-kollege (later die Universiteit van Stellenbosch) gestudeer en in die koshuis Tertia tuisgegaan. Hy het die BA-graad en Senior Kerkadmissie behaal en, deur privaat lesse by dr. Cluver, ook die Preliminêre LLB. Tydens sy studies het hy verskillende klaspryse verower, onder meer die prys vir die eerste plek in BA vir Moderne Tale. Hierdie prys was in die vorm van ’n goue medalje geskenk deur die Graaf van Cornwall, later koning George V, die destydse kanselier van die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). Daarna was hy ses maande lank verbonde aan die Kweekskool, maar het ’n tyd lank in Nederland as lektor waargeneem in die plek van prof. W.J. Viljoen, wat as direkteur van onderwys in die Oranje-Vrystaat aangestel is. Tydens sy studentejare was hy ’n jaar lank die redakteur van die studenteblad en ’n Nederlandse gedig wat hy geskryf het, is daarin gepubliseer.
In 1911 het hy na Londen vertrek om aan die Middle Temple in die regte te studeer. Hy het ’n aantal pryse van die Council of Legal Education, wat die eksamens vir die Inns of Court in Londen afgeneem het, ontvang, waaronder die regsboeke van sy keuse wat die Council in leer laat inbind het met hul stempel daarop. As kranige skaakspeler het hy die Universiteit van Londen se skaakspan teen Oxford en Cambridge verteenwoordig. Hy het die LLB-graad in 1914 behaal en as lid van die Middle Temple is hy tot die Engelse balie, en later dieselfde jaar, tot die Suid-Afrikaanse balie, toegelaat.
Hy het aan die begin van 1914 na Suid-Afrika teruggekeer en hom in Kaapstad as advokaat gevestig. Hy het op 30 Augustus daardie jaar die sekretaris van die Komitee van Oprigters van Nasionale Pers geword en in 1915 en 1916 was hy lid van die eerste direksie van hierdie maatskappy. Werksdruk het egter gemaak dat hy hierdie poste in Mei 1916 neergelê het. Van 1916 tot 1919 was hy assistent-redakteur van Die Burger en terselfdertyd het hy redaksionele toesig oor Die Huisgenoot gehou. Daarna het hy uit die koerantwese bedank.
In 1920 was hy die eerste professor in Romeins-Hollandse reg aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy het in 1921 tot die Kaapse balie teruggekeer en deur sy bekwaamheid en toewyding het hy gou ’n omvangryke en lonende praktyk opgebou. Hy was ’n tyd lank voorsitter van die Helpmekaar-beweging in die Kaapprovinsie. In 1929 het hy as wetsadviseur vir die Provinsiale Raad bedank om hom verkiesbaar te stel as kandidaat vir die Nasionale Party in die Hottentots-Holland-kiesafdeling. Hy is egter by die stembus verslaan en het na sy regspraktyk teruggekeer. In 1932 is hy as waarnemende regter in Kimberley aangestel.
In Julie 1933 het hy weer tot die politiek toegetree toe hy die kiesafdeling Swellendam vir die Nasionale Party in die Volksraad verteenwoordig het terwyl hy steeds deeltyds as advokaat in Kaapstad gepraktiseer het. Toe die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party in 1934 saamgesmelt het om die Verenigde Party te vorm, het die Nasionale Party se kongres in die Kaapprovinsie teen samesmelting gestem en hy is outomaties daarvan uitgesluit hoewel hy dit gesteun het. Hierna het hy onafhanklik geword maar hom in 1936 by die Verenigde Party aangesluit. In 1937 het hy ’n aanstelling as regter van die hand gewys en hom eerder in die algemene verkiesing as kandidaat beskikbaar gestel. Hy het die kiesafdeling Stellenbosch verower, waarna hy as Minister van Naturellesake, Opvoeding en Volkswelsyn in Hertzog se kabinet aangestel is. Toe Hertzog in 1939 gedwing is om as eerste minister te bedank omdat hy Suid-Afrika se neutraliteit tydens die Tweede Wêreldoorlog wou handhaaf, het Fagan hom in die opposisie opgevolg en in September 1939 weer as advokaat begin praktiseer. Hy het egter as gewone Volksraadslid aangebly tot 1943. In Maart 1943 het hy toegetree tot die Kaapse Regsbank en in 1950 het hy appèlregter geword. Van 1957 tot in April 1959 was hy die hoofregter van die Unie van Suid-Afrika. In sy hoedanigheid as hoofregter is hy in 1957 beklee met die Uitvoerende Gesag van die Unie terwyl die goewerneur-generaal, dr. E.G. Jansen op buitelandse besoek was. Hy was die eerste regter wat die ampseed in Afrikaans afgelê het nadat hy die eed uit Engels vertaal het. Na sy aftrede het hy weer tot die partypolitiek toegetree as stigter en leier van die kortstondige Nasionale Unie, as senator van die Verenigde Party in 1961 en as staatspresidentskandidaat vir dié party in dieselfde jaar.
In 1946 is hy aangestel as voorsitter van die Kommissie van Ondersoek na Naturellewette, waaruit die Fagan-verslag voortgevloei het. Hierin het hy die ekonomiese integrasie van swart mense in die land en tendense wat eindelik tot swart oorheersing sou lei, duidelik uitgewys. Hy het totale segregasie, later bekend as apartheid, as onuitvoerbaar verwerp terwyl hy ook nie ten gunste van gelykstelling op daardie stadium was nie. Sy praktiese aanbeveling was die daarstelling van konstruktiewe kommunikasiekanale en gedurige onderhandeling sodat die pad vorentoe gesamentlik en op vreedsame en regverdige wyse uitgewerk kon word. As regsgeleerde het hy reeds in 1915 ’n studie oor die Verkiesingswet en prosedure van die Kaapprovinsie gemaak. Later het hy ’n nuwe snelskrifstelsel, wat in 1950 gepubliseer is en daarna omtrent 35 jaar lank aan en af gebruik is, ontwerp. Na sy uittrede as hoofregter het hy hom krities teen die regering se apartheidsbeleid uitgelaat. Hy het die werk Ons verantwoordelikheid in 1960 geskryf; dit is feitlik gelyktydig in Engels as Our responsibility vertaal en uitgegee. In sy werk Co-existence, wat in 1963 verskyn het, het hy die idee van totale rasseskeiding as onprakties verwerp. Hy het van 1938 af op die redaksie van die Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg gedien.
Op skool het Fagan ’n aantal Nederlandse gedigte geskryf, maar dit was eers tydens sy studies in Londen wat hy ernstig begin skryf het. Sy oom, prof. J.J. Smith, wat later die eerste redakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal was, was in daardie tyd ook ’n student in Londen. Smith se passie vir Afrikaans het Fagan tot die gebruik van hierdie taal bekeer, eerder as die vereenvoudigde Nederlands wat prof. W.J. Viljoen in Stellenbosch aangehang het.
C. Louis Leipoldt was in hierdie tyd ook in Londen en Smith het die letterkundige krag in hierdie klein Afrikaanse kring gemobiliseer. Leipoldt se eerste digbundel, Oom Gert vertel en ander gedigte, met ’n voorwoord deur Smith, het as groot aansporing vir hom gedien. Hier het hy sy eerste gedigte geskryf, onder meer “Ouboeta” en “Die nooientjie van die Onderveld”. Terug in Suid-Afrika was Smith een van die stigters en redakteur van die tydskrif Ons Moedertaal, en hy het Fagan ook aangespoor om bydraes vir hierdie tydskrif te lewer. Sy eerste gepubliseerde werk was ’n paar kortverhale wat in Ons Moedertaal, wat later Die Huisgenoot geword het, verskyn het. Later is dit in sy boek Uit ’n studente-album opgeneem.
Dit was egter veral op die gebied van drama wat hy ’n groot bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gemaak het; saam met J.F.W. Grosskopf is hy beskou as die grondlegger van Afrikaanse drama. Hy het ’n aantal vollengtedramas en eenbedrywe geskryf. Sy vroeë naturalistiese prosa is in Uit ’n studente-album gebundel; dit het ses kortverhale bevat waarvan twee van ’n humoristiese aard was. In 1956 het hy ’n Engelse wetenskapfiksieroman, getiteld Ninya, gepubliseer; verder het hy Immensee en ander verhale van Theodor Storm in Afrikaans vertaal. In 1921 het hy die verhalebundel Uitgesogte Afrikaanse verhale saamgestel; hierdie verhale deur skrywers soos Rikie Postma, Sarah Goldblatt, Essie Malan en selfs die latere staatspresident, adv. C.R. Swart, het gebrekkige vakmanskap in die skryf van verhale getoon en was sonder veel meriete.
Hy het twee digbundels die lig laat sien; naamlik ’n Eerste digbundel en Soos die windjie wat suis. Eersgenoemde het die digkuns van die tweede geslag na 1900 ingelui en nog die invloed van sy tyd in terme van digterlike vorm en toonaard getoon. Sommige van die ballades wat hierby ingesluit is, was nie vry te spreek van die oordrewe sentimentele aard van die rymelary van die Eerste Taalbeweging nie. Baie van die gedigte in hierdie bundel is grondig hersien en verbeter; dit is saam met sowat veertig nuwe gedigte onder die titel Soos die windjie wat suis, uitgegee. Die een gedig uit hierdie bundel wat groot bekendheid verwerf het, was “Ek het ’n huisie by die see”. Laurinda Hofmeyr het dit getoonset en in 1987 het Laurika Rauch, wat lief daarvoor is om toonsettings van gedigte te sing, dit op haar album Encore Laurika ingesluit. Dit het ’n groot treffer vir haar geword.
Op 3 Junie 1922 is hy getroud met Queeny Theron van Tulbagh, wat ’n toneelgeesdriftige was. Drie seuns is uit die huwelik gebore. Hy het aktief aan die kultuurlewe deelgeneem en benewens sy aktiwiteite by die Toneelvereniging was hy lid van die Helpmekaar-beweging, die Vlagbeweging en die Oranjeklub. Daarby was hy ’n stigterslid en later erelid van die Bellville Afrikaanse Toneelvereniging.
Hy is op 6 Desember 1963 in die ouderdom van 74 jaar aan ’n hartaanval oorlede.
Daantjie Badenhorst
