JURIE FERREIRA (1921-2002)
Jurie Ferreira was ’n Afrikaanse sanger wat as een van die pioniers van ligte Afrikaanse musiek beskou word.
Johannes Jurgens Ferreira is op 3 Maart 1921 in Ventersdorp in die Noordwes gebore en het sy skoolloopbaan op hierdie dorp voltooi. Hy was van jongs af lief vir sing, en toe hy omtrent tien jaar oud was, het hy vir die eerste keer aan ’n kunswedstryd deelgeneem. Die eerste prys was ’n Halleluja-sangbundel.
Toe Jurie sewentien was, het hy saam met sy tweelingbroer Ben na Johannesburg gegaan om ’n opname van die liedjie “As ek moeg word vir die lewe in die stad” te maak. Die transkripsieopname was in Jurie se besit tot aan die einde van sy lewe. Toe Llewellyn Hughes, die bestuurder van die platemaatskappy wat die liedjie opgeneem het, Jurie hoor sing, het hy onderneem om vir hom sanglesse te neem.
Jurie se ouers, asook Hughes, was dit met mekaar eens dat hy teen die “geldwolwe van die vermaaklikheidsbedryf” beskerm moes word, en daarom het hulle nie toegelaat dat hy op ’n jong ouderdom uitgebuit sou word nie. Hughes het Jurie aan die radio-omroeper Pieter de Waal voorgestel en hy het opgetree by funksies en konserte waarheen De Waal hom geneem het. Hierdie optredes is in die sitkamers van hotelle gehou en selfs onbegaanbare paaie kon hulle nie keer nie. Omdat daar destyds nog geen sprake van mikrofone en klankversterkers was nie, moes sy stem vir die gebrek daarvan vergoed.
Jurie was van 1938 tot 1941 aan die Spoorweë verbonde en hy het in die 1930’s onder die skuilnaam “Derrick Campbell” aan ’n talentkompetisie in die Plaza-teater in Johannesburg deelgeneem. Op daardie stadium was Afrikaans nog ongewild in teaterkringe. Dit was die rede waarom hy in Engels gesing het om sy sangloopbaan te bevorder. In 1939 het Harta Smit twee plaatopnames by Hughes se ateljee, Lafayette Studios, op die Tier-etiket opgeneem. Jurie het die liedjies “Antjie”, “Vaalhoed se baas” en “Saam met die wa” op hierdie opnames gesing, maar sy naam is om ’n onbekende rede weggelaat.
In 1941 het sy groot deurbraak gekom toe hy saam met De Waal na die Eendracht-saal in Braamfontein in Johannesburg gegaan het om ’n paar liedjies by ’n volkspelebyeenkoms te sing. Hier is hy aan Arnout Malherbe voorgestel; kort daarna het hy hom by Malherbe se orkes aangesluit. Malherbe het aan Jurie die fyner kuns van die kitaar en die basviool geleer.
In April 1945 het Jurie ’n telegram van die legendariese orkesleier Hendrik Susan ontvang. Susan het hom ’n kontrak van ses maande aangebied, maar dit het op die ou einde sewe jaar geword. In hierdie tyd het hy sy sangtalent behoorlik uitgeleef, onder meer met Danie Bosman se komposisies “In die skadu van ou Tafelberg” en “Boereseun”. Toe die Britse koningsgesin in 1947 op besoek aan Suid-Afrika was, het hy saam met Susan se orkes ’n konsert in Standerton vir hulle aangebied.
Die eerste Afrikaanse musiekrolprent, Kom saam vanaand, is in 1949 uitgereik, en het nog verdere blootstelling aan Jurie as sanger gegee. In hierdie rolprent, met Pierre de Wet as regisseur, het hy vir die eerste keer saam met Al Debbo en Frederik Burgers, Suid-Afrika se suksesvolste komiese akteurspaar, opgetree. Daarna het Hier’s ons weer, Alles sal regkom en Altyd in my drome gevolg. Hy het in hierdie tyd oorgeneem by ouer sangers soos Chris Blignaut en Chris Lessing, en transkripsieopnames vir die SAUK gemaak saam met die orkeste van Hendrik Susan en Duffy Ravenscroft.
Jurie is in 1950 met Mathilda Kruger getroud en twee seuns is uit die huwelik gebore. Albei het hul pa se musiektalent geërf. In 1952 het Jurie by Nico Carstens besoek afgelê na aanleiding van ’n wenk van ’n medesanger, Jimmy Boonzaaier. Jurie en Nico het verskeie transkripsieopnames vir die SAUK gemaak. In 1953 het hy by ’n byeenkoms in Johannesburg wat deur Club International gehou is, onder leiding van Archie Silansky opgetree. Hierdie optrede is opgeneem en later op ’n langspeelplaat uitgereik.
In 1954 het Jurie besluit om die musiekwêreld op sy eie aan te durf en ’n orkes met Flippie van Vuuren, Dirkie Smit en Johnny Fourie as orkeslede te stig. Hy het ’n dansklub in Pritchardstraat in Johannesburg bedryf en sy naam het baie mense daarheen gelok. In hierdie tyd het die rock ’n roll-era egter aangebreek en baie jongmense het daarop aangedring dat hul tipe musiek gespeel moes word. Die klub het gevolglik agteruitgegaan. Op Oujaarsdag 1958 het hy vir oulaas treffers soos “Die swaeltjie”, “Erika” en “Die blonde matroos” gesing voordat die klub sy deure finaal gesluit het. In 1956 het Jurie die album Lief en leed saam met Nico Carstens en sy orkes opgeneem; dit was die eerste Afrikaanse viniel-langspeelplaat en het treffers soos “Tahiti”, “Erika” en “Die woudprinses” opgelewer.
Vanaf 1959 het Jurie vier jaar lank by Nie-Blanke Sake gewerk en hy is in hierdie tyd van sy vrou geskei. In 1963 het hy hom by die Dorpsraad in Kimberley aangesluit en saans by hotelle opgetree om sy inkomste aan te vul.
In 1965 het hy hom by die Suid-Afrikaanse Leër aangesluit en hy is in die Leërorkes opgeneem. Sy bewonderaars het hom terugverwelkom en hy het sy sangloopbaan met mening hervat. Hy het gereeld in ’n hotel in Randburg saam met Flippie van Vuuren opgetree wanneer dit vir hom moontlik was. In hierdie jaar het hy die album Net die beste saam met Nico Carstens en sy orkes opgeneem. Onder die bekendste snitte vanaf hierdie album was “Tahiti”, “Die woudprinses” en “Daar doer in die Bosveld”, terwyl sy treffer “Die blonde matroos” ook weer ingesluit is. In 1972 het hy een van sy grootste treffers opgeneem. T.W. Ardy se “Rowbottom square” was die kenwysie van die radioprogram Tienerateljee wat deur die Afrikaanse radiodiens van die SAUK opgeneem is en Barry Mason het self ’n vokale treffer met hierdie snit gehad. Jurie het dit in Afrikaans onder die titel “Anna-Marie” gesing.
In Julie 1970 is hy met sy tweede vrou, Sue Kitching, getroud. Hoewel hy in 1986 afgetree het, het hy nie ophou sing nie en deeltyds as musiekbibliotekaris by die Leërorkes gewerk.
In 1977 het hy en Nico Carstens weer bymekaargekom om reëlings vir ’n groot Koffiehuiskonsert te tref. Die gedagte was om kunstenaars van die afgelope 35 jaar asook destydse nuwe kunstenaars bymekaar te kry vir ’n konsert. Onder die ouer kunstenaars wat deelgeneem het, was Taffie Kikilus, Theo Kapp, Tienie Coetzer en lede van Hendrik Susan se orkes; onder die nuwe kunstenaars was Sonja Herholdt en Laurika Rauch. Ter herdenking van Hendrik Susan se afsterwe twintig jaar tevore het die SAUK ’n radioportret saamgestel waarin Jurie opgetree het. In 1986 het hy die televisieprogram Jurie Ferreira en vriende aangebied en in 1990 is hy in ’n televisieprogram gehuldig vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek. In die laat 1980’s is ’n musiekvideo van sy treffer “Vlooi vlooi”, met Jacques Loots as hoofspeler, vir die musiekprogram Teletreffers vervaardig. In September 1995 het hy as gaskunstenaar tydens Johan Stemmet se musiekvasvraprogram Noot vir noot opgetree.
Deur die jare is sy grootste treffers op verskeie versamelalbums op langspeelplaat en CD vrygestel. In 1988 is die reeks Goue grotes op langspeelplaat vrygestel, en Jurie was een van die kunstenaars wie se musiek deel daarvan was. Ander versamelalbums wat sy grootste treffers bevat het, was Goud, wat op langspeelplaat en CD uitgereik is, en die volledige dubbele versameling Die lewenslied van Jurie Ferreira, wat in Junie 2001, kort na sy tagtigste verjaardag uitgereik is.
Jurie is op 24 Junie 2002 in die ouderdom van 81 jaar na ’n lang siekbed oorlede.
Daantjie Badenhorst