PIET VAN WYK DE VRIES (1972-2023)

Die Afrikaanse sanger Piet van Wyk de Vries is in die ouderdom van 51 jaar aan kanker oorlede.

Hy is op 7 Mei 1972 gebore en het aan die Hoërskool Silverton in Pretoria gematrikuleer. Van 1991 tot 1994 was hy verbonde aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Eenheid 19, waarna hy vryskutwerk in die veiligheidsbedryf verrig het.

Hy het sy eerste tree in die musiekbedryf gegee toe hy die hoofsanger van die orkeste Backyard Blues Band, Superfly en Flying Circus was, maar hy het gou besluit om hom eerder op musiekproduksie en ateljeeontwerp toe te spits. In die jaar 2000 het hy die grootste digitale ateljee op daardie stadium vir Sting Musiek ontwerp en gebou. Dit het gelei tot die oprigting van verskeie ander digitale ateljees in Suider-Afrika, onder meer dié van die SABC, asook ander produksiemaatskappye. Hy het die regie van Dozi se eerste Afrikaanse album, Op aanvraag, in sy Pro Tools-gebaseerde ateljee behartig. Voor die tyd het hy saam met kunstenaars soos PJ Powers, Billy Forrest en Lebo Mathosa gewerk en hy was medeverantwoordelik vir die ’n privaat opname van ’n verjaardagliedjie wat die internasionale reggae-sanger Eddy Grant vir sy vrou geskryf het.

Daarna het hy tot die Afrikaanse mark toegetree en aanvanklik die regie van versamelalbums behartig. Hy het egter meer bekendheid verwerf as liedjieskrywer vir onder meer Mathys Roets, wat ’n goeie vriend van hom was en mettertyd niemand anders se liedjies opgeneem het nie. In 2006 was hy die mederegisseur van Dozi se album, Kom ’n bietjie binne, wat sy komposisie “Susanna soen my”, waarop hy ’n agtergrondsanger was, ingesluit het. Die volgende jaar het hy sy debuut as solokunstenaar gemaak toe hy sy eerste album, Die son, die maan en die sterre, wat sy treffer “Madelein Madelein” bevat het, vrygestel het. Sy tweede album, ’n Pyl deur seil met vuur, is die volgende jaar uitgereik.

In 2010 is ’n beperkte oplaag van sy volgende album, Vensterkat maak ’n wens, uitgereik en slegs vriende en familelede het die bekendstellingskonsert in die Pierneef-teater in Pretoria bygewoon. Die album het ’n aantal uiters persoonlike komposisies bevat. In 2011 was hy besig om liedjies vir Mathys Roets se album Rembrandt se meisie in die maan te skryf.

Sy groot deurbraak het in 2012 gekom met die bekendstelling van sy vierde album, Die geheime wêreld van Piet van Wyk de Vries. Dit het nuwe opnames van ouer liedjies, asook ’n aantal splinternuwe komposisies bevat en die bekendstellingskonsert by die Atterbury-teater in Mei daardie jaar is baie goed ontvang. Die kaartjies vir hierdie konsert het gou uitverkoop. Benewens ouer treffers soos “Madelein Madelein” en “Iemand soos jy” het die album komposisies soos “Gert Vlok Nel se treine”, wat ’n treffer vir Mathys Roets was, en “Vliegtuig van papier” bevat. Nog ’n treffer was “Rembrandt”, wat ’n plek in die FAK-liedjietuin gekry het.

EMI Music Pub (SA) het die publikasie van Van Wyk de Vries se musiek behartig en sedert 1997 was dié maatskappy ook verantwoordelik vir die administrasie van sy uitgewery, Triplane Music. In die daaropvolgende jare was EMI op een of ander manier betrokke by die publikasie van al die musiek wat hy geskryf het, maar daar was een uitsondering. In 2011 het PJ Powers sy komposisie, “This life”, opgeneem; Sting Musiek was die uitgewer hiervan. Toe EMI in 2011 deur Sony/BMG oorgeneem is, is die publikasiekontrak met minstens vyf jaar hernieu.

In 2008 het die Suid-Afrikaanse kunstenaar Bess Rheeders sy werk ontdek en ’n aantal werke geïnspireer deur Van Wyk de Vries se lirieke geskilder. Dit is net een keer aan die publiek vertoon en almal, behalwe een wat sy aan hom gegee het, is aan ’n privaat versamelaar verkoop. In 2014 het die Centurion-kunsvereniging ’n uitstalling van werke wat deur Van Wyk de Vries se lirieke, soos gesing deur Mathys Roets, geïnspireer is, aangebied.

In 2023 het dit bekend geword dat kanker in ’n gevorderde stadium by hom gediagnoseer was. Op sy 51ste verjaardag op 7 Mei 2023, het hy vir die laaste keer in die Atterbury-teater, wat hy as sy gunstelingteater beskou het en wat stampvol vir dié vertoning was, opgetree. Op 11 Mei, slegs vier dae na sy verjaardag, is hy oorlede.

Daantjie Badenhorst