EERSTE APARTHEIDSWETTE

Die opposisie en die buitewêreld was geskok oor Smuts se neerlaag en hiperkrities teenoor die NP. “Don’t give the Nats a sporting chance!”, het oudmin. JH Hofmeyr gesê. Die VP het soveel steun gehad dat dit kon hoop om gou weer aan bewind te kom. Genl. Smuts het die 1948-uitslag bestempel as ’n tydelike terugslag, ’n “reverse”, en het sy volgelinge opgeroep “to reverse the reverse”.

In 1949 het die VP inderdaad iets beter gevaar in die provinsiale verkiesing. Smuts het die kans geleë geag om met ’n groot aanslag te kom. In die senaat het die regering en opposisie elk 22 lede gehad. Omdat die president van die senaat uit die regering gekom het, kon die opposisie telkens wetgewing verongeluk. In die brandpunt was onder meer ’n wet wat aan die Suidwes-blankes verteenwoordiging in die Volksraad sou gee. Maar op 22 Maart 1949 kondig die VP aan dat hy sen. JM van H Brink uit sy koukus skors weens sy standpunte oor Suidwes en die kleurkwessie. Hy het bedank, en die NP kon ’n eie senator aanstel. Die wet is deurgevoer en ’n Suidwes-verkiesing is in 1950 gehou. Die NP het al ses setels gewen. Die skorsing van Brink het die VP suur bekom.

Hoewel genl. Smuts bewus daarvan was dat sy kragte afneem, het hy sy politieke en parlementêre werk nougeset voortgesit. Voor die parlementsitting van 1950 word hy siek, maar woon dit by en raak betrokke by ’n besige program ter viering van sy tagtigste verjaarsdag op 24 Mei 1950. Terwyl hy hiermee besig is, word hy getref deur ’n ernstige kroonslagaartrombose. Hy herstel, maar die skade aan sy hart was baie ernstig. Op Sondag 10 September 1950 vier hy nog lentedag saam met sy kleinkinders in die tuin van sy plaashuis op Doornkloof, Irene, naby Pretoria. Ook die volgende dag lyk hy beter en sit nog die aand aan die hoof van die etenstafel. Maar teen halfagt gaan sit hy op die koppenent van sy bed en sterf terwyl twee dogters teenwoordig was.

Die nuus is kort daarna aan dr. Malan oorgedra waar hy op ’n kongres van die Transvaalse NP opgetree het. Hy het ’n ruk met sy kop in sy hande gesit en die gehoor meegedeel dat Smuts oorlede is. Hy het hulde aan hom gebring as groot Afrikaner, en die gehoor gevra om uit eerbied op te staan.

Ná sy verkiesingsnederlaag het Smuts meer as eenmaal sy nood bekla by sy raadgewer en vriend, die opvoedkundige dr. EG Malherbe: “My volk het my verstoot, waarom?” Dat die nuwe geslag dit kon doen, was nog verstaanbaar, maar dat die oumense hom ook verlaat het, was vir hom eens te erg. Oudpresident CR Swart het aan die joernalis Piet Meiring gesê dat Smuts nooit die behoefte gevoel het “om hand by te sit met die vaslegging van die Afrikaner se identiteit en selfrespek nie”. Swart het gevra: “Hoe kon Smuts so ’n groot gemis in sy siel toegelaat het?” Die skrywer van sy lewenskets in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek betoog: “Hy het afsydig gestaan van die Afrikaanse taalbeweging. Afrikaans was slegs sy huistaal maar nie die taal van sy intellek nie.”

Smuts was (soos reeds genoem) nie ’n voorstander van algemene stemreg nie, maar het tot met sy dood die apartheidswette teengestaan. Die buiteland het eweneens apartheid skerp gekritiseer, maar wat die wit opposisie meer in beroering gebring het as apartheid, was die beëindiging van Britse massa-immigrasie en die verdere ontmoediging daarvan deur die Burgerskapswet van 1949. ’n Suid-Afrikaanse burger sou nie meer outomaties ook ’n Britse onderdaan wees nie. Die reg op appèl na die Britse Geheime raad is afgeskaf.

Apartheid het enersyds ingehou skeiding volgens kleur tussen die rasse, en andersyds aparte ontwikkeling binne elke rassegroep. Kort nadat die nuwe regering die bewind aanvaar het, het dit apartheid op die treine van die Kaapse Skiereiland ingestel, die enigste deel van die land waarin daar geen rasseskeiding op die spoorweë was nie. In poskantore is ’n beleid van aparte maar gelykwaardige geriewe vir wit en swart geleidelik toegepas. Voorstanders van apartheid het betoog dat swart en bruin mense deur dié maatreëls ook nuwe kanse gekry het om hul rasgenote te dien. In 1949 is huwelike tussen wit en bruin wetlik verbied, en in 1950 ook ontug. Hierdie wette sou mettertyd van die berugste apartheidsmaatreëls word, omdat dit ’n ingryping van die staat was in die persoonlike lewens van mense. Die oortreding van die Ontugwet het ernstige gevolge gehad vir die wit mense wat daaraan skuldig bevind is. Die gemeenskap het beskuldigdes en hul gesinne dikwels verwerp. Verskeie mense het hieroor selfmoord gepleeg. Die polisie en regsgeleerdes het in 1960 selfs gewaarsku dat die Ontugwet ’n wapen word waarmee swart vroue wit mans kan benadeel deur na willekeur ontugsituasies te fabriseer.

Die Wet op Groepsgebiede is in 1950 aangeneem om geleidelik woonbuurtskeiding tussen wit mense, bruin mense en Indiërs moontlik te maak. Dieselfde jaar het die Wet op Bevolkingsregistrasie gevolg. Dit het voorsiening gemaak vir ’n stelsel van persoonskaarte waarop die rassegroep van elke lid van die bevolking aangedui word.