UIT DIE 1930’S: GELUKSKOTE, ’N SUKSESVERHAAL EN ’N DINAMIETONTPLOFFING
In die dae van armoede het duisende Afrikaners gestroom na ’n diamantveld wat padwerkers in 1926 in die omgewing van Lichtenburg ontdek het. Om wanorde met die afpen van kleims te beperk, het die regering stormlope of kleimwedrenne gereël. Mense het resies gehardloop en die wenners het kleims op die gunstigste plekke afgesteek. Die eerste was op 20 Augustus 1926 by Elandsputte. ’n Skare van 20 000 wit en 7000 swart mense het kom kyk. Meer as 6000 delwers het op ’n ry gaan staan, meer as 3 km lank en 3 tot 6 meter diep. Onder hulle was daar atlete, ’n aantal vroue en drie mans met mank bene, een selfs met krukke.
Sewe maande daarna was daar 20 000 delwers by Grasfontein. Almal het opgewonde in die ry gestaan. Skielik spring ’n springbokkie voor hulle op, en daar trek almal! Dit was ’n vals alarm. Die polisie het die penne uitgetrek, en die week daarna is weer gehardloop.
Delwers het soms tot teenaan die sinkplaatmure van die winkels in die kampe gegrawe sodat die geboue gedreig het om in te val. Strate en paaie het eenvoudig verdwyn. Honderde gesinne het in die grootste armoede gelewe. Vroue en kinders het dikwels verwaarloos in sink- en sakhuisies gewoon. Soos oral by delwerye het wonderbaarlike dinge soms gebeur. Een wanhopige delwer het een aand met sy rewolwer na sy kleim gestap om selfmoord te pleeg. Skielik struikel hy in die ongelyk gruis, en daar in die helder maanlig skitter drie blouwit diamante wat hy vir £2750 kon verkoop.
Een van die delwers, Koos Jonker, wat op 4 Maart 1927 aan die stormloop by Grasfontein deelgeneem het, het nie veel op sy kleim gevind nie. Hy en ’n paar ander delwers het hulle in 1933 daarvoor beywer om ’n deel van die plaas Elandsfontein oos van Pretoria tot spoeldelwery te laat verklaar. Hier het Koos Jonker en sy seun Jacobus kleims afgesteek. Op laasgenoemde se kleim is op 16 of 17 Januarie 1934 ’n blouwit diamant van 726 karaat gevind. Die Jonkerdiamant was die vierde grootste ter wêreld, en is vir £31 500 aan die diamantmagnaat sir Ernest Oppenheimer verkoop.
Die grootste suksesverhaal is dié van ’n nuwe soort Afrikanerpionier, Willie Boshoff. Hy was ’n konsentrasiekampkind, wie se familie in die rebellie geldelik geruïneer is. Weens deelname aan die rebellie was hy ses maande in die tronk en het in 1915 in die myn begin werk. In 1922 was hy een van die stakersleiers. In 1933 het hy en Piet Pieterse die Aurora-Wes-myn vir £4500 gekoop. Familie het gehelp. Boshoff was mynbaas, skofbaas, betaalmeester, mynwerker, alles gelyk. Weens gebrek aan kapitaal het die myn byna misluk, maar toe Boshoff die eerste goudstaaf van 150 ons na die bank bring, het dié bank die nodige krediet verskaf. Die Boshoff-metode het behels dat los goudstof, wat in die skrefies onder in ou myne agtergelaat is, bymekaar gemaak word. Hy het dus die tekortkominge van die ou mynboumetodes uitgebuit. Gou het Boshoff vooruitgegaan en in 1934 ander myne begin aankoop. Hy het agt myne so heropen. Boshoff het geen tegniese opleiding gehad nie, net sy 18 jaar ervaring. As waarskynlik die eerste Afrikanermiljoenêr het hy baie gedoen om verarmde volksgenote te help ophef.
Dit was egter ook in hierdie tyd dat een van die ergste dinamietontploffings in Suid-Afrika plaasgevind het. Op Sondagmôre 17 Julie 1932 was ’n trein van 33 trokke met ’n vrag van 312 ton dinamiet vir die Randse myne, asook sewe trokke met ander goedere, op pad na Johannesburg. Die masjinis, Kerneels Gouws, het nie geweet dat die as van een van die trokke gebreek het nie. Merke op die spoorlyn het dit later bevestig. ’n Ent weg van Leeudoringstad het die stoker, Carl Otto, die aandag van Gouws gevestig op rook by een van die trokke. Gouws het die trein gestop om te gaan kyk wat aangaan. Dit was die laaste wat hy kon onthou. Toe hy sy bewussyn herwin, was alles in die omgewing verwoes oor ’n afstand van sowat 800 meter. Stukke verwronge yster, verwoeste huise, boomstompe, dooie diere en ’n krater van 5 meter diep en byna 300 meter lank. Gouws het dadelik sy lokomotief ontkoppel en na Leeudoringstad gejaag om mense te waarsku dat nog ontploffings kan plaasvind. Vreesbevange mense het uit die dorp gevlug. Die geluk by die ongeluk was dat Gouws die trein gestop het voordat hulle by die dorp was, anders sou die lewensverlies baie groot gewees het. Vyf mense is in elk geval dood, geweldige skade aan geboue aangerig. Een trok in die middel het die eerste ontplof en daarna een na die ander weerskante daarvan. Die trokke met ander goedere tussen die dinamiettrokke en die lokomotief het as buffer gedien, anders was Gouws ook dood. Dit word as een van die grootste ontploffings in Suid-Afrika se geskiedenis beskou. Die slag is tot ver in Natal gehoor. Gouws was beseer en geneeshere het verklaar dat hy slegs ’n paar maande sou kon leef weens ’n bloedklont in die brein. Tog het hy dit oorleef, later ’n byeboer geword en aan Bettie Nieuwoudt in 𝘋𝘪𝘦 𝘏𝘶𝘪𝘴𝘨𝘦𝘯𝘰𝘰𝘵 (13 Augustus 1956) vertel wat gebeur het. Die ontploffing was groot nuus en 𝘋𝘪𝘦 𝘝𝘰𝘭𝘬𝘴𝘣𝘭𝘢𝘥 het vir die eerste keer ’n verslaggewer per vliegtuig gestuur om ’n groot nuusstorie te dek.