8 AUGUSTUS
GEBEURE
1846 – Burgersdorp aangelê
Die plaas Klipfontein is van Gert Buytendach aangekoop vir 15 000 riksdaalders vir hierdie doel. Aanvanklike pogings om die dorp na die Kaapse goewerneur, sir P Maitland, te vernoem is laat vaar omrede laasgenoemde onwillig was. Die dorp is vernoem na die Burgerkommando’s van 1846 wat gedurende daardie tyd in die omgewing betrokke was in gevegte. Die dorp is ook bekend weens die Afrikaanse Taalmonument wat daar in 1893 opgerig was.
1873 – Eerste uitgawe van De Volkstem verskyn
De Volkstem was die eerste Afrikaans-Hollandse daaglikse nuusblad wat noord van die Oranjerivier verskyn het. Hierdie pro-regeringsblad (het later soos die meeste onder liberale invloed gekom) is deur Johannes Francois Celliers op versoek van pres. Burgers opgerig en het as spreekbuis vir die Afrikanersaak opgetree. In 1927 is die naam verafrikaans tot Die Volkstem. Hierdie koerant het tot 1951 voortbestaan.
1884 – Die Pretoria-konvensie bekragtig
1914 – Afrikanerrebellie
In ’n brief aan Jan Smuts smeek Emily Hobhouse hom om toe te sien dat Suid-Afrika nie by die oorlog betrokke raak nie: “For pity’s sake don’t let South Africa be dragged in.”
1918 – Riversdal hou Taalfees
Hoewel Afrikaans gedurende 1918 nog nie amptelik erken was nie, het Riversdal op hierdie dag ’n Afrikaanse Taalfees gehou.
1938 – Begin van Simboliese Ossewatrek
Op 24 Mei 1934 het die Uitvoerende Raad van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) besluit om ’n spesiale aandeel te neem in die totstandkoming van die Voortrekkermonument. Op 3 Augustus 1936 is in beginsel besluit dat ’n Voortrekkerwa vir die ATKV gebou word om aan ’n simboliese trek in 1938 deel te neem. Uiteindelik het tien waens amptelik deelgeneem en die ATKV het later besluit om die waens soos volg te versprei: Die Johanna van der Merwe na die Voortrekkermonument by Pretoria; die Andries Pretorius in sy eie museum op Hartenbos; die Louis Tregardt by die Universiteit van Pretoria; die Vrou en Moeder by die Meisieskool Oranje in Bloemfontein; Margrietha Prinsloo by die Hoërskool Cillie in Port Elizabeth; die Piet Retief aanvanklik aan die Natalse Voortrekkerbeweging in Durban – later ook na Hartenbos; die Sarel Cilliers aan die Vrystaatse Voortrekkerbeweging en gehuisves op Cilliers se plaas naby Kroonstad; die Dirkie Uys in besit van die Krygsmuseum; sie Hendrik Potgieter en die Magdalene de Wet aan die Potchefstroomse en Stellenbosse Universiteite onderskeidelik. Dit is die sigbare afloop van die emosionele, simboliese trektog wat op 8 Augustus 1938 aan die voet van Jan van Riebeeck se standbeeld in Kaapstad begin het en in Desember 1938 by Pretoria geëindig het. Maar die rit self het ’n seëtog geword. Aanvanklik is met effense spot na die waens by Van Riebeeck se standbeeld gekyk, maar dorp na dorp en stad na stad het by hierdie Afrikanerstoet ingeval. Op pad is ons geskiedenis vertel, het kore gesing, is voordragte gehou, is kinders gedoop, het jong Afrikanerpaartjies aan mekaar trou beloof, het oud en jonk, sakeman en stasievoorman om die kampvuur ons volksliedjies uit die FAK-Sangbundel van 1937 gesing. Toesprake is gehou waardeur die Afrikanerdom besiel is. Die politieke verwarring van 1933 tot 1935 toe genls. Hertzog en Smuts saamgesmelt en dr. Malan eenkant gaan staan het, is tydelik vergeet.
Afrikanerkultuur het die koepelwoord geword. Boeresport, die Voortrekkerbeweging en ons volkspele het pragtige steun ontvang en hulp verleen. Gemeenskappe wat aanvanklik sku was om feeste te reël, het later vlam gevat en programme aangebied. Feesboodskappe is opgestel, gedenkspore is by kerkgeboue getrap en gedenktekens op dorpspleine opgerig. Kennis oor die Afrikaner en sy ideale het wyd uitgesprei. Weerbarstige munisipaliteite wat die Trek wou verongeluk, het met Afrikanerverset te doen gekry. In Port Elizabeth het dr. Otto du Plessis die destydse burgemeester voor die bors gegryp en hom belowe dat die Trek inderdaad deur die Setlaarstad sal trek, en dit was so!
Die Afrikanervrou het opnuut ’n sieraad in ons volkslewe geword, want oral langs die pad is haar historiese rol besing en haar toekoms taak beklemtoon. Talle versamelstukke is byeengebring en in musea vir veilige bewaring geplaas. Kerkdienste is gereeld gehou en die Simboliese Ossewatrek het vir talle volksgenote ’n besondere religieuse ervaring geword.
In baie gevalle is van die oorspronklike trekroete afgewyk ten einde bykomende besoekpunte in te pas. Die dra van Voortrekkerklere en die verkoop van amptelike snuisterye het verdere luister aan die gebeurtenisse verleen. Voorwaar, die 25 000 mense wat in Kaapstad die vertrek meegemaak het, het verdere duisende langs die roete geword, sodat perderuiters, vlaghysing, historiese vertellings, oorhandigings of aanbiedings telkens deur ’n Afrikanerskaar omring is.
Van groot betekenis was die oorhandiging van besondere Bybeluitgawes, ook reeds met die vertrek uit Kaapstad, aan lede van die trek of dan vir bewaring in ’n bepaalde gemeenskap deur een of ander Afrikanerliggaam. Die Simboliese Ossewatrek van 1838 het ’n diepgang en ywer rakende Afrikaner-eiegoed gebring wat hom veilig deur die chaos en politieke onrus van die Tweede Wêreldoorlog sou dra.
1939 – Laaste tremrit vanaf Pretoria Kerkplein na die stasie
1959 – Stigting van die Afrikaanse Kultuurvereniging Volk en Verdediging (AKVV)
Die Afrikaanse Kultuurvereniging Volk en Verdediging (AKVV) is op hierdie dag in Pretoria gestig. Die doel was enersyds om die gaping wat tussen die volk en lede van sy verdedigingsmag bestaan, te oorbrug, maar ook om die militêre verlede van Suid-Afrika as deel van ons kultuurerfenis behoue te laat bly. Twee naamsveranderings, nl. Afrikaanse Weermagskultuurvereniging (AWKV) in 1972 en Afrikaanse Kultuurvereniging Volk en Verdediging (AKVV) in 1975, het gevolg.
1988 – Kuba, Angola en Suid-Afrika stem in tot ’n skietstaking in Angola
GEBOORTES
1876 – Louisa Frederika Meyburgh, geneesheer, beyweraar vir armesorg († 26 Februarie 1956)
Louisa Frederika Meyburgh was ’n merkwaardige dame. Na haar is reeds verwys as Port Elizabeth se eerste Afrikaanse predikant, Port Elizabeth se vroue-predikant, die moeder van die Moedergemeente (PE), die moeder van die NG Kerk in Port Elizabeth, die goeie Engel van Port Elizabeth, ’n Engel van die Lig en ’n Heldin van die stad. Sy is op 8 Augustus 1876 in Graaff-Reinet gebore en het in Cradock grootgeword. In 1900 het sy om gesondheidsredes na Part Elizabeth gekom, waar sy haar lewensroeping sou vervul. Port Elizabeth was toe ’n buitewyk van die gemeente Uitenhage. ’n Eie NG gemeente in Port Elizabeth is eers in 1907 gestig. Mej. Meyburgh, wat diep godsdienstig was, het haar duidelik die lot van haar verarmde geloofs- en volksgenote aangetrek. Sy het geestelike en maatskaplike werk onder hulle begin doen, want geen Afrikanergesin durf vir kerk en volk verlore gegaan het nie. En weldra word die hele stad haar arbeidsveld. Sy bearbei die gemeente-in-wording feitlik op haar eie. In 1901 het sy met ’n Sondagskoolklas en ’n biduurkring begin. Sy hou selfs dienste, lei begrafnisse en beywer haar met hart en siel vir die stigting van ’n eie NG gemeente in die hawestad. Op die armesorgakker lewer sy ’n bydrae van monumentale omvang. Vir die hulpbehoewende Afrikaner was sy geneesheer, verpleegster, sieketrooster, landdros, raadgeefster, ’n vriendin en ’n moeder. Haar lewe was een van onbaatsugtige naastediens. Ter nagedagtenis van haar is ’n tehuis vir bejaardes, Huis Louisa Meyburg, in 1976 in Port Elizabeth opgerig.
1963 – Johann Botha, TV- en radio-aanbieder († 7 Junie 2017)
1903 – Johannes Nicolaas (Nico) Malan, prokureur, politikus en administrateur van Kaapland († 2 April 1981)
1908 – Stephanus Andrew Louw († 16 Augustus 1979)
Stephanus Andrew Louw is op Krugersdorp gebore, waar hy aan die Hoërskool Monument onderrig ontvang het. Na voltooiing van sy studie aan die Universiteit van Pretoria, promoveer hy in 1938 in Utrecht met sy proefskrif Dialekvermenging en taalontwikkeling. Van 1940 tot 1973 doseer hy Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, waarna hy hom steeds aan navorsing wy. In 1971 is hy vereer met die eerste Republiekprys ter herinnering aan dr. HF Verwoerd, vir sy onoortreflike taalgeografiese atlas, waarmee hy onteenseglik getoon het dat hy ons grootste gesaghebbende op die gebied van taalgeografie is. Prof. Louw is op 16 Augustus 1979 in Pretoria oorlede.
1948 – Stephan Bouwer, digter, liriekskrywer en akteur († 8 Julie 1999)
STERFTES
1802 – Tjaart van der Walt, militaris (* 28 Augustus 1748)
1902 – Genl. Lucas Johannes Meyer (Lucas) Meyer, soldaat, politikus en medestigter van die Nieuwe Republiek (* 19 November 1846)
Lukas (Lucas) Johannes Meyer (Meijer) is by Sandrivier in die Oranje-Vrystaat gebore. Hy vestig hom as jong man in Natal en word in 1882 landdros van Utrecht. As kommandant help hy Dinizulu in dié se opvolgingstryd teen sy broer Zibhebhu. Hy was een van die medestigters van die Nieuwe Republiek op die grondgebied wat Dinizulu aan die Boere geskenk het as erkenning vir hulle militêre hulp. Hy word ook tot die president van die Nieuwe Republiek verkies. In 1893 word hy eerste Volksraadlid vir Utrecht, en in 1899 voorsitter van die Raad. In die Anglo-Boereoorlog speel hy as generaal in Natal ’n rol en verower hy onder meer Dundee. Hy was ook een van die ondertekenaars van die Vrede van Vereeniging (31 Mei 1902) en bepleit vrede tot elke prys. Hy is op 8 Augustus 1902 in Brussel oorlede en is in die begraafplaas op Vryheid te ruste gelê.
1976 – Helen Elizabeth Martins, beeldhouer van die Uilhuis, Nieu Bethesda (* 23 Desember 1897)
2000 – Jacob Albertus (Jaap) Marais, leier van die Afrikanernasionalisties gesinde Herstigte Nasionale Party (* 2 November 1922)
Jaap Marais was vanaf 1977 die leier van die Afrikanernasionalisties gesinde Herstigte Nasionale Party.
2012 – Japie Basson, politikus (* 25 Julie 1918)
Japie Basson was een van die kleurrykste politieke figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en was agtereenvolgens lid van die Verenigde Party, Nasionale Party, Nasionale Unie, weer die Verenigde Party en later die Progressiewe Federale Party.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.