POLITIEKE KRISIS: GESUIWERDES EN SMELTERS
Die droogte van 1932–1933 het saamgeval met die ergste ekonomiese depressie wat die land beleef het. ’n Bitter politieke stryd het ontstaan oor die goudstandaard, ’n geldstelsel waarin die geldeenheid gelyk in waarde is aan ’n vaste hoeveelheid goud. In beginsel kon iemand destyds ’n pondnoot by die bank inwissel vir ’n goue pond. Diepgaande verskille het bestaan oor die vraag of Suid-Afrika die goudstandaard moet behou nadat Engeland op 21 September 1931 daarvan afgestap het. Die NP wou dit behou, die SAP wou dit afskaf. Vir Hertzog was die goudstandaard simbool van Suid-Afrika se ekonomiese onafhanklikheid. Vir die boere en veral die myne het dit egter nadelige gevolge gehad; uitvoer was moeiliker omdat die Suid-Afrikaanse pond baie sterk was as byvoorbeeld die Britse pond.
Op 16 Desember 1932 het Tielman Roos, wat in 1929 uit die politiek getree en appèlregter geword het, sy hertoetrede tot die politiek aangekondig. Dit het daartoe gelei dat nog meer kapitaal as voorheen uit die land onttrek is. Die regering het op 28 Desember 1932 die goudstandaard verlaat. Baie mense het geglo dat net ’n koalisie tussen die NP en SAP die land kon red. Toe Hertzog aan ’n groep boere vra wat van Afrikaans gaan word as daar koalisie kom, het een uitgeroep: “Generaal, gooi weg die taal! Gooi weg die taal!” Hertzog, wat koalisie baie lank sterk teengestaan het, het tot die idee bekeer geraak. Einde Maart 1933 het Hertzog ’n kabinet aangekondig waarin genl. Smuts en vyf ander lede van die SAP opgeneem is. Die Kaaplandse leier van die Nasionale Party, dr. DF Malan, was nie in die kabinet nie. Hy, maar veral dr. AL Geyer, redakteur van Die Burger, en Parlementslede soos Hans Strijdom, Paul Sauer en CR (Blackie) Swart was teen koalisie.
Aan die einde van 1934 het die NP en SAP saamgesmelt en die Verenigde Party gevorm. In die volksmond het hulle die benaming Smelters verkry, en die Nasionaliste wat nie wou saamsmelt nie, die naam Gesuiwerdes. Dié twee groepe het mekaar met ergernis, selfs haat, beveg oor taal-, rasse- en ander kwessies.
PJ Cillié, later redakteur van Die Burger, was toe nog ’n jong joernalis, en het naderhand in ’n lesing die broederstryd ’n “stryd om legitimiteit” genoem. “Dit het om baie strydpunte gegaan, maar die wesenlike was die vraag: Watter leiers, watter party praat vir en verteenwoordig die ‘ware Afrikanerdom’? Wie is op die hoofpad na die toekoms? Wie besit en dra die verbondsark?” Twee basiese Afrikanerinstinkte, aanvullend en albei noodsaaklik vir voortbestaan, het met mekaar gebots. Dit is die “lewensnoodsaaklike drang na selfwees” en die ewe belangrike drang om vriende te vind en te wees. Cillié vergelyk dit met ’n boom: ’n boom kan net so min sonder wortels as sonder takke en blare lewe. “’n Volk wat sy inwaartse instink leer beskou as in stryd met sy uitwaartse drange, of omgekeerd, is soos ’n boom waarvan die wortels en die takke teen mekaar baklei. Dit is teen die natuur. Waarmee ons in die jare van skeuring besig was, was teen ons ware natuur.”