MICHELLE BOTES (1962-2024)
Michelle Botes was ’n Suid-Afrikaanse aktrise wat in verskeie rolprente en televisiereekse te sien was.
Sy is op 12 Oktober 1962 in Kaapstad gebore en nadat sy gematrikuleer het, het sy ’n BA-graad in spraak en drama aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Daarna het sy ’n onderwysdiploma aan die Universiteit van Kaapstad behaal.
Haar eerste werk as aktrise was toe sy deur die Kaap getoer het en literatuur aangebied het deur Liberty Tours. Haar eerste televisierol was in Die swart kat, waarin sy die rol van Rienie Veldt, die hoofkarakter se ouer suster vertolk het. Sy het egter bekendheid verwerf toe sy die rol van Princess in Paul C. Venter se reeks Arende vertolk het. Dit was juis op die stel van hierdie reeks wat sy en Ian Roberts, wat die rol van Sloet Steenkamp vertolk het, ontmoet het. Hulle is in 1989 getroud.
Michelle se volgende televisierol was in Triptiek, toe sy die rol van Bibi Brinkman vertolk het. In die dramareeks Konings het sy die rol van Santie Roodt, wat met Albert Maritz se karakter Herman Roodt getroud was, vertolk. Nog ’n rol waarvoor sy bekendheid verwerf het, was dié van Kietie Bosman in Onder draai die duiwel rond. Toe die SABC 3-sepie Isidingo in 1998 ontstaan het, het sy die rol van die gehate feeks Cherel de Villiers vertolk. Sy het hierdie rol as uitputtend beskryf en was mettertyd uitgebrand. Sy het die sepie in 2007 verlaat om by die rolverdeling van Binnelanders aan te sluit. Haar karakter, Ingrid Jordaan, was ’n sterk maar saggeaarde vrou wat kans gesien het om Hans Strydom se karakter, At Koster, “mak te maak”. In die sepie was sy ’n tyd lank met hom getroud. Sy het in 2010 na Isidingo teruggekeer en in 2019 was sy weer in Binnelanders te sien. Die volgende jaar het sy die rol van Angelique Price in die telenovelle Legacy vertolk.
Sy het in 2006 twee Avanti-toekennings gewen, naamlik dié van beste aktrise en beste skurk op televisie. Sy is in 2006, 2007 en 2012 vir ’n SAFTA-toekenning as beste televisieaktrise benoem.
Twee jaar gelede is gevorderde veelvuldige myeloom by haar gediagnoseer. Dit is ’n ongeneeslike en seldsame bloedkanker wat ’n uitwerking op die beenmurg het. Sy is aanvanklik met chemoterapie en steroïede behandel, maar sy wou nie met die behandeling voortgaan nie. In Oktober 2024 het dokters haar drie maande gegee om te lewe nadat haar kankertelling gestyg het. Sy het ’n maand later meer holistiese en minder ingrypende behandeling ontvang maar vinnig verswak.
Michelle is op 21 Desember 2024 in die ouderdom van 62 jaar oorlede. Hoewel sy net tien jaar lank met Ian Roberts getroud was, het hulle vriende gebly. Sy word deur ’n seun en ’n dogter oorleef.
Daantjie Badenhorst