“’N WREDE WET” VEROORSAAK BITTERHEID

Die apartheidsmaatreëls het soos die Anglo-Boereoorlog opnuut ’n kloof tussen wit en bruin Afrikaanstaliges geskep. Ongeveer 70 000 bruin, 30 000 Indiër- en 1600 wit gesinne is ingevolge die Groepsgebiedewet verskuif uit buurte waarin hulle vroeër gewoon het. Baie van die bruin en Indiërgesinne het in swak omstandighede gewoon en is in gunstiger omstandighede gehuisves. Maar dikwels moes hulle ook goeie huise in ordentlike woonbuurte prysgee en trek na nuwe oorde in die buitewyke van stede en dorpe.

Die Groepsgebiedewet en die toepassing daarvan het frustrasie en bitterheid by baie bruin mense gewek. Hulle het dit ’n “wrede wet” genoem. Die dwang om uit bepaalde gebiede te trek, was nie net ’n harde finansiële slag nie, maar ’n aantasting van menswaardigheid. Mense moes dikwels padgee na onherbergsame oop vlaktes of na ’n buurt, weggesteek agter ’n bult en ver van die middestad of -dorp. Blanke selfsug en ’n strewe na eie gewin het soms ’n rol by die verskuiwings gespeel. Baie bruin grond- en huiseienaars het geldelike verliese weens gedwonge hervestiging gely. ’n Blanke sakeman het later verklaar: “Daar is soveel te meer wrewel omdat daar gevalle is waar binne afsienbare tyd reusewinste gemaak is deur blankes wat sulke eiendomme opgekoop het.”

Talle bruin mense is verskuif uit gebiede waarin hulle goed, rustig en gerieflik gewoon het na nuwe dorpe wat hulle nie self gekies het nie. Amptenare het in die verskuiwingsproses soms min deernis met hulle gehad. Soms moes hulle op ongeleë tye, in skool- of werktyd, trek. Van die huise wat hulle noodgedwonge moes betrek, was swakker maar die huur hoër. Groot onsekerheid het ontstaan. Iemand het jare daarna gesê: “As die witmense se huise so oor die bult begin kom, dan wonder ons of ons weer sal moet trek.”

Die skrywer WA de Klerk verklaar dat die gebrek aan menslikheid in die wetgewing en die toepassing daarvan, vreemd was “aan die ware tradisie en aard van die Afrikaner”. Bitterheid is geskep deur die vernietiging van die “mees Kaapse deel van die Kaap – Distrik ses”. (Die besluit om Distrik Ses te sloop, is in 1966 geneem en in 1968 uitgevoer.) Miskien nog die bitterste van almal, skryf WA de Klerk, is “die aanslag op ou gemeentes van die Nederduits Gereformeerde Sendingkerk, sodat historiese kerke vandag op verskeie plekke in Wes-Kaapland staan as stille getuienis.” Apartheid as konsep, as lewens- en wêreldbeskouing, het ’n “prys aan menseleed geverg wat nóóit bereken is nie”, skryf hy.

Baie bruin mense het geëmigreer, veral na Kanada. Onder hulle was daar onderwysers, dokters en ambagslui. Suid-Afrika, en die Afrikaanse gemeenskap, het so briljante mense verloor. Onder hulle was die digter PJ Philander wat gelukkig in Afrikaans bly dig het. Die digter SV Petersen moes in 1966 uit sy huis in Rondebosch padgee toe dit tot blanke gebied verklaar is. Die wette wat gemaak en meestal toegepas is deur Afrikaners, het tot ’n negatiewe houding teenoor die Afrikaner en Standaardafrikaans gelei. Om ekonomiese, maar ook politieke redes het ouers al meer hul kinders in Engels grootgemaak en na Engelse skole gestuur. Afrikaners wat teen die wette geprotesteer het, is die skrywers Uys Krige, Jan Rabie en WA de Klerk en die teoloog en kultuurhistorikus AM Hugo.

Uys Krige het die eerste Afrikaanse vertaling van die Vryheidsmanifes gemaak. Dit was ’n dokument wat tydens die Congress of the People in Kliptown, Soweto, in Junie 1955 bekragtig is deur die verskillende lede van die Congress Alliance. Die beleide wat daarin uiteengesit is, sluit ’n eis in vir ’n multisosiale, demokraties verkose regering, gelyke geleenthede, die nasionalisering van banke, myne en swaar nywerhede en ’n herverdeling van grond. Later is ook vertalings gemaak deur Gerrit Olivier en Dries van Heerden.