KERKLIKE DEBAT OOR APARTHEID
Die 1976-onluste het tydelik die nuus oor ’n belangrike verslag verdring wat in Junie in die Parlement ingedien is – dié van die kommissie van ondersoek na aangeleenthede rakende die Kleurling-bevolkingsgroep. Die voorsitter was prof. Erika Theron van Stellenbosch. Al het die regering van die aanbevelinge verwerp, het die verslag die wit politiek verander. Binne enkele jare het ’n proses begin om bruin en later swart mense in die politieke stelsel te betrek.
Bowendien het die stemme teen die ou bedeling al harder opgeklink. Behalwe die Erika Theron-verslag was daar verskeie boeke waarin apartheid verwerp is, soos in die publikasies van JJ Degenaar, asook Willie Esterhuyse se Afskeid van apartheid. Mense het besef dat die sterk swart bevolkingsgroei die ou opvatting van ’n wit land vergesog gemaak het. Giliomee beskou dié besef as een van die oorsake van die disintegrasie van Afrikanernasionalisme.
’n Debat oor die onaanvaarbaarheid van die óú bedeling is veral van die einde van die 1970’s af op alle terreine gevoer. Die laaste uitdrukking wat in die stukkie van 6 Desember aangehaal is (dat ons wel kan bid dat “die beker liewer by ons moet verbygaan”), is ontleen aan die Bybel. ’n Pynlike debat oor apartheid het in die Afrikaanse kerke plaasgevind.
Die NG Sinode van Wes-Kaapland het in 1979 sy standpunt herbevestig dat rassediskriminasie, wat in stryd is met naasteliefde en die gelykheid van mense voor God, strydig is met die Bybel se boodskap. In 1982 het die NG Sendingkerk ’n besluit van 1978 herbevestig dat apartheid ’n sonde is en die morele en teologiese regverdiging daarvan ’n bespotting van die evangelie behels. Die Sendingkerk het die NG Kerk van teologiese kettery en afgodery beskuldig. Oortuig dat apartheid die wese van die evangelie aantas, het die Sendingkerk in 1986 ’n nuwe belydenis aanvaar – die Belydenis van Belhar. Ook die Gereformeerde Ekumeniese Sinode het in 1984 besluit dat apartheid sonde is.
By ’n kerkeberaad in Rustenburg het prof. Willie Jonker van die Kweekskool op Stellenbosch in 1990 die NG Kerk se skuld aan apartheid bely. Op die ou end het selfs die Algemene Sinode in 1998 apartheid tot sonde verklaar. Reeds in 1986 het die sinode besluit dat lidmaatskap van dié Kerk oop is, en dit het in 1987 help lei tot die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK). Die APK met prof. WJG Lubbe as leidende figuur het sowat 40 000 lidmate en 100 predikante getrek. Die Apostoliese Geloofsending (met sowat 1,2 miljoen lidmate) het in 1996 die eerste tradisioneel gesegregeerde denominasie geword wat struktureel ten volle geïntegreer is.
Een van die teoloë wat die grootste invloed op die NG Kerk se houding teenoor apartheid gehad het, was prof. Johan Heyns, wat in 1986 tot moderator van die Algemene Sinode gekies is. By monde van Heyns het die NG Kerk in 1990 verklaar dat apartheid ’n sonde is. Hy het skerp kritiek van baie lidmate gekry. Terwyl hy, sy vrou en drie kleinseuns op Saterdagaand 5 November 1994 in sy huis in Waterkloof, Pretoria, kaartgespeel het, het iemand hom met ’n 303-geweer deur die oop venster doodgeskiet. Dié sluipmoord word allerweë in verband gebring met sy jare lange kritiek op apartheid. Geen bewyse kon gevind word vir iemand met die bynaam Kaalvoet Thysie wat in een stadium aangehou is nie.
Meningsverskil bestaan nog in Afrikaanse kerke oor onder meer polities verwante kwessies soos die Belydenis van Belhar en die potensiële vereniging van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK). Wêreldwyd is die posisie van gay lidmate en predikante ’n twisappel.
Iets meer positiefs as al die verdeeldheid was ’n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. Dit het in 1983 verskyn en in enorme getalle verkoop – 700 000 in die eerste agtien maande. Op 29 November 2020 is ’n nuwe regstreekse vertaling asook die deutero-kanonieke of apokriewe boeke bekend gestel. Dit word deur 24 kerke gebruik. Volgens prof. Bernard Combrink, leier van die vertaalprojek, was 179 medewerkers daarby betrokke.
In 1978 het ’n nuwe Psalm- en Gesangeboek die lig gesien, gevolg deur die Liedboek van die kerk in 2001, waarin van elke lied ook die digter of verwerker van ’n oorspronklike andertalige teks aangegee is. Daarin is die Psalmberyming van die digter TT Cloete opgeneem asook sestien Psalmberymings van Totius. Die liedjieskrywer en sanger Koos du Plessis se “Welkom, o stille nag van vrede / onder die suiderkruis” is ook in die Liedboek en dit het een van die gewildste Kersliedere in Suid-Afrika geword.