“DIE TOTALE AANSLAG”

PWBotha het John Vorster in September 1978 as premier opgevolg. Vorster het staatspresident geword, maar moes gou bedank vanweë sy betrokkenheid by die “Inligtingskandaal”. Dit het in 1978 geblyk dat die dagblad The Citizen met staatsgeld opgerig is en dat die departement van inligting oor geheime fondse van miljoene rande vir geheime projekte beskik het om Suid-Afrika se beeld in die buiteland te verbeter. Connie Mulder, minister van inligting, moes bedank. (Die sekretaris van die departement inligting, dr. Eschel Rhoodie, die sentrale figuur in die hele sage, stel in Die ware inligtingskandaal en The real information scandal sy kant van die saak.)

Die kiesers het in 1983 in ’n referendum ’n nuwe grondwetlike bedeling goedgekeur. Daarvolgens sou daar drie wetgewende liggame wees – een vir wit en een vir bruin mense en een vir Indiërs. (Kyk verder by 28 November.) Die nuwe bedeling het geen vrede gebring nie. In 1983 is ’n buite-parlementêre organisasie, die United Democratic Front, gestig om die invoering van die nuwe grondwet te bestry. In ’n kort tyd was sowat 700 organisasies onder die sambreel verenig: kerkgroepe, sportorganisasies, vakbonde en jeuggroepe. As leiers van massaveldtogte het opgetree mense soos Archie Gumede, Albertina Sisulu, vrou van die ANC-leier Walter Sisulu, en dr. Allan Boesak. Laasgenoemde was leraar van die NG Sendingkerk en het in Nederland sy doktorsgraad in teologie verwerf.

Geweld was deel van die stryd. Op 20 Mei 1983 het twee persone van Umkhonto we Sizwe (MK) ’n bom in Kerkstraat, Pretoria, laat ontplof, wat die dood van agt swart en nege wit mans en twee vroue veroorsaak het. Meer as 200 mense is beseer. ’n Sentrale oogmerk van die onrus wat die UDF-organisasies aangestig het, was om Suid-Afrika onregeerbaar te maak. Plaaslike bestuurstrukture en swartes wat met die regering geassosieer is, soos die polisie- en stadsraadslede, het teikens vir brandstigting, aanranding en moord geword. Revolusionêre skynhowe het talle verdagte kolloborateurs verhoor en tot barbaarse strawwe gevonnis. Die weersinwekkendste hiervan was die halssnoer-teregstellings. Ou motorbande is met doringdraad om die slagoffer se nek vasgebind, met petrol gevul en dan aan die brand gesteek. Tussen Maart en Junie 1986 is 172 mense op dié wyse tereggestel. FW de Klerk skryf in sy outobiografie dat skoolkinders dikwels die voortou geneem en afgryslike vonnisse voltrek het. Die swart woonbuurte moes ontoeganklik wees vir amptenare en veiligheidsmaglede. In honderde gemeenskappe het die dienste ineengestort.

“Dit het mode geword om die spot te dryf met PW Botha se mening dat daar ’n totale aanslag teen Suid-Afrika was.” Maar die situasie wás ernstig, sê De Klerk. Nie net is die land onregeerbaar probeer maak as voorspel tot ’n revolusie nie, maar daar was ook ’n ernstige bedreiging van buite. “Selde tevore is so ’n uitgebreide, onverbiddelike internasionale veldtog oor so ’n lang tydperk teen ’n enkele land gevoer as die een wat deur die internasionale anti-apartheidsalliansie teen ons geloods is.”

Van die veiligheidsmagte is verwag dat hulle steeds streng binne die raamwerk van die wet optree. Vir revolusionêres het dié beperking nie gegeld nie. Die veiligheidsmagte moes dus sien hoe die revolusionêre bewegings na willekeur organiseer en hul teenstanders intimideer of doodmaak. Daar was, soos De Klerk dit stel, behoefte aan ’n onkonvensionele teenstrategie. ’n Aantal UDF- en ANC-aktiviste is vermoor, ander gemartel. Daarteenoor staan die groot aantal burgerlikes wat onskuldig oor en weer as deel van die revolusie vermoor is.

Die skynbaar eindelose onluste het land tot op die randjie van ’n ekonomiese ineenstorting gebring – ’n punt wat bereik is net ná die Eerste en Tweede Wêreldoorlog. Wat daartoe help bydra het, was die buitelandse reaksie op PW Botha se sogenaamde Rubicon-toespraak op 15 Augustus 1985 op ’n NP-kongres in Durban. Daar is verwag dat hy ingrypende politieke hervormings sou aankondig.

Hierteenoor herhaal hy volgens die Wikipedia-opsomming die oproep wat hy voorheen in die parlement aan Nelson Mandela en die ANC gedoen het om die gewapende stryd neer te lê om politieke doelwitte te bereik as ‘n voorwaarde vir die vrylating van Mandela. Daarbenewens het hy geweier om algemene en vrye verkiesings te hou met die deelname van alle inwoners van Suid-Afrika, en hy het ook geen beloftes gemaak oor die ontbanning van die ANC nie, wat dikwels versoek is. Met verwysing na die druk uit die buiteland, het hy gesê dat die oplossing van Suid-Afrika se probleme deur Suid-Afrikaners gedoen sal word en nie deur buitelanders nie, en benadruk: “Ons het nog nooit toegegee aan eise van buite nie en sal dit ook nie nou doen nie.”