9 SEPTEMBER
GEBEURE
1824 – Oranjerivier word grens
Die Oranjerivier (Grootrivier) word die noordelike grens van die Kaapkolonie.
1828 – Sir Lowry Cole word goewerneur-generaal van die Kaapkolonie
1900 – Vra toestemming vir oprig van kampe
Genl. T Kelly-Kenny vra lord Roberts se toestemming om “refugee camps” in Bloemfontein en Kroonstad op te rig as veilige oorde vir wapenneerleggers en hul families.
1914 – Spesiale oorlogsitting
Sydney Charles Buxton, goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika open die spesiale oorlogsitting van die parlement, ’n dag na sy aankoms in die Kaap.
1914 – Afrikenerrebellie
Voor die spesiale parlementsitting in Kaapstad begin om oor die inval in Duitswes-Afrika te besluit, roep Louis Botha sy volgelinge in ’n koukusvergadering byeen en slaag hy daarin om hulle tot steun vir sy sienswyse oor te haal.
Tydens die spesiale parlementsitting verduidelik Botha sy regering se voorstel in verband met die beoogde inval in Duitswes-Afrika. Hy word ondersteun deur die Engelssprekende opposisie. JBM Hertzog stel as leier van die Nasionale Party egter voor dat Suid-Afrika nie Duitswes-Afrika moet aanval nie.
1939 – Hereniging tussen dr. DF Malan en genl. JBM Hertzog
’n Warm gevoel van uitbundige vreugde en dankbaarheid het die Nasionale Afrikanerdom op hierdie dag uit alle uithoeke van ons land laat optrek na Monumentkoppie, waar ’n gedenkteken vir die Voortrekkers aan die verrys was. “Hy het sy offer gebring,” het dr. DF Malan verklaar toe genl. Hertzog, Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika, se mosie dat die Unie van Suid-Afrika neutraal bly in ’n oorlog “wat nie ons s’n is nie” op Maandag 4 September in die Volksraad verwerp is. Genl. Smuts se teenmosie is aanvaar, en genl. Hertzog het sy bedanking ingedien. En toe sy “segetog” per trein na die Noorde. Op elke stasie is hy ingewag deur juigende Afrikaners. In Johannesburg het dr. HB Stegman, skoonseun van Jan Celliers, Dinsdagoggend, 5 September, aan die FAK-sekretaris, mnr. IM Lombard, en sy hulpsekretaris, dr. PJ Meyer, voorgestel dat ’n groot saamtrek van Afrikaners by Monumentkoppie op Saterdagmiddag, 9 September 1939, gereël moet word waar dr. DF Malan, leier van die Herenigde Party, en genl. JBM Hertzog, geliefde leier van die Nasionale Party, voor samesmelting, mekaar die hand sal reik om die “hereniging van almal wat bymekaar hoort” in te lui. Reëlingskomitees is per telefoon en per boodskappers in alle dele van die land gestig, en by die tienduisende het dankbare, singende Afrikaners in die pad geval – Monumentkoppie toe. Totius het huiwerig ingewillig om ’n “volksverklaring” op te stel en voor te lees, waardeur almal teenwoordig “met die opsteek van hul hande” uitdrukking sal gee aan hul wil en begeerte om as Afrikaners vorentoe saam te werk en saam te stry op die pad van Afrikaner-selfstandigwording. Dit het egter byna ’n dekade geduur voordat hierdie onderneming sou uitloop op ’n politieke sukses: die Nasionale verkiesingsoorwinning van 1948. Die FAK het ’n paslike adres vir hierdie geleentheid laat druk, wat baie jare in duisende Afrikaners se huise vertoon is.
GEBOORTES
1873 – Pieter Willem Frederik (Pieter) Wenning, kunstenaar en die vader van Kaapse Impressionisme († 24 Januarie 1921)
Pieter Wenning was ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar en die vader van die Kaapse Impressionisme. Hy is in Nederland gebore en was weens gesondheidsredes op jeugdige ouderdom na Suid-Afrika gebring. Hy het eers by J.H. de Bussy se boekhandel gewerk. Hy begin skilder en sy talent kom onder die aandag van DC Boonzaier. Dié oorreed hom om na die Kaap te verhuis. Hy was arm en sy gesondheid swak en het sy skilderye goedkoop verkoop. Sy werk, hoewel onder die invloed van Impressioniste, is as heeltemal oorspronklik beskou. Hy is in Pretoria oorlede.
1891 – Gertruide Anna (Trudie) Kestell, deskundige oor historiese kleredrag († 1 September 1974)
Gertruida Anna (Trudie) Kestell, dogter van die bekende dr. JD Kestell, is op 9 September 1891 gebore. Gedurende die Eeufeesjare rondom 1938 het sy intensiewe navorsing oor die kleredrag van die Voortrekkers gedoen, veral met die doel om ’n historiese juiste volksdrag vir die Afrikaner met die Eeufeesvieringe daar te stel. Sy het deeglike studie gemaak van Voortrekkerkleredrag in die Voortrekkermuseum in Pietermaritzburg en die Nasionale Museum in Bloemfontein, en uitgebreide korrespondensie gevoer met persone wat kennis van die Voortrekkerkleredrag gehad het. Die resultate van haar navorsing is in 1940 gepubliseer in ’n boekie Ons Volksdrag en iets oor die kleredrag van ons voorgeslagte en in ’n artikel in die Hertzog-annale van Maart 1954. Trudie Kestell het baie daartoe bygedra om trots in en waardering vir die kleredrag van sy voorgeslagte by die Afrikaner te kweek. In ’n tyd toe daar oor die stoflike kultuur van die Afrikaner baie min geskryf is, was sy op hierdie gebied ’n baanbreker.
1894 – Hermione Stephanie Lombard (Stephanie) Faure, voordragkunstenaar en toneelspeler († 25 Desember 1961)
Stephanie Faure was een van die baanbrekers op die gebied van voordrag- en dramatiese kuns in Suid-Afrika in die vroeë twintigerjare. Sy het in konserte verskyn en open haar eie ateljee waar sy spraak, resitasie en drama afrig. In 1925 het sy meer bekend geword toe sy begin werk het met die destydse opkomende ster, die Nederlandse akteur, Paul de Groot. Sy het hom Afrikaans geleer en hulle het twee toneelstukke vervaardig. Die hoogtepunt van haar loopbaan was met haar verskyning in Die heks, ’n toneelstuk van C. Louis Leipoldt.
STERFTES
1810 – Johann Christian Ritter, waarskynlik die eerste drukker en boekbinder in Suid-Afrika (* 25 Julie 1755)
Johann Christian Ritter is in Duitsland gebore. As seun van ’n boekbinder bekwaam hy hom as drukker en boekbinder. Hy stap in 1784 in Tafelbaai aan wal in diens van die VOC en was vermoedelik die eerste drukker en boekbinder in Suid-Afrika, wat onder meer die almanakke vir 1795, 1796 en 1797 gedruk het. Slegs die titelblad van die 1796-almanak het bewaar gebly en is die oudste oorgeblewe stukkie drukwerk in Suid-Afrika. Hy sterf in Kaapstad op 9 September 1810.
1868 – Silkaats, stigter van die Ndebele (* ongeveer 1790)
Silkaats, ook bekend as Mzilikazi, Oemsiligasi of Moselekatse, was die eerste koning van die Ndebele, wat by die binnelanders as die maTebele bekend was.
1892 – Johannes Hermanus Grobler, eerste landdros van Potchefstroom en Ohrigstad en later waarnemende president van die ZAR (* 6 November 1813)
Johannes Hermanus Grobler is by Olifantsrivier, George, gebore. Nadat hy die Kaapkolonie in 1838 verlaat het, was hy agtereenvolgens medestigter en eerste landdros sowel van Potchefstroom as van Andries Ohrigstad. Daarbenewens was hy mede-ondertekenaar van die Sandrivier-konvensie (17 Januarie 1852, voorsitter van die afvaardiging van die ZAR wat in Junie 1857 ’n vredesooreenkoms met die Oranje-Vrystaat gesluit het, feitlik ononderbroke lid en dikwels voorsitter van die Volksraad en van 15 Februarie 1858 lid van die Uitvoerende Raad van die ZAR. Na pres. MW Pretorius se vertrek na die Oranje-Vrystaat, is Grobler in Februarie 1860 tot Waarnemende President van die ZAR benoem, maar dit was ’n omstrede posisie wat selfs ’n aanslag op sy lewe tot gevolg gehad het. In Desember 1860 het hy bedank en het kmdt.-genl. Stephanus Schoeman by hom oorgeneem. Op 9 September 1892 is hy op sy plaas Gemsbokheuwel in die distrik Ermelo oorlede.
1995 – Johanna Magdalena Raath, kultuurleier (* 8 November 1909)
Johanna Magdalena Raath is gebore op Frankfort, OVS. As lid van die SAVF-hoofbestuur, word sy in 1947 presidente van die liggaam. Sy dien in verskillende Staatskommissies van Ondersoek. Sedert 1975 is sy lid van een van die komitees van die Publikasieraad. Sy tree by verskeie volksgeleenthede as spreekbuis van die vrou van Suid-Afrika op. Talle onderskeidings het haar te beurt geval, onder meer die medalje vir besondere dienste gelewer in Statebondslande, aangebied deur die Departement van Volkswelsyn. Die eerste Afrikaanse Moederkunde-Opleidingsentrum in Suid-Afrika word na haar genoem, en die bekende “Athlone”- kenteken vir Moederkunde-opleiding in Transvaal word vervang deur die “JM Raath”-wapen; die samestellers van die Afrikaanse Ensiklopedieë getitel Die Vrou, vereer haar by ’n spesiale geleentheid as “Die Vrou”, en sy ontvang die eerste toekenning deur die Federale Vroueraad vir besondere dienste op welsynterrein. Die Staatspresident se toekenning, Dekorasie vir Voortreflike Diens (DVD) is in 1979 aan haar toegeken.
2006 – Eghard van der Hoven, akteur en kunstedirekteur (* 22 April 1922)
Eghard van der Hoven was ’n akteur en voormalige hoof van Truk.
2012 – Louis van Rensburg, sanger, komponis en liedjieskrywer (* 31 Julie 1944)
Louis van Rensburg was ’n Afrikaanse sanger, komponis en liedjieskrywer. Hy het bekendheid verwerf met sy musiek vir die TV-reeks Ballade vir ’n enkeling, waaronder die liedjie “Voshaarnooi”. Hy het ook klankbane vir verskeie ander TV-reekse soos Bart Nel, Bosveldwinkel, Wielie-Walie, Geknelde land, Meester en Arende geskryf. Meer onlangs het hy die temamusiek vir die sepie 7de Laan geskryf.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.