8 MEI
GEBEURE
1883 – Paul Kruger spreek die volk toe in Pretoria na verkiesing as staatspresident van die ZAR
1902 – Anglo-Boereoorlog: Buller vertrek uit Ladysmith
Generaal Redvers Buller vertrek uit Ladysmith na ’n verblyf van 2 maande. Sy mag bestaan uit 45 715 man, 11 653 perde, 113 veldkanonne en 3 groot vlootkanonne. Teenoor hom staan ’n Boeremag van ongeveer 6000 man.
1925 – Historiese gesamentlike sitting van die Volksraad en Senaat (Afrikaans naas Engels as amptelike taal erken)
Die aanbeveling van ’n gesamentlike komitee van albei huise dat Afrikaans naas Engels met ingang 1926 as amptelike taal erken word, is deur die Volksraad en Senaat afsonderlik eenparig aanvaar. Aangesien die bepaling van artikel 137 betreffende die amptelike tale kragtens artikel 152 van die Suid-Afrika-Wet verskans is, kon die geldigheid van so ’n stap slegs deur ’n tweederdemeerderheid op ’n gesamentlike sitting van albei rade bokant alle moontlike twyfel verhef word. Hierdie geskiedkundige gesamentlike sitting van die Volksraad en die Senaat vind op 8 Mei 1925 plaas. Die Minister van Binnelandse Sake, dr. DF Malan, wat die wetsontwerp ingedien het, sluit sy skitterende rede af met: “Die erkenning van die Afrikaanse taal en die bekroning daarvan deur die hoogste wetgewende liggame van die land is die simbool van die erkenning van die Hollandssprekende deel van die Suid-Afrikaanse volk, die erkenning van hul status en hul vryheid.” Sen. CJ Langenhoven wat die voorstel gesekondeer het, beklemtoon met kenmerkende gevatheid dat waar met “twee stelle gereedskap” gewerk word, ouderwetse instrumente nie bekostig kan word nie. Pragtig vertolk eerw. WW Rider die Engelssprekendes se welwillendheid toe hy vir die eerste keer in Afrikaans praat: “Ons arbeid in dieselfde land, ons moet mekaar geen kwaad aandoen nie.” Die wetsontwerp word sonder teenstem goedgekeur en die gesamentlike sitting verdaag om 12h10.
1945 – Einde van die Tweede Wêreldoorlog
Op 7 Mei 1945 is ’n dokument deur lt.genl. Bedell Smith en genl. AG Jodl onderteken waarvolgens Duitsland onvoorwaardelik oorgegee het. Alle vyandelikhede sou om middernag op 8 Mei 1945 gestaak word. Hierdie ooreenkoms is op 9 Mei 1945 in Berlyn deur die Duitse Opperbevel bekragtig. Dit het die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Europa beteken. Dit het Suid-Afrika ook direk geraak, want op 6 September 1939 het die Suid-Afrikaanse Parlement met 80 teen 67 stemme besluit om aan die Geallieerde kant teen die Spilmoondhede oorlog te verklaar. Suid-Afrika se toetrede tot die oorlog het ’n hewige politieke stryd laat losbars waarin organisasies soos die Ossewa-Brandwag en die meer ekstremistiese Stormjaers ’n belangrike rol gespeel het. Die oorlog het die volk dus in twee kampe gejaag, maar daar was ook ’n positiewe kant, want die oorlog het ekonomiese voorspoed aan Suid-Afrika besorg, deurdat die goudprys gestyg, uitvoer toegeneem en ’n geweldige industriële ontwikkeling plaasgevind het. Daardeur het die lewenstandaard veral van die armblanke aansienlik gestyg. Daar was tekens dat die Nasionale opposisie gekonsolideerd geraak het en besig was om van krag tot krag te gaan, nieteenstaande die feit dat die regerende Verenigde Party uitwendig sterk voorgekom het. Tog was dit ’n verrassing toe die Nasionale Party op 26 Mei 1948 aan die bewind gekom het en Suid-Afrika daardeur op die weg na ’n republikeinse staatsvorm geplaas is, wat op 31 Mei 1961 verwesenlik sou word. As gevolg van die rassediskriminasie in die Duitsland van Hitler was daar dwarsdeur die wêreld ’n poging om skeidslyne tussen verskillende rasse af te breek. ’n Periode van dekolonisasie het in Afrika begin, dit wil sê, die abdikasie van die blanke en die opkoms van die swarte. In hierdie proses het die Nasionale Party se beleid van segregasie en Suid-Afrika se mandaat oor Suidwes-Afrika wêreldstrydpunte geword.
GEBOORTES
1879 – Tielman Johannes de Villiers (Tielman) Roos, advokaat, regter, politikus en minister van justisie van 1924 tot 1929 († 28 Maart 1935)
Tielman Johannes de Villiers Roos is op 8 Mei 1879 in Kaapstad gebore en het in 1902 na Transvaal verhuis. Hy het belangrike aanvoorwerk vir die totstandkoming van die Nasionale Party gedoen en daarna ook ’n vurige kampvegter vir die republikeinse ideaal geword. Sy onderhandelinge agter die skerms met Arbeiderleiers na die Randse staking (1922) het gelei tot die bewindsoorname van die Pakt in 1924. In die nuwe kabinet was hy Minister van Justisie, maar ’n omstrede figuur weens sy inmenging in kollegas se terreine. Swak gesondheid het hom in 1929 uit die politiek laat tree, waarna hy appèlregter geword het. Sy hertoetrede tot die politiek teen die einde van 1932 het ’n enorme ekonomiese en politieke omwenteling tot gevolg gehad. Pogings om met genl. JC Smuts ’n koalisieooreenkoms te sluit, het misluk en in Mei 1934 het Roos die Sentrale Party gestig – ’n party met suiwer ekonomiese oogmerke en met ’n kortstondige bestaan.
STERFTES
1875 – John Thomas Baines, kunsskilder en ontdekkingsreisiger (* 27 November 1820)
Sy ouers was albei skilders en Thomas leer die sierskilderkuns in Engeland. In 1842 kom hy na die Kaap en word skilder van beroep. In 1851 versoek sir Henry Somerset hom om gebeurtenisse en plekke van die Agste Grensoorlog te skilder. Hy word dus die eerste amptelike oorlog-kunstenaar van Suid-Afrika. Baie van sy oorlogsketse is artisties en histories van belang. Op sy togte het hy talle olieverfskilderye gemaak. Hy illustreer ook publikasies van sy tyd en skryf selfs sy ondervindings op. Van 1853 tot 1855 gaan hy na Brittanje, daarna na Australië en in 1857 terug na Brittanje. In 1869 en 1872 onderneem hy twee ekspedisies na Matebeleland, waarvan sy dagboeke later gepubliseer is. In 1861-1862 beskryf en skets hy sy besoek aan die Victoria-waterval saam met Chapman. Met fyn waarneming van mense en plekke in die nog onbewoonde binneland toe die kamera nog nie ’n rol gespeel het nie, het Baines daartoe bygedra om ook die Afrikaner histories bewus te maak en ’n oog vir die natuurskoon te ontwikkel. Tientalle van sy sketse en skilderye word in Suid-Afrikaanse museums gehuisves.
2009 – Lalie Beukes, skrywer (* 7 Augustus 1916)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.