“VERSKROEIDE AARDE”

Die Boere het talle knap generaals gehad, maar veral drie het in die geheue van die Afrikaners bly voortleef: genl. Botha en veral genls. De Wet en De la Rey. De Wet was ’n man met ’n vinnige humeur, wat aan die begin van die oorlog maklik die manne met ’n slaanding kon deurloop om hulle te dissiplineer. Maar hy was daarby iemand wat vir gewondes, ook Britse soldate, water help aandra het om hul lyding te versag.

Die Britte het sy vernuf reeds in die oorlog bewonder. Selfs ná sy mislukte inval in die Kaapkolonie moes die oorlogsdrywers in Brittanje van hulle eie mense hoor: “Hy is die grootste militêre genie wat die oorlog opgelewer het, selfs na die mening van die gewone Brit.” In die Britse parlement is gesê: “Die oorlog het ’n groot generaal gemaak, maar hy is nie Engels nie – sy naam is De Wet.”

Een van die skitterendste oorwinnings wat die Boere behaal het, was dié van genls. De la Rey en Beyers op 13 Desember 1900 by Nooitgedacht in Wes-Transvaal. Hulle het ’n kamp aan die voet van die Magaliesberge aangeval; die Britse soldate het gevlug en hul kamp net so in die hande van die Boere gelaat. Dié oorwinning het die Transvaalse burgers met nuwe moed besiel. Vir die Engelse was die oplewing in die stryd onaangenaam veral nadat Buller aan die einde van November 1900 bevel neergelê en vertrek het, oortuig daarvan dat die land binne enkele maande totaal onderwerp sou wees. Kitchener het hom as opperbevelhebber van die Britse magte opgevolg. Dit was vir hom en sy ondergeskiktes duidelik dat hulle dit vir die Boere onmoontlik moes maak om die oorlog voort te sit.

Reeds in die loop van 1900 het lord Roberts begin met die beleid van verskroeide aarde. In die loop van 1900 is al hoe meer Boerewonings verwoes – eers alleen dié waarvandaan op die Britte geskiet is, later ook huise waar daar geen Boer in die nabyheid was nie.

Veral van die begin van 1901 af het Kitchener met die verwoesting voortgegaan. Dit was ’n stelselmatige verwoesting soos wat nog met min lande geskied het, skryf GD Scholtz. Lord Alfred Milner het in 1902 toegegee dat tot 30 000 Boerewonings verwoes is. Die Britte het dorpe afgebrand en saam daarmee soms die kerke. Alle kosvoorrade soos mielies of koring op die plase is tot niet gemaak. Vee wat die Britte nie self kon saamneem nie, is op groot skaal doodgemaak. “Kortom, die Vrystaat en Transvaal is binne enkele maande verander in een groot wildernis waarin daar haas geen voedsel meer vir mens of dier te vind was nie”, skryf Scholtz.

Kapt. L March Phillips het oor die Vrystaat geskryf: “Farm Burning goes merrily on, and our course through the country is marked as in prehistoric ages, by pillars of smoke by day and fire by night.”

De la Rey skryf in Desember 1901 dat die land in ’n puinhoop verander het. Daar was niks meer te vinde nie as die mure van geboue, behalwe waar ook dié met dinamiet opgeblaas is. Dorpe is heeltemal afgebrand. Waar die vee nie weggevoer kon word nie, is hulle by mekaar gejaag en doodgeskiet of met sabels en messe doodgesteek. Graan op die lande is vernietig. Die verwoesting van huise en voedselvoorrade het die burgers swaar getref. Hulle moes alles wat hulle wou hê, van die vyand buit. Boere het gevange Britte “uitgeskud” en hul klere gedra.