EMILY HOBHOUSE (1860-1926)
DIE MEISIE VAN ENGELAND
Emily Hobhouse is teen die einde van 1900 deur die komitee van “Die Suid-Afrikaanse Noodfonds,” wat in Engeland in die lewe geroep is, na Suid-Afrika uitgestuur om ondersoek in te stel na die kamptoestande en om ellende te probeer lenig.
Na haar aankoms in Kaapstad het Emily ’n onderhoud met sir Alfred Milner gehad en het hy haar alle moontlike steun beloof. Ondanks Milner se voorspraak het Kitchener beslis geweier om Emily toegang te verleen tot kampe in die Vrystaat noord van Bloemfontein of in Transvaal. Haar eerste besoek aan Bloemfontein se konsentrasiekamp in Januarie 1901 is opgevolg deur besoeke aan kampe by Norvalspont, Aliwal-Noord, Springfontein, Kimberley en Mafeking.
Deurdat sy in direkte aanraking gekom het met die ingehokte vroue en kinders, het sy dadelik gesien hoeveel gebrek daar heers en hoe ver die organisasie kortskiet, en in haar verslag gewys op die uiters treurige kamptoestande. Telkens het sy die feit beklemtoon dat die kamplewe die nadeligste inwerk op die brose kindergestelle, en onomwonde op een plek in haar verslag geskryf, “to keep these camps going is murder to the children.”
Op ’n vlugtige besoek aan Kaapstad in Maart het sy aan die ywerige werksters onder leiding van mev. Koopmans-de Wet ’n duidelike beeld verstrek van die toestande in die kampe. Nadat sy weer vir meer as ’n maand onvermoeid in die kampe gewerk het, het sy na Engeland teruggekeer ten einde van haar werksaamhede verslag te doen.
Kort na haar aankoms, op 24 Mei, het sy ’n onderhoud gehad met mnr Brodrick, sekretaris van oorlog. Aan hom het sy ’n lewendige beskrywing van die kamptoestande gegee en verskillende wenke vir beter organisasie aan die hand gedoen.
Eers het die Britse regering nie veel ag geslaan op haar onthullings en pleidooie nie, dog na publikasie van haar verslag, asook etlike briewe, wat ’n vlaag van verontwaardiging en medelye op die vasteland en in Engeland verwek het, het die regering ’n “Dameskomitee” benoem om ondersoek in te stel na die gewraakte kamptoestande.
Inmiddels is verlof om weereens die kampe te geweier te besoek, botweg aan Emily geweier. Dit het haar egter nie van koers gebring nie. In een maand het sy 26 vergaderings toegespreek, enkele waarvan uiters onstuimig was, maar dit het haar onverskrokke moed en taaie volhardingsvermoë nie gedemp nie. Mej. Hobhouse het na die Kaapkolonie vertrek in die verwagting dat sy daar die geteisterde kampbewoners weer sou kon help, maar intussen is krygswet in die Kolonie uitgevaardig. Toe sy in Kaapstad aankom, is sy gearresteer en na Engeland in ’n troepskip gedeporteer, maar dit kon die groothartige vrou se oortuiging nie breek nie.
Sedert April 1902 het sy gewerk aan haar groot boek “The Brunt of the War,” wat sy opgedra het aan die vroue van Suid-Afrika. Sy het voortdurend die idee getroetel om nogeens ’n besoek aan Suid-Afrika te bring, en het na die oorlog vyf maande rondgereis in die voormalige Republieke. Sy het die mense moed ingeboesem en die boervroue en meisies nuttige werk laat leer deur weef- en spinskole te begin.
In 1913 het president Steyn haar uitgenooi om die majestueuse Vrouemonument op Bloemfontein te onthul. Sy het die seereis onderneem, dog weens swak gesondheid kon sy die treinreis slegs tot by Beaufort-Wes deurstaan, maar het ’n inspirerende brief gestuur wat tydens die onthulling voorgelees is.
Die Boerevolk het ’n ereskuld teenoor Emily Hobhouse gehad wat op inisiatief van mevr. president Steyn deels vergoed is deurdat £2 300 ingesamel is vir die aankoop van ’n huis waar Emily haar laaste dae onbekommerd kon slyt. Die ereskuld is heeltemal uitgewis deurdat, na haar afsterwe in Junie, haar asse in 1926 weggebêre is in die groot Afrikaner-heiligdom by Bloemfontein.
So rus Emily Hobhouse se stoflike oorskot saam met dié van groot Afrikaners, wat die bewys lewer dat geen uitlander ooit so ’n warm plekkie in die Boerehart verower het nie.
Wat smaad van eie volk verduur het om Boerevroue en kinders te red
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: De Goede Hoop