DE WET REBELLEER EN WORD GEVANG
Terwyl De Wet besig was met protesvergaderings, het lt.-kol. SG (Manie) Maritz, met ’n aantal volgelinge uit die Verdedigingsmag Upington verlaat en na die Duitsers oorgeloop. Dit was verraad. Die krygswet is op 12 Oktober afgekondig, en burgers opgekommandeer – ’n bewys vir anti-Botha-manne dat die regering nie woord hou om Duitswes slegs met vrywilligers te verower nie. Protesvergaderings was onwettig, maar so onverskrokke as in sy jonger dae het De Wet besluit om te bly protesteer met die wapen in die hand. So het Rebellie ’n voldonge feit geword. De Volkstem het op 26 Oktober die nuus gebring: “Genls. Beyers en De Wet rebelleren/ Heilbron in handen der rebellen/ Trein te Reitz aangehouden/ Overgrote meerderheid der burgers lojaal”. Buiten Reitz en Heilbron was Vrede, Frankfort, Bethlehem, Senekal, Harrismith, Koppies, Parys, Lindley en Ventersburg ’n tyd lank in rebellehande. By elke dorp het kommando’s by De Wet aangesluit.
In die eerste botsing met regeringstroepe in die Vrystaat op 8 November by Doornberg tussen Lindley en Winburg sneuwel tien rebelle, onder andere De Wet se jongste seun Danie. De Wet se reaksie was: “Dit is die eerste offer. Ons moet nou deurgaan – end-uit. Hulle het bloed vergiet.” Op 12 November het ’n mag onder Botha die rebellekommando by Mushroom Valley aangeval en uitmekaar gedryf. Soos van ouds kon De Wet self wegkom. Van toe af het baie rebelle die stryd gewonne gegee; hulle het geen perde en ammunisie meer gehad nie.
Dit blyk uit Louis Bothma se Rebelspoor. Die aanloop, verloop en afloop van die Boereopstand van 1914–15 dat die sestigjarige generaal die nag van 30 November op 1 Desember (’n Dinsdag) onder ’n kameeldoringboom op die plaas Waterbury naby Vryburg deurgebring het.
Hy was moeg gejaag deur die regering se motors en soldate. Sedert die begin van die opstand het hy sowat 950 km te perd afgelê. In die laaste agt dae was dit 370 km met die minimum aan kos en water.
“Vang die perde”, was sy opdrag dié more. Hy neem sy perd, Ou Dokter, se toom en stap die bos in. Sy sekretaris, die skrywer en joernalis Harm Oost, stap ook die bos in om sy perd te vang, en sien ’n kakie-uniform tussen die takke deur.
“Generaal, hier is verraad, ons moet uithardloop,” fluister hy agter sy hand. “Ek kan nie meer hardloop nie,” antwoord De Wet. Oost vang Ou Dokter en De Wet sit haastig sy toom aan. Oost gryp ’n reeds opgesaalde perd en volg hom. Kmdt. Japie Neser kom by met ’n wit perd. De Wet wil uitjaag, maar een van die burgers kom sê: “Die Kakies is in die rant. Hulle sê ons moet oorgee, want ons is vasgekeer.”
“Generaal, moet ons skiet?” vra Neser.
“Nee, ons is vas. Dis verby,” sê De Wet.
Oost sien ’n offisier in Kakie wat hy herken. Hy trek sy rewolwer uit om die man te skiet, maar De Wet keer hom. Lt.-kol. JF Jordaan, bevelvoerder van die regeringsmag, kom nader en ontwapen De Wet, Oost en Neser.
“Is julle Engelse of Afrikaners,” vra De Wet aan die troepe wat om hom saamdrom. “Ons is Afrikaners,” kom die antwoord.
“Goddank, dan het die Engelse my tog nooit gevang nie,” sê De Wet.