EBEN HUMAN (1950-2024)
Die bekende voormalige joernalis van Die Burger, Eben Human, is op 2 Mei 2024 in die ouderdom van 74 jaar oorlede.
Ebenhaeser Thomas Human was sedert 1975 deel van Die Burger se redaksie en het in 2015 afgetree, waarna hy hom op reis- en natuurfotografie toegespits het. Hy het die oggend van sy dood sy daaglikse lengtes in die swembad by Seepunt in Kaapstad geswem, en nadat hy uitgeklim het, het hy op ’n bankie gesit toe hy skielik vooroor geval het. Die personeel van die swembad het vergeefs probeer om hom by te bring.
Volgens sy suster, Hanna Joubert, was hy ten tyde van sy dood die fiksste wat hy tot nog toe was. Willem Jordaan, die redakteur van Die Burger, het Human as ’n vriend beskou. Volgens Jordaan was Human ’n vaardige en passievolle joernalis wat selfs na sy aftrede ’n ware ambassadeur van die koerant gebly het. Jordaan het gesê Human het die koerant steeds met sy puik foto’s en wonderlike stories oor die omgewing verryk.
Human was in sy studentejare ’n kranige middelafstandatleet en volgens Herbert Pretorius, die sportredakteur van Die Burger, het hy ’n breë kennis van atletiek gehad. Hy het in die 1970’s navorsing gedoen oor die hardloopvermoëns van die San-jagters in die Kalahari. Daarby het hy ’n passie vir seiljagvaart gehad en verslag gedoen oor Bertie Reed en John Martin se prestasies in internasionale alleenwedvaarte. Hy het ook berig oor die Suid-Afrikaanse seiljag Shosholoza, wat geskiedenis gemaak het deur aan die America’s Cup-regatta deel te neem.
Later in sy lewe het hy sy passie vir die natuur en die buitelewe met sy werk gekombineer toe hy die redakteur van die bylae BuiteBurger was. Pretorius het gesê dat Human ná sy aftrede gereeld van hom laat hoor het, en die kollig geskyn het op geskiedkundige Kaapse sportbyeenkomste soos die jaarlikse fietswedren wat op Tweede Kersdag in die Paarl aangebied word.
Reis en fotografie was veral tien jaar lank vir hom ’n passie; hy was gereeld in die Kalahari of iewers anders waar hy diere en voëls afgeneem het en hy het altyd geesdriftig oor sy foto’s gesels.
Human word oorleef deur sy vrou, Lucille, en twee dogters, Christina en Karen.
Daantjie Badenhorst
