
9 MEI
GEBEURE
1652 – Kaap as eiendom van VOC verklaar
Jan van Riebeeck reik ’n proklamasie uit waarin hy die Kaap tot eiendom van die VOC verklaar.
1717 – Wellington aangelê
Wellington het voor 1840 onder meer bekend gestaan as Wagenmakersvallei, en ook Val de Charron. Die naam Wagenmakers Vallei was moontlik afgelei van die waboom (Protea grandiflora) wat in die omgewing gegroei het, en waarvan waens gemaak was. Dit word ook genoem dat ’n wamaker hom moontlik in die vallei gevestig het, en vandaar dan die naam. Val du Charron was afgelei van die Franse familienaam Charon. Die naam Wellington is egter afgelei van, en ter ere aan, die hertog van Wellington, wat Napoleon in 1815 by Waterloo verslaan het.
1788 – Die Britse parlement aanvaar ’n mosie vir afskaffing van slawerny
1849 – William H Addison stap aan wal
William H Addison en Juliana, sy vrou, stap by Port Natal aan wal. Hy was die eerste distriksgeneesheer in Pietermaritzburg gewees.
1883 – Paul Kruger as Staatspresident beëdig
Stephanus Johannes Paulus Kruger is vir die eerste keer in 1883 tot Staatspresident van die ZAR verkies – met 3431 stemme teenoor PJ Joubert se 1171. In Pretoria is Kruger toe op hierdie dag in 1883 beëdig. Voor die Raadzaal is ’n verhoog opgerig wat met die Vierkleur en vlae van Nederland, Engeland en die VSA versier is. Oor Kerkstraat is ’n ereboog gespan wat gelui het: Lank leef die President. Op Kerkplein was ’n erewag sowel van berede as van voetsoldate. Kruger het in ’n rytuig wat deur vier perde getrek is, by Kerkplein aangekom. Ds. HS Bosman het ’n gebed gedoen, en toe het Kruger ’n voorgeskrewe eed afgelê. Hy het onder meer hardop beloof om die volk getrou te dien, om volgens die Grondwet te regeer en om die welsyn van die publiek te bevorder. Volksraadslede, senior amptenare en ’n groot skare het hom aangehoor toe hy hierna ook sy intreerede gelewer het. In ’n sekere sin kan die beëdiging as ’n openbare sitting van die Volksraad beskou word.
1890 – Eerste kameraklub in SA
Die eerste kameraklub in Suid-Afrika word in Kimberley gestig.
1891 – Dullstroom aangelê
Die naam van die dorp is afgelei van ene Walterus Dull, en ook na ’n sytak (stroom) van die Olifantsrivier wat by die dorp verbygevloei het. Die dorp is aangelê op die plase Elandslaagte en Grootsuikerbosschkop. Dullstroom is gedurende die Anglo-Boereoorlog in geheel verwoes. Die dorp se inwoners het voor die oorlog hoofsaaklik uit Hollandse immigrante bestaan. Na die oorlog het die meerderheid egter na Holland teruggekeer.
GEBOORTES
1828 – Dr. Andrew Murray, predikant, kerkleier en skrywer († 18 Januarie 1917)
Hy was een van die vroomste en invloedrykste predikante wat die NG Kerk nog opgelewer het. Hy is as tienjarige na Aberdeen, Skotland gestuur vir skool- en universiteitsopleiding. Hier behaal hy die MA-graad. In 1845 gaan hy en sy broer John na die Universiteit van Utrecht met die oog op die teologiese studie vir toelating tot die bediening. Hy was innig gelowig en sterk Puriteins georiënteer. Dus het die liberale rigting in die Teologie in Holland hom baie geskok. Met die stryd teen die liberalisme gedurende die Sinode in 1862, was hy moderator en het in die brandpunt van die bestryding daarvan gestaan. In 1849 word hy bevestig as leraar van Bloemfontein, en hy was prakties gesproke, totdat ds. Van der Hoff in 1852 gekom het, die enigste geordende predikant onder die Boere noord van die Oranjerivier. Hy het vier besoeke in die Transvaal afgelê, Nagmaal bedien, troues waargeneem en kinders gedoop. In sy veelsydigheid, benewens as kerkleier (hy was vyf keer moderator van die Kaapse Sinode), het hy op twee vlakke uitgemunt. Ten eerste het hy in die onderwys belang gestel. Met behulp van ’n ruim skenking van sir George Grey, stig hy die Grey-Kollege in Bloemfontein. Daaruit het later die UOVS ontwikkel. In Kaapstad stig hy die Kaapse Onderwyskollege en in Wellington die Hugenote-Seminarium en die Sending-Instituut. Laasgenoemde het later doodgeloop toe die opleiding van sendelinge na die Kweekskool op Stellenbosch oorgeplaas is. Al hierdie inrigtings was Christelik georiënteer, en van hulle af het ’n geweldige invloed oor die hele Suid-Afrika uitgegaan. Ten tweede was hy die skrywer van ongeveer 250 stigtelike boeke in Hollands en Engels. Van hieruit het nie net groot invloed uitgegaan in Suid-Afrika nie, maar oor die hele wêreld. Sekere van hierdie boeke word vandag nog oor die hele wêreld gelees. Dit getuig van ’n oortuigde Calvinistiese lewensopvatting, getemper deur ’n innige geloofsbelewenis. Hy is op 18 Januarie 1917 in Wellington oorlede.
1872 – Daniël Johannes Stephanus (Danie) Theron, Kommandant, baasverkenner en krygsman in die Anglo-Boereoorlog († 5 September 1900)
Danie Theron was ’n Boeresoldaat en baasverkenner in die Anglo-Boereoorlog.
STERFTES
1901 – Lizzie van Zyl, slagoffer van die Verskroeideaardebeleid (* 22 April 1894)
1915 – Philippus Christoffel (Flippie) Snyman, Gereformeerde predikant en hoogleraar (* 16 Junie 1875)
1948 – Jack Reinder Leonard van Bruggen, skrywer (* 15 September 1895)
1987 – James Thomas (Jimmy) Kruger, minister en president van die Senaat (* 20 Desember 1917)
Jimmy Kruger was ’n politikus en het van 1974 tot 1979 as Minister van Justisie en Polisie in die kabinet van Eerste Minister John Vorster gedien. Hy was ook van 1979 tot 1980 president van die Suid-Afrikaanse Senaat.
2018 – Jan Engelen, ’n akteur en TV-regisseur (* 7 Junie 1946)
Jan Engelen was ’n Suid-Afrikaanse akteur en TV-regisseur. Hy is die seun van Belgiese ouers, die regisseur en akteur Fred Engelen en die aktrise Tine Balder. Hy is in België gebore maar word in Stellenbosch groot waar hy ook gestudeer het.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.