LUCAS MEYER (1846-1902)
Lucas Meyer was ’n Boeregeneraal, lid van die Transvaalse regering en president van die Nieuwe Republiek.
Lucas Johannes Meyer is op 19 November 1846 gebore. Hy was die oudste seun van Izaak Johannes Meyer en sy vrou Martha Maria Elizabeth Landman. Sy oupa, na wie hy vernoem is, was ’n Voortrekkerleier en lid van die volksraad van die Natalia-republiek.
In sy jong dae het Meyer in Ladysmith en Newcastle gewoon, maar in 1865 het hy hom in die Utrecht-distrik gevestig. In 1872 is hy tot veldkornet verkies.
Hy was sterk gekant teen die Britse anneksasie van Transvaal. Met die Slag van Ingogo tydens die Eerste Vryheidsoorlog is hy so erg beseer dat hy nie aan die Slag van Majuba kon deelneem nie. Na die oorlog was hy van 1882 tot 1884 die landdros van Utrecht. In 1884 het hy die distrikskommandant geword en hy was die leier van die groep Boere wat prins Dinizulu in sy magstryd teen sy broer Zibhebhu bygestaan het. Tydens die Slag van Tshaneni op 5 Junie 1884 het Dinizulu en sy krygsmanne die oorwinning oor Zibhebhu behaal, met die hulp van omtrent ’n honderd Boere.
Na die oorwinning het Dinizulu ’n stuk grond aan die Boere gegee as vergoeding vir hul bystand en Meyer het ’n leidende rol gespeel in die stigting van die Nieuwe Republiek wat op hierdie stuk grond tot stand gekom het. In Augustus 1884 is hy tot kommandant-generaal verkies en toe sy vriend en vertroueling, genl. Piet Joubert, sy verkiesing tot president van die hand gewys het, het Meyer die president geword. Meyer het hom vir die amptelike erkenning van die Nieuwe Republiek beywer, aangesien slegs die Duitse Ryk en die Suid-Afrikaanse Republiek die Nieuwe Republiek erken het. Daarna het hy ’n leidende rol vertolk om die Nieuwe Republiek as die Vryheid-distrik by die Suid-Afrikaanse Republiek in te lyf. Toestemming hiervoor is in 1888 verleen.
In 1890 het kmdt.genl. Joubert hom as grenskommissaris vir die Transvaalse suidelike grens aangestel. Hy het hierdie pos beklee totdat hy in 1893 tot eerste Volksraadslid vir Utrecht verkies is. In 1899 het hy voorsitter van die Volksraad geword.
Tydens die Anglo-Boereoorlog het Meyer ’n belangrike rol in Natal vertolk, as generaal van die suidelike kommando’s van Transvaal en verskeie aanslae in Natal. Hy was die bevelvoerder van die Boeremagte wat Dundee tydens die Slag van Talana-heuwel op 20 Oktober 1899 aangeval het. Hy moes die gevegte tydens die Slag van Modderspruit tien dae later weens siekte verlaat en genl. Louis Botha het die bevel oorgeneem. Hy het in Februarie 1900 na die slagveld teruggekeer; hy het aan die Slag van Vaal Krantz deelgeneem en deel gehad aan die anneksasie van Biggarsberg in Mei 1900. Swak gesondheid het hom verhinder om ’n aktiewe rol tydens die laaste deel van die oorlog te vertolk, en teen die einde van die oorlog het hy ’n deel van die Uitvoerende Raad geword. Hy was deel van die vredesonderhandelinge en een van die ondertekenaars van die Vrede van Vereeniging.
Hy was lank en fris gebou en uiters gewild. Mense het gereeld na hom as die “Leeu van Vryheid” verwys. Hy was twee keer getroud; eers met Margaretha Johanna van Niekerk, en na haar dood in 1892 is hy met Petronella Burger getroud. Drie kinders is uit sy eerste huwelik gebore.
Hy is op 8 Augustus 1902 in die Belgiese stad Brussel dood terwyl hy op besoek in Europa was en hy is in die begraafplaas op Vryheid ter ruste gelê.
Daantjie Badenhorst