
6 JANUARIE – DIE EERSTE SLAWE KOM AAN
Herry, wat soek was sedert die moord en diefstal van Oktober 1653, het in Junie 1655 weer by die Fort opgedaag. Hy het veertig mooi melkkoeie gehad, en het ’n ander Khoi-Khoi-stam van die moord en diefstal beskuldig. Niemand het hom geglo nie, maar omdat die Here XVII gelas het dat Van Riebeeck die vrede met die Khoi-Khoin tot elke prys moes bewaar, is hy weer as “trouwe vrunt” verwelkom.
Van Riebeeck het ook besluit om sy dienste as tolk en raadgewer te gebruik vir ’n ekspedisie wat hy die binneland ingestuur het. Toe die kos op was, het Herry aangebied om alleen verder te gaan en vir die Kompanjie handel te dryf. Twee maande later was hy terug met die storie dat die ander Khoi-Khoin sy handelsware gesteel en hy net dertien beeste van hulle in ruil gekry het. Die aansienlike trop wat hy vir homself ingeruil het, het hy op ’n veilige afstand van die Fort gelaat.
Maar die Khoi-Khoin was net een van die vraagstukke van die kommandeur. Arbeid was net so ’n kwessie. Sommige van die mense in sy diens was afkomstig van die laagste klas in die Nederlandse samelewing. Hulle was opstandig van aard en het hulle nie gemaklik aan gesag onderwerp nie. Dikwels het hulle nie veel gehou van gereelde hande-arbeid nie.
Omdat Van Riebeeck ’n hele paar jaar lank in die Ooste was, het hy gewoond daaraan geraak dat wit mense swaar vorme van handewerk deur gekleurde mense laat doen het. Hy wou dus graag slawe invoer.
Slawerny, die toestand waarin een mens die eiendom is van ’n ander, is ’n mensonterende praktyk wat al baie eeue oor die hele wêreld bestaan het. In die 16de en 17de eeu het eers die Portugese, daarna die Engelse, Franse en Hollanders hulle daarop begin toelê. Die slawehandel was tot aan die begin van die 19de eeu ’n algemeen aanvaarde onderdeel van die ekonomiese stelsel. Skepe is met gewere, ammunisie, voedsel, alkohol, tekstiel en erdewerk na Afrika. Daar is dié ware by handelaars verruil vir slawe. Dié handelaars het hul eie mense gevang en as slawe verkoop.
Nadat die slawe van die hand gesit is, veral in Amerika, het die skepe met suiker, katoen en tabak na Europa en veral Engeland teruggevaar. Deur hierdie voordelige handel het die Engelse hawens gegroei en is die opkoms van nuwe nywerhede moontlik gemaak. Letterlik miljoene mense, volgens sommige tot 20 miljoen, is uit Afrika verskeep. Miljoene het omgekom tydens die jagtogte op hulle, die mars na die kus, die wagtyd en die verskriklike seereis. Die groot swart bevolkings van die VSA, Brasilië en die Wes-Indiese eilande is afstammelinge van die slawe. Sowel in Latyns-Amerika as die latere VSA was daar slawe-opstande, onder meer in Haïti, San Domingo, Suid-Carolina en Virginia. Die Engelse aandeel aan die slawebedryf word bevestig deur ’n navorsingstuk, Slavery and London, deur Nick Merriman van die Londense Museum: “England, and later Great Britain, got fat on the back of slaves, becoming the biggest slave-trading nation on earth.” Hy word aangehaal deur Marthinus van Bart in Kaap van slawe. Hy beskryf die Engelse slawebedryf van 1562 tot 1910, met spesiale verwysing na Kaap die Goeie Hoop vanaf 1680.
So algemeen was slawerny dat dit nie vreemd was dat Van Riebeeck daaraan gedink het as oplossing vir sy arbeidsprobleme nie. Die Kompanjie was die gedagte goedgesind en so het die Kaap van 1658 af slawe gekry. Die Kaapse slawe was van Indië en Oos-Asië afkomstig, asook van Madagaskar en die vasteland van Afrika, veral die deel tussen Delagoabaai en Zanzibar. Die skrywer en historikus Dan Sleigh sê dat dit onwaar is dat die VOC slawe op Madagaskar gesteel en ontvoer het. Wat werklik gebeur het, is dat die konings op dié eiland goud, gewere en alkohol wou hê en daarvoor mans, vroue en kinders gegee het. ’n Hele aantal tale – volgens sommige navorsers tot vyftien – is as gevolg van die slawehandel gereeld aan die Kaap gebruik.
Die meeste slawe uit die Ooste het Maleis-Polinesiese tale gepraat. Die meerderheid kon hulle op ’n manier met Portugees behelp – ’n soort aanleerders-Portugees wat later Maleis-Portugees genoem is. Nadat die Hollanders die Portugese se handelsgebied oorgeneem het, is Maleis-Portugees nog dekades daarna gehoor op Nederlandse en ander skepe wat die Kaap aangedoen het. Maleis is lank aan die Kaap gepraat en geskryf.
Die slawe moes noodwendig gou Hollands leer – party by die huishoudings waar hulle gewerk het, ander in hul gemeenskaplike verblyfplekke soos die slawelosie. Nie almal het dit behoorlik leer praat nie. Hulle het die taal beïnvloed wat aan die Kaap gepraat is.