JOHANN DE LANGE (1959-2025)
Johann de Lange was ’n Suid-Afrikaanse digter, kritikus en skrywer van kortverhale.
Daniël Johannes de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore. Omdat sy pa ’n boukontrakteur was wat dikwels verhuis het, het hy verskeie laerskole bygewoon, maar hy was sy hele hoërskoolloopbaan lank ’n leerder aan die Hoërskool Hans Strijdom op Naboomspruit. Hy was in daardie tyd ’n inwoner van die Sekelbos-seunskoshuis en het in 1977 gematrikuleer. In sy matriekjaar het hy ’n toekenning vir die beste prestasie in Engels gewen. In 1978 het hy aan die Universiteit van Pretoria (UP) begin studeer; hy het eers vir ’n BSc-graad ingeskryf maar nadat hy besef het dat sy belangstelling eerder in letterkunde gelê het, het hy na ’n BA-graad toe oorgeskakel. Hy het op daardie stadium as Daniël de Lange bekendgestaan maar tydens sy studentejare het hy homself na Johann herbenoem. Dit was om verwarring met sy neef Daniël de Lange, wat terselfdertyd op universiteit was, uit te skakel. Tydens die tweede jaar van sy BA-studies het hy persoonlike probleme ondervind en aan kwaai depressie gely. Hy het sy studies gestaak en in 1980 ’n betrekking by Volkskas Bank aanvaar, waarna hy by ’n boekhandelaar in Pretoria aangesluit het. Van 1982 af het hy periodiek boekresensies vir Die Vaderland behartig.
Kort nadat sy debuutdigbundel in 1982 verskyn het, het hy ’n uitnodiging om lid van die Afrikaanse Skrywersgilde te word, aanvaar. Hy het wel later verder gestudeer; hierdie keer aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) en daarna ’n paar jaar lank ’n kursus in kreatiewe skryfwerk by UNISA se Instituut vir Voortgesette Opleiding aangebied. Hy was by geleentheid ook betrokke by die aanbied van ’n poësiewerkswinkel by die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (vandag die Noordwes-Universiteit). Daarna het hy na Kaapstad verhuis en in diens van die boekhandelgroep Exclusive Books getree. Hy het ook twee jaar lank ’n poësiewerkswinkel by die Universiteit van Kaapstad aangebied. In hierdie tyd het hy noue kontak met Sheila Cussons, wat hom van raad met sy digkuns bedien het, gehad. In die 1980’s het hy New York besoek; dit het hom as skrywer gemotiveer aangesien hy gevoel het dat dié stad elke emosie verhoog het. Hy het vanaf ongeveer 1988 met die rave-toneel en die gebruik van dwelms geëksperimenteer om sy skryfwerk te stimuleer, maar later het hy hierdie kompulsie afgelê. Hy het in Durbanville naby Kaapstad gaan woon.
Toe hy in standerd 4 (vandag graad 6) was, het die radio-omroeper Frik Pieterse hom aangemoedig om verse te skryf, en toe hy in standerd 8 (vandag graad 10) ’n tikmasjien gekry het, het hy hierdie belangstelling hervat. Tydens sy studentejare was hy ’n stigterslid van die literêre tydskrif Ensovoort en in 1979 was hy lid van die UP se letterkundekring. Sommige van sy gedigte en verhale is in hierdie kring se tydskrif Vlieg gepubliseer. Die derde uitgawe van hierdie tydskrif is egter verbied as gevolg van sy kortverhaal, “Die seduksie” en Koos Prinsloo se verhaal “Skrot”. Die hele redaksie, waaronder Koos Prinsloo en Hans Pienaar moes voor ’n interne tugkomitee verskyn. Hulle almal het ’n opgeskorte vonnis ontvang en hy is verbied om verder op die redaksie van enige universiteitspublikasie te dien. Dit was in hierdie tyd wat hy besef het hoe swak sy gedigte was. In 1980 het hy gedigte aan André P. Brink, by wie hy waardevolle leiding en aanmoediging ontvang het, gestuur. Later dieselfde jaar het sy verse in Standpunte, Spado, Ensovoort, The bloody horse en Graffier verskyn. Sy verse het vernuwing in Afrikaans gebring, veral weens die eksplisiete homoërotiese aard daarvan en sy verkenning van terloopse seksuele ontmoetings in die vigs-era. Ander belangrike temas in sy werk was kultusfigure en ikone soos die akteur James Dean, Kurt Cobain, wat die hoofsanger van die rock-groep Nirvana was, asook Afrikaanse letterkundige legendes soos C. Louis Leipoldt en Ingrid Jonker.
Hy het in 1982, op 23-jarige ouderdom, sy debuut as digter met die bundel Akwarelle van die dors gemaak en het die Ingrid Jonker-prys daarvoor gewen. Met hierdie digbundel het hy reeds met die oopskryf van die homoseksuele vers begin en daar was veral ’n volgehoue uitreiking na die ander persoon te bespeur. Die verganklike en die dood was ook deurlopende temas. Sy laaste digbundel, Miniatuur, het in 2024 by Naledi-uitgewers verskyn.
In die vroeë 1980’s was hy van plan om ’n drama oor Ingrid Jonker te skryf. Hierin het hy groot prominensie verleen aan die bespiegeling dat sy nie verdrink het of selfmoord gepleeg het nie, maar dat ’n geliefde haar vermoor het. Hy het egter van die plan afgesien weens druk van haar familielede, vriende en medeskrywers. Sy belangstelling in Jonker se lewe het egter gelei tot ’n draaiboek oor haar lewe, wat hy “Verdrinkte hande” genoem het. Hiervoor het hy ’n Avanti-toekenning gewen.
Hy is op 27 Maart 2025 in die ouderdom van 65 jaar oorlede; die oorsaak van sy dood is nie bekendgemaak nie.
Daantjie Badenhorst