ALITA STEENKAMP (1964-2024)

Die vryskutskrywer en joernalis Alita Steenkamp is op 2 Mei 2024 in die ouderdom van 60 jaar aan ovariële kanker oorlede.

Haar dood het gekom slegs twee dae nadat haar ma, Petro Steenkamp, begrawe is. Sy was dertien jaar lank getroud met De Wet Potgieter, ’n joernalis en skrywer wat op Kaapsehoop in die Laeveld van Mpumalanga woon. Volgens Potgieter het sy die afgelope tyd baie swaargekry weens haar kankerbehandeling en sy het ongeveer 40 kg verloor. Sy het ’n operasie ondergaan en chemoterapie ontvang. Sy het die Sondag voor haar dood binne-aarse voeding by ’n hospitaal in Pretoria gekry. Sy het egter daarop aangedring om die begrafnis van haar 87-jarige ma by te woon. Volgens Potgieter sal Steenkamp se laaste rusplek by Kaapsehoop wees, “tussen die perde waarvoor sy so lief was.”

Ondanks haar siekte het sy steeds vir afrikaans.com gewerk en onlangs nog gesê dat sy nie geld sou verdien as sy nie gewerk het nie. Sy wou Potgieter se jongste boek, wat nog nie ’n titel het nie, proeflees en volgens Potgieter het die feit dat sy nie daarby uitgekom het nie, haar gepla. Potgieter het haar as die inspirasie in sy lewe beskou en sy het sy mees onlangse boek, Kruisvuur, geproeflees. Sy het hom ook altyd laat weet as daar spelfoute in sy Facebook-plasings was.

Sy was goed bevriend met die skrywer en joernalis Dana Snyman, wat deesdae ook op Kaapsehoop woon, en hy en sy vriendin Nita Cronjé was die aand voor haar dood by haar. Volgens Snyman het sy geen vyande gehad nie; sy was lief vir honde, perde en tuinmaak en Snyman onthou haar as ’n goeie en sagte mens.

In haar loopbaan van twee dekades het sy vir verskeie publikasies gewerk en sy was die spookskrywer van baie bekendes se boeke, onder meer Mathys Roets se outobiografie, Steeds Mathys. As vryskutjoernalis het sy ook vir publikasies soos Maroela Media, Lig en Rooi Rose geskryf. Sy het ook talle artikels vir die FAK se aanlyn tydskrif Flink geskryf.

Sy was saam met haar man die mede-eienaar van die Nagkantoor-kuierkroeg op Kaapsehoop waar veral huidige en voormalige joernaliste bymekaarkom om gesellig te verkeer.

Benewens haar eggenoot word sy oorleef deur haar 87-jarige pa Cas Steenkamp en twee dogters.

Daantjie Badenhorst