7 OKTOBER
GEBEURE
1901 – Anglo-Boereoorlog: Verpleegsters se dienste nie meer benodig
Op aandrang van die Dameskommissie moet GF Esselen (superintendent van die Irene-konsentrasiekamp) mevv. Armstrong, Enslin, Vlok, mejj. Finaly, Cilliers, Dürr en Van Warmelo (almal Hollands-/Afrikaanssprekende vrywillige verpleegsters verbonde aan die Rooikruis) in kennis stel dat hul dienste nie meer benodig word nie. Hoewel Esselen self baie tevrede met hul dienste is, beskou die kommissie hulle as ’n “dangerous element” en beskuldig hulle daarvan dat hulle “Hollandse medisyne” die kamp insmokkel.
1914 – Afrikanerrebellie
Manie Maritz voer by Ukamas samesprekings met die Duitse bevelvoerder, luitenant-kolonel Von Heydebreck. Al het die Duitser hom skynbaar geensins vertrou nie, het hy tog ’n ooreenkoms met hom gesluit en ’n aantal artelleriste met kanonne en masjiengewere met Maritz saam na Van Rooyensvlei teruggestuur.
Kolonel Coen Brits kom met ’n troepemag in Upington aan.
Jan Smuts lig vir Maritz telegrafies in dat hy vir kolonel Brits as bevelvoerder van al die eenhede waaroor Maritz bevel gevoer het, aangestel het, en dat hy dadelik na Upington moes gaan en aan Brits moes rapporteer.
MT Steyn versoek Christiaan de Wet om verwikkelinge met hom in Bloemfontein te kom bespreek.
GEBOORTES
1854 – Christiaan Rudolf (CR) de Wet, Boeregeneraal tydens die Anglo-Boereoorlog en rebellieleier († 3 Februarie 1922)
Christiaan Rudolf de Wet was ’n Boeregeneraal tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy is te Leeukop naby Smithfield in die Oranje-Vrystaat gebore.
1885 – Stephanus Johannes Paulus (Fanie) Eloff, gesiene beeldhouer en kleinseun van Paul Kruger († 20 November 1947)
Fanie Eloff was ’n gesiene Suid-Afrikaanse beeldhouer. Hy is in die Transvaal gebore en was ’n kleinseun van Paul en Gezina Kruger. Sy vader was Frederik Christoffel Eloff, eienaar van die plaas Eloffsdal waarop die Pretoriase voorstad Capital Park uitgelê is, en sy moeder Elsie Eloff-Kruger.
STERFTES
1943 – Paul Nel, veldprediker, leraar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en moderator van die Transvaalse Kerk (* 26 Januarie 1867)
Ds. Paul Nel was ’n predikant van die Nederduits Gereformeerde Kerk en ’n moderator van die Transvaalse Sinode.
Hy het aan die kweekskool op Stellenbosch gestudeer waarna hy in 1892 na Masjonaland vertrek het. Na ’n jaar het hy ’n beroep na Makwassie aanvaar, en in 1897 is hy na die NG-gemeente Jeppestown in Johannesburg, wat sewe maande lank herderloos was, beroep. Op daardie stadium was hy nog net dertig jaar oud. Hy en sy gesin het op 17 Februarie 1897 in Jeppestown aangekom en sy bevestiging het ’n week later plaasgevind. Ds. Abraham Kriel van die NG-gemeente Langlaagte het die bevestiging waargeneem.
Tydens die Anglo-Boereoorlog het hy hom by die vegtende burgers aangesluit. Hy is by Elandslaagte gevange geneem maar gou weer vrygelaat. Hy het net tot 1907 in Jeppestown gebly waarna hy na Ermelo vertrek het. Hier was hy voorsitter van die Ring van Lydenburg en van 1904 tot 1912 skriba van die Transvaalse Sinode. Hy was van 1923 tot met sy emeritaat in 1934 moderator van die sinode. Hy was een van die eerste pleitbesorgers vir die oprigting van die NG Kerk se Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria en later het hy op die eerste Fakulteitskommissie gedien.
Hy is op 7 Oktober 1943 in die ouderdom van 76 jaar oorlede.
1943 – Gustav Schoeman (Gustav) Preller, joernalis, historikus, taalstryder, kultuurman, skrywer en literêre kritikus (* 4 Oktober 1875)
Gustav Schoeman Preller kan met reg die nasionale geskiedskrywer van die Afrikaner genoem word alhoewel hy geen wetenskaplike geskiedskrywer was nie, maar hom as uitmuntende taalgebruiker en stilis in sy historiese werke openbaar het. Hy het op patriotiese wyse sy volk bewus gemaak van hulle geskiedenis. Hy is op hierdie dag in Pretoria gebore en was van moederskant ’n agterkleinkind van die Voortrekker, kmdt.-genl. Stephanus Schoeman. Hy was getroud met Johanna Christina Pretorius, agterkleindogter van Piet Retief. Met nie veel skoolonderrig nie was hy agtereenvolgend winkelbediende, prokureursklerk, en ook hoofklerk in die Departement van Mynwese toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitbreek. Terwyl hy as lid van die Staatsartillerie aan die oorlog deelneem, werk hy ook as oorlogskorrespondent veral vir De Volkstem en vier maande voor die einde van oorlog word hy as krygsgevangene na Indië gestuur. Terug in Suid-Afrika neem hy in Augustus 1902 die redakteurskap van Land en Volk van sy vriend Eugène Marais oor en begin sy joernalistieke loopbaan, waarin hy hom in besondere mate onderskei as veelsydige joernalis, maar ook, eers as assistentredakteur en redakteur van De Volkstem in 1903 tot 1925, en redakteur van Ons Vaderland, later Die Vaderland in 1925 tot 1936. Preller het hom in die jare onmiddellik na die Anglo-Boereoorlog openbaar as vurige pleitbesorger en stryder vir die gebruik en erkenning van sy moedertaal, Afrikaans, en sy reeks koerantartikels onder die titel Laat’t ons toch ernst wezen! en Een voorstel ter handhaving en veredeling van het Afrikaans als schrijftaal (in 1905 in brosjurevorm uitgegee) word tereg die manifes van die Taalbeweging genoem. Preller wend hom veral tot die geskiedskrywing en produseer ’n hele aantal werke wat veral betrekking het op die twee groot momente in die geskiedenis van die Afrikanervolk: Die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog. Preller was ook deur en deur kultuurman, en het sy veelsydige begaafdheid gebruik om die Afrikaanse gedagte te bevorder. Sy werksaamhede is in 1931 bekroon met die toekenning van ’n eredoktorsgraad deur die Universiteit van Stellenbosch. Hy is op sy plaas Pelindaba naby die Hartbeespoortdam op 6 Oktober 1943 oorlede en in die familiekerkhof op die plaas begrawe waar in 1947 ’n gedenkplaat op sy graf onthul is.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.