TOPSY SMITH (1914-1985)
Topsy Smith was ’n Suid-Afrikaanse skrywer wat veral bekendheid vir sy jeugverhale verwerf het.
Mathys Gerhardus Smith is op 12 Julie 1914 in Parys in die Vrystaat gebore en was een van drie kinders van Mathys Gerhardus Smith en Elizabeth Catharina Naudé. Hy het ’n broer en ’n suster gehad en sy jeugjare in ’n Engelse huis in Pretoria deurgebring. Hy het albei sy ouers op vyftienjarige ouderdom verloor en daarna na Koppies in die Vrystaat verhuis. Hier was alles Afrikaans en hy het alles wat hy in die hande kon kry, gelees. Hy het aan die plaaslike hoërskool gematrikuleer en vir die skool se eerste span en die dorpspan rugby gespeel.
Daarna het hy verder aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer en ’n BA-graad met Engels en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke behaal. Een van sy maats wat saam met hom in die koshuis Dagbreek was, was die latere eerste minister, adv. John Vorster. Nog een was die skrywer F.A. Venter. Tydens sy studentejare het hy vir die Maties se eerstespan rugby gespeel, hy was kaptein van die boksspan en lid van die atletiekspan. Hy het volkleure vir rugby en boks ontvang. Daarna het hy ’n kursus in liggaamsopvoeding gevolg omdat hy besonder lief was vir sport. Nadat hy sy diploma verwerf het, is hy aangestel as organiseerder van liggaamsopvoeding vir die skole in Brakpan en Springs. Hierna het hy geruime tyd lank as vryskutsportjoernalis vir Die Vaderland en Die Sondagpers gewerk. Hy is van Springs na Krugersdorp verplaas en het besluit om eerder gewone onderwys te gee. In 1943 het hy sy hoër onderwysdiploma aan die Universiteit van Pretoria verwerf. In 1944 het hy Afrikaans aan ’n Engelse privaat skool in Johannesburg begin gee. In 1953 het hy hoof van die Sandringham Laerskool geword; ’n pos wat hy tot 1978 beklee het.
Hy het reeds in 1937, toe hy nog ’n student was, sy eerste kortverhaal vir Huisgenoot geskryf. In sy vrye tyd as onderwyser het hy kortverhale en sketse vir verskillende tydskrifte begin skryf en sy verhaal, Trompie se das, is op 25 Mei 1943 in Die Naweek gepubliseer. Dit was ’n voorloper vir sy latere reeks verhale.
Sy eerste boeke was hoofsaaklik nie-fiksie en het sport as tema gehad. Een daarvan was Kampioene van die bokskryt, terwyl hy ook ’n boek, Ons Springbok-rugbyspelers en Tokkelossie, oor die geskiedenis van Springbok-rugby tot voor die Tweede Wêreldoorlog geskryf het. Onder sy ander sportboeke was Bokshelde van die wêreld, Atlete van Springbokland en Draers van groen en goud.
Hy sal egter altyd onthou word vir sy jeugverhale, waaronder Trompie en Saartjie. Laasgenoemde het hy onder die skuilnaam Bettie Naude geskryf. Hierdie reekse het hewige teenstand van letterkundige kringe gekry omdat dit nie “letterkundig van aard” was nie; nogtans het dit baie gewild onder jongmense van beide geslagte geword. Die Trompie-reeks is tussen 1950 en 1958 geskryf en die Saartjie-reeks tussen 1953 en 1958. In 1975 het ’n vollengterolprent, met André Laubscher as Trompie, Neil Kruger as Blikkies, Philippus Venter as Dawie en Anthonie Kruger as Rooie verskyn.
Trompie was die leier van die Boksombende, en saam met Blikkies, Dawie, Rooie en die hond Boesman het hulle op die dorp Kwaggaberg gewoon. Na skool het hulle by ’n fort bymekaargekom en hul slim en stoute planne bedink en later uitgevoer. Hierdie reeks is telkemale herdruk en in omnibusse uitgegee. In 1980 het dit ’n televisiereeks geword. Riaan Winter het die rol van Trompie gespeel, Sean du Preez (die seun van die sangeres Vicki du Preez), Petrus Jooste en Ivan Ivanovic was onderskeidelik Blikkies, Dawie en Rooie. Danie Smuts en Corrie Huyser het die rolle van Trompie se ouers vertolk en Rina Nienaber dié van sy ouer suster. Anton Goosen het die temaliedjie geskryf en gesing.
Topsy het die Saartjie-reeks onder die skuilnaam Bettie Naudé (sy ma se naam) geskryf, en ’n televisiereeks met Annie Malan in die titelrol, is in 1989 vervaardig. Ander bekende akteurs in die rolverdeling was Trudie Taljaard, Pierre van Pletzen, André Verster, Alida Theron, Cobus Rossouw en Carel Trichardt. Die hoofkarakter, Saartjie Baumann, was die dogter van ’n chirurg, gespeel deur Flip Theron.
Vir volwasse lesers het hy boeke vir die Dagbreek-Boekkring geskryf, hoofsaaklik onder die naam M.G. Smith (sy voorletters en van). Die gewildste van hierdie boeke was Juffrou Jackie se man. Die ontluiking van tant Matilda (later heruitgegee as Die metamorfose van Matilda) het die verhaal vertel van Matilda, ’n ongetroude 33-jarige vrou wat onverwags die waardevolste diamant ter wêreld geërf het, met die gevolg dat mans om haar begin draai het. Blonde godin, wat ook op hierdie mark gemik was, was ’n spanningsverhaal. Dit het vertel van dr. Gie, wat impulsief besluit het om die toneel waar ’n intieme vriendin se man vermoor is, te dokter om haar ’n beter alibi te gee. Hy het egter gevlug nadat hy sy identiteitsdokument verloor het en daarna het hy ’n feitlik onmoontlike stryd gevoer om sy onskuld te probeer bewys. Dit is in 1980 uitgegee en was die laaste van sy boeke wat gedurende sy leeftyd verskyn het. Sy laaste boek, Nog net een keer, is in 1991, ses jaar na sy dood, uitgereik.
Hy het in 1980 ’n groot opehartoperasie ondergaan en hy is op 5 Maart 1985 in die ouderdom van sewentig jaar oorlede. Hy is deur sy vrou, Josie Stuart-Bertram, en twee kinders oorleef.
Daantjie Badenhorst
