DOUW STEYN (1952-2025)

Douw Steyn was ’n Suid-Afrikaanse miljardêr-sakeman wat ook bande met die Suid-Afrikaanse politiek gehad het.

Douw Gerbrand Steyn is op 19 Desember 1952 in Johannesburg gebore en het aan die Hoërskool Linden gematrikuleer. In 1978 het hy sy baccalareusgraad aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Onderwys (deesdae die Noordwes-Universiteit) behaal.

Hy het sy loopbaan as bourekenaar by Eskom se hoofkantoor in Megawattpark begin en daarna die BGL-groep, wat in 1992 as die Budget Insurance Company gestig is, op die been gebring. In 2015 het hy die eksklusiewe landgoed Steyn City op ’n perseel van 900 hektaar tussen Fourways en Lanseria in Johannesburg ontwikkel. Die projek het aanvanklik ’n belegging van R6,5 miljard getrek, met ’n verdere R5,5 miljard wat in 2019 belê is.

Hy het bande met die Suid-Afrikaanse politiek gehad nadat hy oudpresident Nelson Mandela by die Saxon Hotel, Villas en Spa gehuisves het nadat Mandela uit die gevangenis vrygelaat is. Hier het Mandela sy outobiografie, Long walk to freedom, voltooi. Mandela het Steyn glo as ’n seun beskou en hom gedurig vaderlike raad gegee. Steyn het Mandela aangehaal as sou hy gesê het dat Steyn een van Suid-Afrika se suksesvolste entrepreneurs was en Suid-Afrika met sy sakevaardighede verryk het. Steyn het Suid-Afrika, volgens Mandela, as ’n land van geleenthede beskou. In April 2020 het hy R320 miljoen belowe om Suid-Afrika se koronavirusverligtingsprogram by te staan deur die Douw Steyn-familietrust asook die maatskappye wat hy gestig het.

Hy was verantwoordelik vir die rewolusie van die versekeringslandskap en het onder meer die versekeringsmaatskappy Auto & General gestig.

Van 2005 tot 2009 was hy in ’n verhouding met Donné Botha betrokke en op grond van ’n uitspattige seremonie wat in 2007 in Londen plaasgevind het, het Botha beweer dat hulle getroud was en ’n wettige bod vir die helfte van Steyn se boedel begin. Die hooggeregshof in Durban het beslis dat hulle nooit getroud was nie en dat ’n bestraffende kostebevel teen Botha geregverdig was. Hy is in Februarie 2013 met Carolyn Steyn getroud.

Steyn is op 4 Februarie 2025 in die ouderdom van 72 jaar oorlede.

Daantjie Badenhorst