JANNIE DE BRUIN (1938-2025)
Jannie de Bruin was ’n bekende kulkunstenaar en buikspreker.
Hy en sy pratende poppe, Tommy Thompson en Jackie Jackson, het in 1961 hul eerste “wondervertoning” gelewer en op elke gehuggie, dorp en stad in die land opgetree. Hy was deel van verskeie konsertgeselskappe en sedert die begin van televisie was hy op talle televisieprogramme te sien.
Jannie en sy vrou Zurika het die rekord gehou vir die egpaar wat die langste aaneenlopende tydperk, naamlik vyftien jaar, Suid-Afrika se kulkunskampioene was. Hul vertonings het onder meer uit kulkuns, illusies, swaardsluk en telepatie bestaan. Huisgenoot het blykbaar X-strale geneem terwyl Jannie ’n swaard gesluk het, en daarom was dit nie ’n klug nie. Hy het ’n handleiding oor buikspraak vrygestel en een van die gevolge daarvan was dat ds. Christo Herbst van die NG gemeente Trompsburg in die Vrystaat van buikspraak eerder as ’n tradisionele poppekas begin gebruik het om die Woord aan die gemeente se kinders te verkondig. Jannie het gedurende sy loopbaan ook saam met verskeie bekendes, onder wie Leon Schuster, opgetree.
Jannie het vir die grootste deel van sy lewe op Oudtshoorn gewoon, maar teen die einde van sy lewe het sy kinders en kleinkinders hom in Secunda versorg.
Hy is op 11 Januarie 2025 in die ouderdom van 87 jaar oorlede.
Daantjie Badenhorst