THOMAS BAINES (1820-1875)

Thomas Baines was ’n kunstenaar, avontuurreisiger, skrywer en waarnemer van die Afrika-vasteland en alles wat daarmee verband gehou het.

Hy is op 27 November 1820 in King’s Lynn in die Engelse stad Norfolk gebore en op sestienjarige ouderdom het hy reeds ’n vakleerlingskap as skilder van koetse deurloop. Sy taak was om heraldiese embleme op koetse aan te bring en toe te sien dat enige moontlike versierings aangebring moes word. Die see, asook die begeerte om die wêreld te sien, was in sy bloed en toe hy sy vakleerlingskap voltooi het, was dit presies wat hy gedoen het. Op 22-jarige ouderdom het hy aan boord van die skip Olivia van Engeland af na Suid-Afrika gekom. Hy het as landskap-en-portretkunstenaar in Kaapstad gewerk en was die amptelike oorlogskunstenaar tydens die Agtste Grensoorlog.

Sy eerste reis het in 1842 in Kaapstad geëindig en hoewel dié stad destyds klein en minder voorspoedig was, het hy Suid-Afrika se reeds bekende gasvryheid beleef en feitlik van die begin af jarelange vriende gemaak. Hy het sy ambag om koetse en waens te versier, aanvanklik voortgesit maar toe sy vriendelike gasheer hom omgepraat het om ’n kunstenaar te word, het hy besluit om ’n marienekunstenaar te word. Nadat ’n groot storm in 1845 in Tafelbaai losgebars het, het hy verskeie skilderye van die skeepswrakke en die chaos wat die stormwind veroorsaak het, verkoop. Die feit dat mense aksie in skilderye verkies het, het Baines geweldig beïndruk en lewendige tonele het ’n kenmerk van sy werk geword; dit het nie saakgemaak of dit ’n oorlogstoneel, ’n besige straattoneel in Grahamstad, of ’n jagter wat ’n springbok gevolg het, was nie.

Hoewel hy ’n goeie reputasie opgebou het, wou hy nie op sy louere rus nie en hy was gretig om die binneland, waarvan hy soveel gehoor het, te besoek. In 1848 het hy die Oos-Kaap en Kaffaria besoek en gehoop dat hy ’n bestaan sou kon voer deur sy skilderye aan die plaaslike setlaars te verkoop. Van die begin af is hy betower deur die klein tonele wat hulle op die grens afgespeel het. Sy sketsboeke en verf het oral saam met hom gegaan en hy het oorvloedige aantekeninge op die sketse self of in sy joernaal gemaak. Grahamstad het vyf jaar lank sy hoofkwartier geword en hy het by mnr. Potter se herberg tuisgegaan. Daar was ’n wedersydse sin vir lojaliteit tussen hulle en soos wat soveel kunstenaars maar destyds gedoen het, het hy deur middel van sy skilderye vir sy losies betaal.

Gedurende sy verblyf in Grahamstad het hy wyd gereis en hoewel hy soms beproewinge en gevare moes deurmaak, het hy dit geweldig baie geniet. Sy eerste reis was saam met die Liddle-broers en het van die Groot Visrivier tot by die Oranjerivier gestrek. Met sy terugkeer het hy koorsagtig begin skilder maar omdat hy nie ’n mark vir sy kunswerke kon vind nie, was hy in baie groot finansiële moeilikheid. Hy is opdragwerk in Fort Peddie aangebied maar gou besef hy is op ’n dwaalspoor gelei. Sy sogenaamde voornemende weldoener het sy huis verlaat en die arme Baines moes sukkel om terug in Grahamstad te kom nadat sy perd dood is. Sy vriendelike gashere het hom egter vriendelik ontvang en hom terug verwelkom.

Vroeg in 1850 het Joseph McCabe, wat ’n plaas anderkant die Vaalrivier besit het, hom omgepraat om die Ngami-meer en die omliggende omgewing te verken en te karteer, aangesien geen kaart daarvan destyds bestaan het nie. Dit was sy eerste werklik wetenskaplike projek; hy het elke dag terdeë geniet en baie onderwerpe vir sy kunswerke ontdek. Hy het groot troppe springbokke, blouwildebeeste en kwaggas gesien en die bekende jagter, kapt. Cornwallis Hills vir wie hy groot bewondering gehad het, probeer nadoen deur self te skiet. Hy het egter nie naastenby soveel sukses behaal nie.

Toe Baines en McCabe by die Vaalrivier aangekom het, is hul ekspedisie vertraag. Die Boere het die veldslag van Boomplaats verloor en hoewel hy Boomplaats nooit besoek het nie, het Baines ’n uiters akkurate skildery van die toneel gemaak. Die Boere het oorkant die Vaalrivier teruggeval tot by Mooirivierdorp, wat vandag as Potchefstroom bekendstaan. Die Boere het die twee Engelse reisigers wat hulle as spioene beskou het, met agterdog bejeën en was vyandig gesind teenoor hulle. Dit was duidelik dat Baines en McCabe nie toegelaat sou word om die rivier na Ngmaniland oor te steek nie. Baines was egter die heeltyd optimisties en het nooit stilgesit nie; hy het ’n boot gebou waarmee hy op die Ngami-meer sou vaar. Dit het egter nie gebeur nie en pleks daarvan het hulle op die Vaalrivier gevaar terwyl hulle die Union Jack in ’n daad van verset laat wapper het. Hulle moes in ’n suidelike rigting na Grahamstad terugkeer.

Toe hy daar aangekom het, het hy gesien dat dié grensdorp in oproer was nadat gevegte in Kaffaria uitgebreek het. Baines wou nie sit en niks doen nie en het aansoek gedoen om die pos van oorlogskunstenaar. Genl.maj. Henry Somerset het hom in 1851 in hierdie pos aangestel en Baines kon regte aksie beleef. Hy was altyd in die hitte van die stryd en daarom kon hy akkurate sketse met sy potlood maak.

Toe die oorlog in 1852 ten einde geloop het, het hy vyftien maande lank aanhoudend gewerk en baie olieverfskilderye voltooi. Hy kon egter steeds klein avontuurreise onderneem, met sy sketsboek en potlood altyd byderhand. Hy het in 1853 na Engeland teruggekeer maar toe reeds verskeie voorbeelde van sy werk vooruit daarheen gestuur; ’n uitstalling van sy Suid-Afrikaanse werk is by Kings Lynn gehou. Daar is ’n breëbladadvertensie van hierdie uitstalling wat nog steeds bestaan.

In 1855 het Baines saam met Augustus Gregory op ’n ekspedisie na die Victoria-rivier in die noorde van Australië vertrek. Hy het die rol van kunstenaar en winkelier vertolk; as winkelier is hy na Nederlands-Timor, vandag ’n deel van Indonesië, gestuur om voorrade aan te koop aangesien dit min geword het. Hy het in ’n lekkende boot daarheen vertrek en gereël dat die aankope gedoen moes word en met ’n ander boot, wat net so onstabiel was, na Australië teruggekeer. Hy was benoud omdat dit so lank geduur het en bang dat hy en Gregory mekaar op die afgesproke ontmoetingsplek sou misloop. Daarom het hy saam met twee bemanningslede vertrek op ’n vaart wat omtrent 1 100 kilometer in onstuimige toestande geduur het. Op die ou einde het Gregory moeg daarvoor geword om te wag en suid gevaar, maar Baines het die hoogste lof van die ekspedisieleier af ontvang.

Die volgende ekspedisie, waartydens Baines weer die kunstenaar en winkelier was, het nie so goed afgeloop nie. Die Livingstone-broers, David en Charles, wou met die Zambesi-rivier op vaar om die rivier se bevaarbaarheid al dan nie te bepaal en sy rigting aan te teken. Baines het egter ernstig siek geword met griep en hy is by Tete agtergelaat om te herstel. Tydens sy siekte is hy met deernis en gasvryheid deur die Portugese owerhede behandel. Uit dankbaarheid het hy ’n skildery van die bevelvoerder gemaak en dit aan hom oorhandig. Toe dr. David Livingstone hiervan gehoor het, was hy om een of ander onverklaarbare rede woedend en hy het Baines sonder omhaal van woorde afgedank omdat hy Baines van die wanbestuur van die ekspedisie se winkel beskuldig het. Baines was vasbeslote om Livingstone te konfronteer en na die Victoria-waterval vertrek waarvandaan hy op die Zambesi sou vaar om die ekspedisie op te spoor. Toe hy en James Chapman, wat hom vergesel het, by die Victoria-waterval aangekom het, het hy verneem dat die ekspedisie misluk het weens siekte onder die lede, en dat dr. David Livingstone se vrou oorlede is. Dr. Livingstone is herroep, en gedurende die volgende drie jaar het Baines probeer om Livingstone te ontmoet en sy naam in ere te herstel. Livingstone het hom egter die heeltyd vermy en die twee mans het mekaar nooit weer gesien nie.

In 1868 het Baines na die Kaap teruggekeer. Die Suid-Afrikaanse Goudvelde-verkenningsmaatskappy het hom opdrag gegee om na Matabeleland te vertrek om na goud te soek. Weer eens het hy dit wat hy gesien het, in sy joernaal en sketsboek opgeteken en die Matabele-koning Lobengula, met wie hy ’n goeie verhouding opgebou het, ontmoet. Hy het ’n groot gebied verken maar hy kon nooit goud ontdek nie.

Sy waarde as avontuurreisiger en kunstenaar is in 1874 amptelik erken toe hy ’n lewenslange erelid van die Royal Geographical Society geword het. Hy het ’n brief, wat steeds in die Baines African Collection te sien is, geskryf waarin hy die vereniging vir hierdie eerbewys bedank het, en dit as ’n voorreg beskou het om in hierdie uitgelese geselskap te wees.

Hy is op 8 Mei 1875 in die ouderdom van 54 jaar oorlede en die Thomas Baines-natuurreservaat in die Oos-Kaap is na hom vernoem.

deur Daantjie Badenhorst