AFRIKANERS RIG EIE SKOLE OP

Die Hollands-Afrikaanse koerante was aan die voorpunt in die veldtog wat kort ná die oorlog oor die verwaarlosing van Hollands op skool begin het. Die klagtes was aanvanklik toegespits op Hollands as vak. Afrikanerleiers het beweer dat die staatskole te min tyd aan Hollands bestee, dit gebrekkig onderrig en vyandig daarteenoor is. Party skole sou dit nie eens onderrig nie.

Geleidelik het die klem van die agitasie verskuif na Hollands as voertaal. Moedertaalonderrig en gelyke taalregte het oogmerke van Afrikanerleiers begin word. PH Zietsman skryf in Die taal is gans die volk (’n geskiedenis van die taalstryd ná die oorlog) dat die klagtes oor Hollands as vak dikwels korrek was, maar dat die onderwysowerheid nie heeltemal onverskillig teenoor Hollands gestaan het nie. Engelse inspekteurs het skole wat Hollands afgeskeep het, aangespreek daaroor.

Die Christelik-Nasionale Onderwysbeweging (CNO) wou Hollands as vak en voertaal tot sy reg laat kom. Veral nadat die NG Kerk sy steun gegee het, het die CNO-skole in Transvaal uitgebrei. Die predikante was gesagsfigure in hul gemeenskappe en kon groot invloed uitoefen. In die tyd van erge armoede kon gemeentes verbasende groot bedrae vir CNO bymekaar skraap. In die beweging was onder andere kerkleiers soos ds. HS Bosman van die NG Kerk, P Postma van die Gereformeerde en MJ Goddefroy van die Hervormde Kerk, en politieke leiers soos Smuts, Botha, genl. Christiaan Beyers en ADW Wolmarans.

Taal en nasionale onderwys was die voorkeure van die Boerepolitici nadat hulle sedert 1903 hul politieke bedrywighede hervat het. Name soos dié van Botha, Smuts, Beyers en De la Rey het aansien aan die onderwysstryd in Transvaal gegee en tot die relatiewe sukses daarvan bygedra. Hulle was almal legitieme leiers van die Afrikaner, mense wat tot aan die einde vir die republikeinse saak geveg het. Nog ’n belangrike groep in die CNO-beweging was die CNO-onderwysers, baie van hulle Nederlanders. Die Nederlander-onderwysers uit die republikeinse tyd was in werklikheid die eerste wat met hierdie skole begin het.

Deur die ywer van die kerke, die Commissie voor de CNO, die Boereleiers, CNO-onderwysers en die koerante soos De Volksstem en Het Westen, het daar sedert die einde van 1902 ’n netwerk CNO-skole in die dorpe en distrikte van Transvaal ontstaan. Daaronder was daar in 1905 Eendracht-school in Pretoria met 395 kinders, Fordsburg met 241, Langlaagte met 236, Oost-Eind Pretoria met 117. Altesaam was daar in 1904 172 CNO-skole met 286 onderwysers en 6958 kinders in Transvaal, en in 1905 228 skole, 419 onderwysers en 9335 kinders. In vergelyking met die staatskole was dit nie indrukwekkend nie. In Junie 1905 was daar 29 456 leerlinge in die staatskole. Maar die staatskole kon leerlinge trek met gratis onderwys, skoolboeke, losies en reistoelaes, terwyl die CNO-skole gewurg het weens die ouers se armoede. Geld is ingesamel met basaars en konserte. Het Westen berig op 9 Februarie 1906 dat baie ouers in Vrededorp in Johannesburg net 5 sjielings. per dag verdien en 1 sjieling per week afstaan aan skoolgeld. Milner en die Engelse pers was ontstem oor die vordering van CNO. Die strewe “to preserve the ‘taal’ from extinction and maintain the burgher population as a separate people” was vir The Star teken van ’n diepgewortelde politieke vooroordeel.