ANDY VAN DER WATT (1946-2025)

Andy van der Watt was ’n Springbok-linkervleuel wat tussen 1969 en 1971 twee buitelandse rugbytoere meegemaak het en in drie toetse gespeel het.

Andrew Edward van der Watt is op 10 Oktober 1946 in Krugersdorp gebore en het aan Maritzburg College in Pietermaritzburg gematrikuleer. Nadat hy sy diensplig in die Suid-Afrikaanse Lugmag voltooi het, het hy liggaamlike opvoeding aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer.

Benewens rugby het hy ook in naellope uitgeblink en tydens sy studentejare was hy die Westelike Provinsie-kampioen in die 100 meter en 200 meter. Hy het sy provinsiale rugby hoofsaaklik vir die Westelike Provinsie gespeel maar later ook vir Grens en Natal.

Sy eerste internasionale rugbytoer was in 1969/70 toe die Springbokspan deur die Verenigde Koninkryk getoer het. Die toer is ontsier deur betogings wat plaasgevind het nadat die destydse Suid-Afrikaanse Eerste Minister, adv. John Vorster, die Suid-Afrikaans-gebore krieketspeler Basil d’Oliviera toegang tot sy geboorteland geweier het as gevolg van sy velkleur. Die organiseerder van die Stop the Seventy Tour-betogingsveldtog was Peter Hain. Hy het op linkervleuel in drie toetse op daardie toer gespeel. Die legendariese sportkommentator, Gerhard Viviers, het ’n boek oor hierdie toer, getiteld Rugby agter die doringdraad, geskryf en vertel van wat in die toets teen Ierland gebeur het. Van der Watt het in die hoek oorgeduik vir ’n drie, maar die vlagman, wat in daardie dae ’n assistentskeidsregter was, het gemeen dat Van der Watt die hoekvlag geraak het voordat hy die bal gedruk het. Viviers het gesê dat daar geen teken was dat Van der Watt die hoekvlag geraak het nie en dit as ’n gekonkel teen die Springbokke beskryf. In 1971 was hy deel van die toer na Australië; Hannes Marais was die kaptein van dié toerspan wat onoorwonne teruggekeer het. Van der Watt het glad nie tydens daardie toer in ’n toetswedstryd gespeel nie.

Nadat Van der Watt sy uittrede uit rugby in 1975 aangekondig het, was hy 37 jaar lank ’n onderwyser en rugbyafrigter aan Hilton College in die middellande van KwaZulu-Natal. Hy het twee voormalige Springbok-kapteins, Gary Teichmann en Bobby Skinstad afgerig en daarby was hy ’n Afrikaansonderwyser aan die skool.

Hy is op 18 Januarie 2025 in die ouderdom van 78 jaar oorlede na ’n stryd met emfiseem.

Daantjie Badenhorst