6 MEI
GEBEURE
1662 – Zacharias Wagenaer as tweede Kommandeur van die Kaap die Goeie Hoop aangestel
Zacharias Wagenaar volg Jan van Riebeeck op as die nuwe Kaapse goewerneur. Die pos sou vier jaar lank deur hom beman word.
1852 – Voortrekkerleier Andries Pretorius besoek Durban en word hartlik ontvang
1889 – Pres. Kruger lê hoeksteen van die Staatsgebouw aan die Kerkplein, Pretoria
Die Volksraadsitting in 1889 het die oggend van 6 Mei in die Presidentsteater ’n aanvang geneem. ’n Belangrike gebeurtenis uit die oogpunt van die ontwikkeling van die argitektuur van staats- en sakegeboue aan die Pretoriase Kerkplein, wat om 4 nm. op 6 Mei 1889 op die terrein van die voormalige Eerste Ou Goewermentsgebou plaasgevind het, was die hoeksteenlegging van die indrukwekkende “Staatsgebouw” van die ZAR.
Na die Staatspresident se aankondiging dat hy die hoeksteen gelê het, het hy in ’n toespraak beklemtoon dat die pas afgelope hoeksteenlegging ’n gebeurtenis is wat almal met vreugde en dankbaarheid moet vervul, aangesien dit ’n bewys is van die tagtigerjare wat gevolg het op die Britse Tussenregering, die Transvaalse Vryheidsoorlog en die herstel van die ZAR en die ontdekking en ontginning van goud op die Witwatersrand was kommervol en armoedsjare vir die Republiek. Daarom kon die Staatspresident met reg aan sy gehoor rondom die hoeksteen vra:
“Wie zou Vijf jaren geleden gedacht hebben, dat wij thans zulk een gebouw zouden hebben; dat zulk een groot gebouw, van zulke afmetingen en zoo kostbaar voor onze werkzaamheden zou benodigd zijn? Wie heeft, zeg ik, dit vijf jaar geleden gedacht? Doch wat men zich toen niet kon verbeelden is thans werklikheid geworden …”
Hy het verder beklemtoon dat die vooruitgang van die Republiek behoeftes laat ontstaan het, en dat die amptenare wat aangestel moet word ’n goeie gebou noodsaaklik gemaak het. Die staat kon trouens nie meer net tevrede wees solank hy voorsiening gemaak het vir ’n dak oor die koppe van die amptenare en die volksverteenwoordigers nie:
“Neen, de positie en de waardigheid van den staat eischen ten sterkste, dat de vertegenwoordigers van het volk zoowel als de Regeering een nieuw gebouw krijgen. Gij zult spoedig dit gebouw zien verrijzen …”
Nadat die Staatspresident vervolgens lof toegeswaai het aan die jeugdige “Departement van Publieke Werken”, wat onder leiding van sy “Chef, den waardigen heer Wierda” en sy assistent (Klaas) Van Rijsse die nuwe staatsgebou ontwerp het en hy ook melding gemaak het van die werk van die boukontrakteur (John J Kirkness), het hy verwys na die denkbeelde wat in die Departement bedink is en wat spoedig in klip, baksteen en ander materiale sou verrys op die plek waar sy toehoorders staan.
Toe het die spreker se gedagtes onwillekeurig na die verlede van sy volk gegaan toe hy, piëteitsonthalwe en verankerd aan sy volksverlede, die volgende opmerkings gemaak het:
“Maar vrienden, al nemen deze gebouwen de eerste plaats in onze gedachten in, laten wij toch het oude gebou niet vergeten dat op deze selfde plek stond en waar wij zoveel lief en leed te zamen hebben doorgebracht. Met vele moeilijkheden hebben wij daar te kampen gehad, en velen daarvan hebben wij overwonnen. Laat ons derhalve, nu wij in een tijd van bloei spoedig dit Nieuwe gebouw zullen intreden, niet vergeten wat wij in het verleden hebben geleden. Laat ons onze gevoelens te kennen geven door dank aan de Heer toe te bregen, die zoveel weldaden aan ons bewezen heeft …”
Vervolgens het die Staatspresident verwys na die tydperk voor, tydens en na die ontdekking en ontginning van goud in die ZAR, die gevolge daarvan vir die staat en gewaarsku teen die moontlikheid van ondankbaarheid by die volk “opdat deze schatten niet in een vloek voor ons veranderen”. Nadat hy sy gehoor herinner het aan die feit dat “u, die Gods volk zijt, en u zelven als zoodanig erkent”, en verwys het na Psalms 89 en 72, het hy sy rede afgesluit en die aanwesiges uitgenooi om die bouwerk, sover dit reeds gevorder het, versigtig te besigtig.
1902 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Holkrans
’n Zoeloe impi van ongeveer 300 man oorval die kommando van veldkornet Potgieter in hul slaap binne ’n grot. Die kommando het uit sowat 70 bestaan, waarvan 65 Burgers vermoor is. Die lyke van die gesneuweldes was op die gruwelikste wyse denkbaar geskend. Dat die geveg baie erg moes gewees het spreek uit die feit dat sowat 52 Zoeloes gesneuwel het, en nog 48 ander gewond was.
1990 – PW Botha bedank uit Nasionale Party
2007 – Naspers stel sy nuwe Sondagkoerant Sondag bekend
GEBOORTES
1831 – Gezina Susanna Kruger (neé du Plessis), eggenote van pres. Kruger († 20 Julie 1901)
Met Gezina Kruger se afsterwe op hierdie dag het sy pres Kruger diep bewoë en verslae in ballingskap agtergelaat. Meer as 55 jaar lank het sy hom as troue lewensmaat in voor- en teëspoed bygestaan. Gezina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis is gebore op 6 Mei 1831 en maak as kind die Groot Trek mee in die Potgietertrek. As jong seun het Paul Kruger haar, ‘n niggie van sy eerste vrou, geken en na die dood van sy eerste vrou is hy met Gezina in Januarie 1846 getroud. Uit hulle huwelik is sestien kinders gebore. Gezina het jare lank met swak gesondheid gesukkel en etlike kere by die dood omgedraai. Toe Kruger in 1877 na Europa moes vertrek om teen die anneksasie van Transvaal beswaar te maak moes hy haar siek op Boekenhoutfontein agterlaat. Weens sy toenemende politieke bedrywighede het Kruger in 1881 besluit om permanent in Pretoria te gaan woon. In 1883 word hy vir die eerste keer tot president verkies. Ten spyte hiervan het die Krugergesin hulle natuurlike en eenvoudige huislike lewe voortgesit. As boerevrou hou Gezina melkkoeie aan op hulle groot erf in Kerkstraat en kry hulle al hul lewensbenodigdhede van hulle plaas af. Aan haar man se toenemende openbare bedrywighede het sy nie deelgeneem nie. Sy verskyn op geen foto waar die President in die openbaar verskyn nie. As tipiese Afrikanervrou van die negentiende eeu het sy dit as haar eerste plig gevoel om vir haar man ‘n rustige en warme huislike lewe te skep en ‘n goeie moeder vir hulle groot gesin te wees. Sy was ‘n knap huisvrou en bekend vir haar pragtige fyn naaldwerk. Volgens getuienis van tydgenote was sy ‘n sagte mens, beskeie, vriendelik en altyd bereid tot opoffering. Vir die President was sy ‘n steunpilaar, en hy was afhanklik van haar toegewyde versorging. Op portrette waar sy in deftige boeredrag as Presidentsvrou verskyn is haar houding rustig en kalm, die blik in die helder oë onbevrees. Gezina Kruger was diep godsdienstig en gelowig. Saam met die President besoek sy gereeld die Gereformeerde Kerk in Kerkstraat waar hulle kerkstoele vandag nog bewaar word. Soos vir talle Afrikanervroue in hierdie jare help haar geloof haar deur moeilike tye en kry sy krag om beproewinge te verduur en te berus. Kort voor haar dood was haar laaste boodskap aan haar man dat hy sy vertroue in God moet stel. As Presidentsvrou het sy ook die smart en ontwrigting van die Engelse Oorlog beleef. Vol kommer het sy die verloop van die oorlog saam met die President gevolg. Vier van haar seuns, vyf skoonseuns en 33 kleinseuns was op kommando. Saam met duisende ander Afrikanervroue in hierdie jare, in konsentrasiekampe of vlugtend in die veld, het sy die smart beleef van mans en seuns wat gesneuwel het of gevange geneem is. Toe pres Kruger op 29 Mei 1900 in ballingskap vertrek kon sy hom weens swak gesondheid nie vergesel nie. Dit moes ‘n bitter afskeidsuur gewees het met die wete dat hulle mekaar waarskynlik nooit weer sou sien nie. Op 20 Julie 1901 het Gezina sag en berustend heengegaan. Sy was ‘n voorbeeld van die tipiese Afrikanervrou van daardie eeu, gevorm en gestaal deur die patriargale pionierslewe – vroue wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie, bekwaam en selfstandig. In haar loop ook soos ‘n goue draad dié dinge wat die Afrikanervrou van die negentiende eeu as kultuurdraer gekenmerk het: haar geloof en nasietrots wat sy as vanselfsprekend aanvaar en uitgeleef het.
1922 – Miems de Bruyn, aktrise († 14 April 2010)
Miems de Bruyn sal veral onthou word vir haar rol as tant Kriekie de Waal in die televisiereeks Nommer asseblief, maar sy het voor en na die tyd in ’n aantal rolprente en televisiereekse gespeel en sy was saam met Al Debbo die hoofkarakters in die musiekvideo van Steve Hofmeyr se treffer “Pampoen”.
1922 – Anna Elizabeth (Elize) Botha, voormalige presidentsvrou († 6 Junie 1997)
Anna Elizabeth Botha, gebore as Anna Elizabeth Rossouw, was die vrou van staatspresident Pieter Willem Botha, en gevolglik Suid-Afrika se eerste dame vanaf 1984 tot 1989. Mnr. Botha het van 1978 tot 1984 as die eerste minister van Suid-Afrika gedien.
STERFTES
1825 – Lady Anne Barnard, die vrou van die koloniale sekretaris Andrew Barnard en ’n kroniekskrywer van die daaglikse lewe in die kolonie in ’n reeks briewe (* 12 Desember 1750)
Lady Anne Barnard was ’n Skotse digteres en brieweskryfster. Lady Anne Barnard was een van die ou Kaap se mees omstrede vroue en het baie gedoen om die verskillende bevolkingsgroepe, ná die Britse besetting van die Kaap in 1795, nader aan mekaar te bring.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.