W.E.G. LOUW (1913-1980)

W.E.G. Louw is op 31 Mei 1913 op Sutherland in die Noord-Kaap gebore en die bekende Afrikaanse digter N.P. van Wyk Louw was sy ouer broer. Albei broers het hul skoolloopbane aan die South African College Schools (SACS), ’n Engelsmedium laer- en hoërskool in Kaapstad voltooi, nadat die gesin van Sutherland na Oranjezicht in Kaapstad verhuis het. Die verhuising was egter nie ’n volslae breuk met hul plattelandse verlede nie, aangesien die huis eers in 1925 verkoop is en hul pa, Bismarck von Moltke Louw, steeds ’n vennoot in die prokureursfirma op die dorp was en die kinders etlike jare lank vir vakansies sou terugkeer na die familie in die distrik of in die naburige Calvinia-distrik. In 1930 het W.E.G. Louw aan SACS gematrikuleer; hy het twee onderskeidings behaal en daarmee ’n studiebeurs verwerf.
Op hoërskool het hy reeds op die redaksie van die skooltydskrif, waarin sy eerste gedigte verskyn het, gedien. Daarby het hy ook op die komitee van die Literary and Debating Society gedien. In hierdie tyd het hy musieklesse by ’n Duitse dame ontvang; dit het sy belangstelling in ander aspekte van Wes-Europese kultuur geprikkel. Hy het skoolvakansies gewoonlik op sy oupa Van Wyk se plaas Gunsfontein naby Sutherland deurgebring.
In 1931 het hy aan die Universiteit van Kaapstad begin studeer en die BA- en MA-grade onderskeidelik in 1933 en 1934 verwerf met ’n studie van die poësie van die Nederlandse digter J.H. Leopold. Van die begin van 1931 af het N.P. van Wyk Louw vir hom privaat lesse in Duits gegee. Hierdie kontak het die verhouding tussen die twee broers, wat sewe jaar uitmekaar was, verstewig. Weens die groot ouderdomsverskil was hul verhouding op daardie stadium nog oppervlakkig. Hy het die gedigte wat hy toe reeds geskryf het, aan sy broer en ’n paar intieme vriende gewys, en hulle het hom aangemoedig om dit te laat publiseer. Vergesel van ’n paar vriende het hy die gedigte aan prof. F.E.J. Malherbe voorgelees maar dit was ’n ongelukkige ontmoeting. In ’n latere brief aan Malherbe het Louw die redes hiervoor gegee; naamlik hul vreemdheid vir mekaar, die teenwoordigheid van ander, sy eie smaaklose lees van die verse en Malherbe se moedigheid en prikkelbaarheid.
Tydens die ontmoeting het Malherbe ’n paar opmerkings gemaak wat Louw as onvanpas en sonder werklike insig beskou het. Dit het Louw laat besluit om nie deur ’n uitgewer te werk nie, maar eerder self sy gedigte te laat publiseer. Só het Die ryke dwaas, wat in 1935 met die Hetzogprys bekroon is en amptelik die Dertiger-beweging in die poësie ingelui het, verskyn. Malherbe het ’n afskrif van die bundel in die hande gekry en uit die bloute ’n waarderingsbrief aan Louw geskryf waarin hy gesê het hoedat hy die bundel geniet het. Daarby het hy ’n waarderende resensie oor die bundel in Die Huisgenoot laat publiseer. In later jare was daar egter ’n breuk tussen Louw en Malherbe nadat dit in getuienis vervat in Dokumente van Dertig deur J.C. Kannemeyer duidelik geword het dat Malherbe se optredes van onegtheid, ’n gebrek aan insig en die soeke na eie voordeel gespreek het. Nadat Gerrit Dekker, ’n vername meningsvormer van letterkunde in daardie tyd, ook ’n gunstige resensie geskryf het, is die sukses van die bundel verseker.
Tydens sy studentejare was Louw aktief betrokke by die Afrikaanse Nasionale Studentebond en in sy vroeë studentejare was hy in verhouding met Hettie Smit, wat weerklank gevind het in haar boek Sy kom met die sekelmaan, betrokke. Hy het die Afrikaanse joernalis F.J. le Roux, die eerste redakteur van die tydskrif Sarie en later die hoof van die dramadepartement aan die Universiteit Stellenbosch, goed leer ken. Hy het ook ’n belangrike aandeel gehad aan die stigting van die Vereniging van die Vrye boek in 1936, wat hom ten doel gestel het om die aandag op nuwe poësie te vestig en sy broer se Alleenspraak gepubliseer te kry. As student het hy uitgeblink en die J.H. Hidding-beurs van die Universiteit van Kaapstad asook die Queen Victoria Memorial Scholarship vir studie in die Verenigde Koninkryk verwerf. Gedurende 1935 was hy ’n tyd lank waarnemende lektor in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad. Teen die einde van 1935 het hy na Nederland vertrek om aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam te studeer. In 1939 het hy sy doktorale eksamen (Drs. Litt) onder leiding van N.A. Donkersloot en A.A. Verdenius voltooi. Hy het ook Kunsgeskiedenis as byvak geneem.
Deur kritiese beskouing en toesprake het hy die jonger Afrikaanse poësie aan die Nederlanders bekendgestel en in 1939 ’n bestekopname van die jongste Afrikaanse digkuns in De nieuwere Afrikaanse poëzie geplaas. Hy het ook ’n bydrae, “Vernuwing in die Afrikaanse poësie”, gelewer tot J. Haantjes se Kroniek van Zuid-Afrika, wat in 1938 verskyn het. Gedurende sy tyd in Nederland het hy gereeld konserte, museums en toneelopvoerings besoek en tydens vakansies het hy na ander dele van Wes-Europa gereis. In die Duitse stad München het hy ’n intensiewe studie gemaak van Rembrandt se skilderye in opdrag van Frederik Hendrik oor die lyding en sterwe van Christus. Dit sou later lei tot sy reeks sonnette “Die passie van ons Heer”, wat in Adam en ander gedigte opgeneem is. In November 1939, twee maande nadat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het hy na Suid-Afrika teruggekeer en in 1942 sy PhD behaal nadat hy met sy proefskrif oor “Die invloed van Gorter op Leopold: ’n bydrae tot die studie van die sensitivisme”, gepromoveer het. Hierdie proefskrif is later gepubliseer.
Saam met D.B. Bosman, N.P. van Wyk Louw en Jan Greshoff het hy in 1940 die bloemlesing Tussen die engtes saamgestel met die doel om die Nederlandse skrywers teen Duitse besetting te beskerm. Die geld wat hierdeur ingesamel is, het hulle in staat gestel om A. Roland Holst en J.C. Bloem op besoeke na Suid-Afrika te bring. Daarna het hy van September 1941 ’n tyd lank by die Reddingsdaadbond in Johannesburg gewerk. Hierdie organisasie is gestig om op ekonomiese en kulturele gebied hulp te verleen aan Afrikaners wat weens die droogte en depressiejare verarm is. Hy het ’n betrekking by Die Burger probeer kry, maar die bevinding was dat hy te goed gekwalifiseerd is vir die joernalistiek. In 1942 het hy aansoek gedoen om die pos as hoogleraar aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, ’n posisie wat vakant geword het na die aftrede van D.F. Malherbe. Hoewel die senaat hom as die enigste kandidaat aanbeveel het, het die Raad ’n ander kandidaat aangestel. Hulle het blykbaar aanstoot geneem weens “politieke” verse in sy bundel Terugtog, veral die Renegaat-sonnette wat as ’n toespeling op genl. J.B.M. Hertzog beskou is.
Aan die begin van 1944 is hy aangestel as hoogleraar aan die Rhodes-Universiteit in Grahamstad. In dieselfde jaar is hy in Melville in Johannesburg getroud met die komponis Rosa Sophia Cornelia Nepgen, wat van Barkly-Oos afkomstig was. Twee seuns, Johannes en Paul, is uit dié huwelik gebore. Saam met N.P. van Wyk Louw en H.A. Mulder het hy die onafhanklike blad Standpunte gestig en geruime tyd as redaksiesekretaris van die blad opgetree. Aan die einde van 1948 het hy op ’n oorsese reis van ses maande vertrek. Op Grahamstad het hy ’n rol in die klein Afrikaanse gemeenskap gespeel en in 1956 was hy die dryfkrag agter die stigting van die Afrikaansmedium-skool Hoërskool P.J. Olivier. Toe die koshuis van die skool later gebou is, het dit die naam Huis W.E.G. Louw gedra. Deur sy bemiddeling het die Vlaamse letterkundige Rob Antonissen in 1951 na Suid-Afrika gekom; hy is later as dosent aan Rhodes-universiteit aangestel en hy het Louw as hoogleraar opgevolg toe Louw die professoraat in 1957 laat vaar het.
In 1957 het Louw na Oranjezicht in Kaapstad verhuis en tot Desember 1966 was hy kunsredakteur van Die Burger. In hierdie hoedanigheid het hy gereeld artikels oor musiek en skilderkuns gelewer en resensies oor toneelstukke, letterkundige werke en rolprente geskryf. Daarby het hy weekliks ’n kort essay geskryf wat in die hoofartikelblad van die koerant geplaas is. Hy het die lesers se belangstelling in die letterkunde geprikkel deur verskeie artikels en reekse te skryf en te redigeer; onder meer Omgang met die poësie wat op 19 Mei 1959 gepubliseer is, asook Die euwel van die voorgeskrewe boek. Hy het ook bylaes van kulturele aard geredigeer, soos “Die wonder van Afrikaans” wat op 16 April 1959 in Die Burger, Die Oosterlig en Die Volksblad verskyn het en bydraes van M.E.R., N.P. van Wyk Louw, Boerneef en D.J. Opperman bevat het.
Van Januarie 1967 tot die einde 1978 was hy professor in Nederlandse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch; hy het W.J. du P. Erlank (Eitemal) in hierdie hoedanigheid opgevolg terwyl hy in 1979 ’n besoekende professor aan die Universiteit van Kaapstad was. Hy het steeds voortgegaan om gereeld toneelresensies vir Die Burger te skryf. In hierdie tyd het hy eers in ’n huis op Stellenbosch gewoon en later het hy hom gevestig op ’n plasie tussen wingerde en olyfbome wat hy Sondraai genoem het, langs die Strand-pad naby Stellenbosch.
Tussen 1948 en 1973 het hy ses oorsese besoeke afgelê en feitlik elke Wes-Europese land besoek vir studie, as afgevaardigde van genootskappe of om lesings ingevolge kultuurverdrae aan te bied. Hy het in 1954 besoek aan sy broer in Amsterdam, waar hy vier maande vertoef het, gebring. Hier het hy navorsing oor Marthinus Nijhoff se literatuuropvattings gedoen en enkele lesings aan die Universiteit van Amsterdam oor “Prosodie: die wetenskap van die ritmiek”, gegee.
Hy het hom op kultuurgebied uitgeleef en sedert 1944 was hy lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Van 1960 af was hy lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde en sedert 1954 was hy erelid van die Friese Akademie en lid van die Afrikaanse Skrywersvereniging. Van 1955 tot 1968 het hy gedien op die uitvoerende komitee van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge , asook die beheerrade van die S.A. Kultuurhistoriese Museum en die Nasionale Kunsmuseum. Hy was van 1958 tot 1966 raadslid van die Universiteit van Kaapstad. Tot met sy dood was hy letterkundige adviseur van die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling, toneelkritikus van Die Burger en direkteur van die Historiese Huise van Suid-Afrika Beperk. Hy was ’n oortuigde Calvinis en het by herhaling as ouderling gedien.
Hy is op 24 April 1980 in die ouderdom van 66 jaar op sy kleinhoewe aan ’n hartaanval oorlede. Sy as is later herbegrawe by die huis in Jubileestraat op Sutherland, waar hy grootgeword het. Die huis is later tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Sy vrou is in 2000 oorlede.
Daantjie Badenhorst
