JOHAN OBERHOLZER (1983-2025)
Johan Oberholzer was ’n Afrikaanse liedjieskrywer en een helfte van die sangpaar Hulle.
Johan is in Walvisbaai in Namibië gebore en sy musiekloopbaan het begin toe hy gereeld by skole en talentkompetisies opgetree het. Hy en Wilmari Rautenbach, wat ook in Walvisbaai gebore is, het in 2003 goeie vriende geword nadat albei van oorsee af teruggekeer het en besluit om saam musiek te maak.
Hul eerste album is in 2011 vrygestel en veral “Laaste asem”, “Bordkryt graffiti” en “In my gatsak” het groot treffers geword. Nadat hulle hul eie rigtings ingeslaan het, het Johan hom as liedjieskrywer en musiekvervaardiger gevestig.
Een van sy eerste treffers wat hy geskryf het, was die titelsnit van Nadine se album Skildery, wat in 2014 uitgereik is. Nog ’n snit vanaf die album wat gewild geword het, was “Tyd”. Omtrent dieselfde tyd het nog een van sy komposisies, “My alles”, vanaf Bobby van Jaarsveld se album Maak ’n wens, verskyn en self ’n groot treffer geword.
Hy was op daardie stadium een van Coleske Artists se mees produktiewe liedjieskrywers en gedurende sy loopbaan het meer as veertig liedjies uit sy pen verskyn. Met die eerste reeks van Die kontrak was hy verantwoordelik vir die titelsnit van die wenner, Demi-Lee Moore, se eerste album, Mis eet slaap herhaal. Toe die sangeres Tarryn Lamb, wat deel is van die groep Blackbyrd, haar eerste album opgeneem het, het Johan die titelsnit “Mal oor jou”, asook “Vier woorde”, vir haar geskryf. Twee van sy ander komposisies vanaf hierdie album wat treffers geword het, was “Kalm voor die storm” en “Afgrond”.
Hoewel Dodo Nyoka nie in Suid-Afrika gebore is nie, het hy in Afrikaans begin sing, en Johan het sy groot treffers, naamlik “Foto’s” en “Frikkie vir ’n rukkie” vir hom geskryf. Demi-Lee Moore se tweede album het Johan se komposisies “Maak my jou tequila”, “Kan jou nie my maak liefhê” en “Dalk is liefde te min” bevat.
Die wenner van die tweede seisoen van Die kontrak was Samantha Leonard, wat vroeër jare lid van die sangpaar Glanz was. Johan het haar gehelp om haarself as solokunstenaar te vestig deur liedjies soos “Totaal en al”, “Gereed om weer seer te kry” en “Om jou te vergeet” te skryf. Die eerste enkelsnit van Chris Steyn, die derde wenner van die kontrak, was nog een van Johan se komposisies, naamlik “Helemaal”, wat ’n baie groot treffer geword het.
Seker sy mees omstrede komposisie het die einde van een van Suid-Afrika se musiektoekennings beteken. Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld, Ruhan du Toit en Jay du Plessis het saamgespan om Johan se komposisie “Die land” te sing, en dit het dadelik ’n groot treffer geword. Nadat dit vir ’n Ghoema-toekenning benoem is, het die beoordelaars die liedjie gediskwalifiseer omdat Steve daarop gesing het. Dit het gemaak dat die toekenningsgeleentheid van 2019 geboikot is; daarby het dit die einde van die Ghoema-toekennings beteken. Die Aitsa-toekennings is in die plek daarvan ingestel. Toe Ruhan du Toit ’n sololoopbaan begin volg het, het Johan vir hom twee liedjies geskryf, naamlik “Skuldig” en “Hartseer”, wat Ruhan saam met Monique Steyn gesing het.
Toe Laurika Rauch materiaal vir haar laaste mini-album bymekaargemaak het, was Johan se komposisie, “Nog voor ek jou geken het”, een van die liedjies wat sy gekies het. Hy het gesê dat hy dit met Laurika se stem in gedagte geskryf het. Die liedjie is omtrent ’n week voor die album vrygestel en dit het dadelik ’n baie groot treffer geword.
Johan is op 1 Februarie 2025 in die ouderdom van 42 jaar aan natuurlike oorsake oorlede.
Daantjie Badenhorst