AFRIKAANSE SKRYWERS TEEN APARTHEID EN SENSUUR
Talle Afrikaanse skrywers en wetenskaplikes het ’n einde aan die ou bedeling help maak. In verskeie opsienbarende romans is die negatiewe aspekte van apartheid uitgebeeld. Die belangrikste skrywer teen apartheid was André P Brink. Hy het in 1968 sy siening só verwoord: “Laat ons ’n slag waaragtig ons land óópskryf onder die son. My land soos hy is en soos ek na hom verlang en soos hy was en soos hy dalk eendag sal wees”. Brink se Kennis van die aand van 1973 het vir bruin en swart lesers baie beteken. ’n Verbod op die boek het hewige kritiek op die sensuurstelsel tot gevolg gehad – ook deur konserwatiewe letterkundiges. Ná ’n mislukte appèl teen die verbod het verskeie skrywers hul teenkanting teen die regering uitgespreek. Brink het talle romans geskryf wat gelyktydig in Afrikaans en Engels verskyn het. Hy het as kritikus groot invloed uitgeoefen omdat hy meer as ’n dekade feitlik die enigste resensent van die grootste Afrikaanse koerant, Rapport, was. Ná die verbod op Kennis van die aand het nog ’n paar Afrikaanse boeke die slagoffers van die sensuur geword. Die laagtepunt is bereik toe Magersfontein, o Magersfontein!, van Etienne Leroux, in 1977 verbied is. ’n Storm van protes het losgebars. Dié werk is later met die Hertzogprys bekroon. Omstreeks 1980 is die sensuur verslap.
Een van die belangrikste werke van die 1970’s was die roman Die swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert. Audrey Blignault betoog in November 1978 in Die Burger en Beeld daar word soms in die letterkunde van elke taal ’n boek van ingrypende betekenis geskryf wat ’n sluier afruk tussen groepe mense. Sy noem Hard Times van Charles Dickens (1854) wat die sluier tussen rykes en armes in die fabriekstede van Engeland afgeruk het, The catcher in the rye van JD Salinger (1951), wat die tragiek van die generasiegaping in ’n moderne materialistiese gemeenskap blootgelê het, en Ampie van Jochem van Bruggen (1924), wat die Afrikaner bewus gemaak het van die armblanke as mens.
“Nou het Elsa Joubert ’n boek geskryf – ’n aangrypende, onvergeetlike boek – wat die sluier tussen die witmens en die swartmens in Suid-Afrika afruk”. Die boek is geen politieke aantyging of sosiologiese verslag nie, maar ’n letterkundige werk waarin daar “aan deurleefde waarneming en ervaring oortuigend, artistiek en blywend vorm gegee word”. Die werk is “’n opwindende en betekenisvolle vernuwing in die Afrikaanse romankuns”. Die roman is gegrond op gegewens wat Elsa Joubert ingewin het oor die lewe van Poppie Rachel Nongena, gebore Matati en dui die lyding weens instromingsbeheer aan. Dit is ’n ware verhaal, en niks is bygevoeg wat Poppie en haar gesinslede nie self beleef het nie. Die boek was ’n treffer – die “boek van die dekade”, aldus Tafelberg se reklame.
Die roman het as vervolgverhaal in Rapport verskyn en ook groot belangstelling onder die bruin lesers gewek. Die koerant was vroeg Sondae in bruin buurte uitverkoop. Elsa Joubert het by ’n hotel in Hermanus die gevolge van haar roem ondervind. Sy en haar man, die skrywer Klaas Steytler, sit die middag en wag op middagete toe hulle ’n geskuifel en gebabbel hoor. “Daar staan toe ’n klein skare van kelners, skoonmakers en kamermeisies. Almal beduie glimlaggend en pomp mekaar in die ribbes. ‘Haai, kyk,’ sê hulle. ‘Dis Poppie se ma en pa!’”
’n Debat oor strukturele geweld is tussen ’n paar akademici gevoer. Dit is begin deur ’n filosoof van internasionale aansien en bekende teenstander van apartheid, prof. JJ Degenaar van Stellenbosch. Hy het geskryf dat strukturele geweld gevind word waar “diskriminerende wette geld wat deur blankes gemaak is om die lewe van die nie-blankes te reguleer tot voordeel van die blanke wetgewers.” Afrikaners moet besef dat “óns hierdie wetgewers is”. Joubert se boek is in verskeie tale vertaal en is ook later verfilm.