VIRGINIA LEE (1927-1990)

Gedurende die 1950’s en 1960’s het een kunstenaar kop en skouers bo die res uitgestaan en ‘n legende in die plaaslike musiekbedryf geword.

Virginia Lee is op 27 Junie 1927 in Port Elizabeth gebore en het op ’n jong ouderdom begin sing toe sy aan ’n talentkompetisie in Johannesburg deelgeneem het. Sy het die orkesleier Johnny Lee ontmoet toe sy by dansklubs opgetree het, en in 1948 is hulle getroud. Hulle is egter nege jaar later uitmekaar.

Sy het haar in 1957 in Johannesburg gevestig en as sangeres in Dan Hill se orkes opgetree. Sy het saam met Dan se vrou plaatopnames begin maak, en as die Sonskynsusters bekendgestaan. Daarna het haar eerste Afrikaanse langspeelplaat met “Ek sal jou nooit vergeet nie” as treffersnit verskyn. Nog ’n Afrikaanse snit waarmee sy groot sukses behaal het, was “Tien duisend myl”. In 1960 het sy Afrikaanse woorde vir Petula Clark se treffer “Sailor” geskryf; die gevolg was “Seeman”, wat sy ook in Afrikaans opgeneem het. Dié snit het egter eers ’n groot treffer geword nadat Gé Korsten dit in 1968 as titelsnit van sy destydse langspeelplaat opgeneem het. Toevallig het Petula Clark se opname tot Springbok Radio se Top 20 toegetree nadat Gé se opname vrygestel is.

In 1965 het Virginia groot sukses behaal, veral met haar langspeelplaat Vaarwel my lief: ek sal jou nooit vergeet nie. Onder die snitte op hierdie album was ’n Afrikaanse weergawe van “Goodbye my love”, wat Virginia ook in Engels opgeneem het, “Die heidelied”, wat later ’n treffer vir Gé Korsten en Min Shaw geword het toe hulle dit in die rolprent Hoor my lied gesing het, “O Boereplaas”, die bekende Danie Bosman-komposisie “Boereseun” en “Ek sal jou nooit vergeet nie”. Haar opname van “Cu cu ru cu cu paloma” het dadelik gewild geword, en sy het die Sarie-toekenning as beste Afrikaanse sangeres gewen. Virginia het nog ’n Afrikaanse album in 1965 vrygestel; Boerenooientjie het gewilde treffers soos “Jy is my liefling”, “In die skadu van ou Tafelberg”, “Die swaeltjie” en “Die ou Kalahari” bevat.

Sy het ook ’n landwye toer saam met Slim Whitman onderneem en toe die heel eerste Suid-Afrikaanse Top 20 op 4 Junie 1965 uitgesaai is, was hulle in die sewentiende plek met “Tennesse yodel polka”, wat tot by die agtste plek gevorder het en sewe weke op die trefferslys gebly het. Op 17 September daardie jaar het haar weergawe van “Goodbye my love”, met die oorspronklike kunstenaar Murray Campbell op trompet, toegetree en nege weke op die trefferslys gebly nadat dit die tiende plek gehaal het. Murray se weergawe was in daardie tyd in die eerste plek. Die volgende jaar het sy hierdie sukses opgevolg met haar grootste solotreffer waarvan daar ’n rekord op die trefferslys bestaan; “Darling it’s wonderful” het die derde plek behaal nadat dit op 6 Mei 1966 toegetree het en nege weke lank op die trefferslys gebly het. Dit was die titelsnit van die album wat ook snitte soos “My last date”, “Green grow the lilacs”, “Listen to the ocean” en selfs die Rolling Stones-treffer “As tears go by” bevat het. “Lonely river” het in dieselfde jaar ’n treffer geword; dit het die tiende plek gehaal en sewe weke op die Top 20 gebly. Weer eens was dit die titelsnit van een van haar albums; ander treffers wat hierop voorgekom het, was “Spanish eyes”, “The click song” en die temaliedjie uit die rolprent Dr. Zhivago, “Somewhere my love”, wat destyds ’n reusetreffer was.

In 1967 het twee verdere, maar minder suksesvolle treffers gevolg. “Spanish nights and you” en “Wish me a rainbow” het elk net twee weke op Springbok Radio se Top 20 gebly en onderskeidelik die sewentiende en agttiende plek gehaal. Hoewel dit die einde van haar loopbaan as Top 20-kunstenaar was, het sy verdere sukses , veral as Afrikaanse kunstenaar, behaal en in 1969 het sy nog twee Sarie-toekennings gewen. Sy het altesaam sewe goue plate verwerf; dit was destyds ’n rekord. Met haar album Internationallee yours het sy ook bewys dat sy in ander tale as Afrikaans en Engels kon sing. Toe die Afrikaanse rolprent Vir die voëls vrygestel is, is die titelsnit van haar album “Twee witte deifies” by die klankbaan ingesluit.

Die bekende country-sanger Clive Bruce is Virginia se stiefseun en hy het sy eerste treffersnit “Sally Sunshine” op sy stiefma se aandrang opgeneem. Sy het in 1977 besluit om die musiekbedryf vaarwel toe te roep, maar sy het die sangeres Cora-Marie se verhoognaam vir haar gegee. Die rede vir haar besluit om op te hou sing, was dat sy wegbeweeg het van Afrikaanse en country-musiek en haar op kabaret, met ’n uiters beperkte teikengehoor, toegespits het en die gehalte van haar opnames afgeneem het. Sy het egter saam met Cora-Marie opgetree op die album Goue treffers herleef, waarop hulle “Tien duisend myl” saamgesing het. Hoewel Clive Bruce haar probeer oorreed het om weer te begin sing en op sy musiekprogram Sing country op te tree, het sy geweier. In 1986 is borskanker by haar gediagnoseer en sy het haar aan die openbare lewe onttrek. Sy is op 7 Januarie 1990 in die ouderdom van 62 jaar oorlede. In 1994 is ’n volledige versameling van haar musiek getiteld Remember me op CD uitgereik.

Daantjie Badenhorst