MAUD SUMNER (1902-1985)
Maud Sumner was ’n Suid-Afrikaanse skilder en digter.
Maud Frances Eyston Sumner is in 1902 in Johannesburg gebore en nadat sy gematrikuleer het, het sy in die letterkunde aan die Universiteit van Oxford gestudeer, waarna sy aan die Westminster School of Art in die skilderkuns gestudeer het.
Aangesien die Franse kunstoneel haar aangestaan het, het sy in 1926 na Parys verhuis, waar sy vier jaar lank aan die Academie de la Grande Chaumière, ’n kunsskool in die Montparnasse-distrik van Parys, gestudeer het. Sy was deel van die kunsbeweging wat as die Ateliers d’Art Sacré (die ateljees van die gewyde kuns) bekendgestaan het. Sy het baie gehou van die nuwe skilderstyl wat die meesters Georges Desvallieres en Maurice Denis geleer het en wat alledaagse tonele deurspek met godsdienstige ondertone bevat het. Daarby was sy ’n ontwerper vir die loodglasvervaardiger Goddard & Gibbs.
Hoewel sy afgesonder was van die Suid-Afrikaanse kunstoneel het Walter Battisss haar in 1938 genooi om saam met die New Group, ’n groep jong kunstenaars wat die konserwatiewe aard van die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging uitgedaag het, uit te stal. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in November 1971 ’n eremedalje aan haar toegeken; dit het saamgeval met ’n semi-terugskoudende uitstalling by die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging se gallery in Pretoria.
Nadat sy na Parys teruggekeer het, is Guillian-Baré-sindroom in 1978 by haar gediagnoseer. Dit is ’n spierswakheid wat vinnig ontwikkel en veroorsaak word deur die immuunstelsel wat die perifere senuweestelsel beskadig. Sy het haar laaste jare weer in Johannesburg deurgebring en is in Januarie 1985 in die ouderdom van 82 jaar in haar huis in Melrose oorlede.
Daantjie Badenhorst